FOTO Melanie Maree

Hieroor praat mense

Bertha: ‘Hansie bly deel van my storie’

Op 1 Junie was dit presies 15 jaar gelede dat Hansie Cronjé, eens geliefde en toe gevalle krieketheld, in ’n vliegongeluk oorlede is. Sy vrou, Bertha, is intussen weer getroud, maar hy bly voortleef in haar en haar gesin se onthou …

Daar is nie woorde vir wat gebeur het nie. Niks wat die ongeloof kan beskryf nie. Die fisieke pyn wat haar dubbel laat vou het nie. Die dag vyftien jaar gelede toe die lewe wat sy geken en gekoester het, vir Bertha du Plessis (voorheen Cronjé) ineengetuimel het. Hansie Cronjé, eers Suid-Afrika se liefling en toe uitgeworpene, het op Saterdag 1 Junie 2002 in ’n vliegongeluk in die Outeniqua-berge gesterf. Naby hul huis. En drie maande voor haar dertigste verjaardag. Hulle is op 8 April 1995 getroud.

Nou is dit die tweede hoofstuk in Bertha se lewe. Sy is ’n tuisbly-ma en betrokke by verskeie liefdadigheidsorganisasies wat kinders en volwassenes in die George-omgewing ondersteun. In die gesinswoning waar sy saam met haar tweede man, Jacques, en hul kinders woon, staan sy dikwels stil voor haar herinneringsmuur vol foto’s. “Ek en Hansie het in April 2000 George toe getrek. Dit was ’n groot emosionele skuif. Ons was maar altyd Bloemfonteiners. Maar dit was Hansie se droom. Ons het presies drie nagte in ons nuwe huis gewoon toe die hele wedstrydknoeieryskandaal ons tref.”

Die fotomuur is in die twee jaar voor sy dood begin.

Bertha en Jacques, ’n ouditeur, het mekaar voor die kaasrak in Woolworths ontmoet. Toe hulle op 12 Junie 2004 trou, het Jacques besluit hulle gaan saam verder aan dié muur bou. Hansie is immers deel van Bertha se storie, was sy siening. Intussen het foto’s van hul kinders, Daniel en Jac, onderskeidelik op 25 Maart 2008 en 16 November 2009 gebore, bygekom.

“Wanneer ek na die muur kyk, onthou ek almal het ’n storie. Keer op keer laat dit my besef dit is soms goed om joune vir iemand te vertel, want dan besef jy hoeveel genade daar langs jou pad was en steeds is.

“Hansie was een van Jacques se helde. Hy was dikwels net so hartseer oor sy dood soos ek. Ek waardeer dit so dat hy nooit probeer ‘wedywer’ het met Hansie nie. Hy ken Hansie se ouers en ek is so dankbaar teenoor hom vir sy opregte omgee vir my skoonmense en my lewensverhaal.”

FOTO Verskaf

Sy was op ’n emosionele laagtepunt toe sy Jacques leer ken het. “Almal se lewe het toe al weer aangegaan, maar myne was stukkend. Jacques het ook in Bloemfontein studeer en sy ouer broer en Hansie was goeie vriende. Ek kon met hom oor die goeie ou dae praat, oor my herinneringe, hartseer en bekommernisse. Hy het my geesdrif en lewenslus stadig maar seker weer aangeblaas. En nou, ná ’n getroude lewe van dertien jaar, is my onthou steeds deel van my lewe. Dit bedreig hom nie. Op 1 Junie, Hansie se sterfdag, onthou ons almal saam. Die kinders ken ook my storie, hulle sien die foto’s teen die muur, ‘oom Hansie’ se kriekethelms. Ons almal besef ek het ’n tweede kans gekry – en hulle is deel daarvan.”

Oor haar tweede huwelik sê sy: “Ek en Jacques het destyds ná ons troue ’n huweliksverrykingskursus gedoen en een van die eerste dinge wat jy leer wanneer jy trou, is dit is soos om twee kleure klei te meng. Dit neem ’n rukkie om te knie en druk en trek voor die twee kleure een kleur word … As ek terugdink aan my en Hansie se verhouding, sou ek sekere dinge anders gedoen het, meer vir hom gebid het. Ek leer daagliks meer van die huwelik, maak soveel flops.”

As sy terugdink aan Hansie, glo sy hy sou dankbaar gewees het dat sy weer geluk gevind het. “Nes ek ook vir hom geluk sou wou hê as ek nie meer daar was nie.”

Die volledige storie het in SARIE se Mei 2017-uitgawe verskyn, koop dit hier.