FOTO : Leon-Fritz Riekert / Facebook

FOTO : Leon-Fritz Riekert / Facebook

Hieroor praat mense

Boer Leon-Fritz praat sy hart uit

Hy is terug op sy plaas in die Roedtan-omgewing in Limpopo. Sonder ’n meisie, sonder ’n vrou. Steeds enkellopend tussen sy geliefde beeste. Maar boer Leon-Fritz Riekert is nie spyt nie, want in sy hart wéét hy dit was die regte besluit. Al was dit moeilik.

Die afgelope paar maande kon Suid-Afrikaanse kykers week ná week sien hoe vyf boere ware liefde soek in die gewilde kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ’n vrou. Leon-Fritz was van die begin af een van die gewildste boere. Landwyd het kykers gehoop hy sou aan die einde van die reeks sy liefde vind – ook hy het dit gehoop. En toe hy die oulike Chanté kies, het almal gedink: “Hier is dit, ons eie golden couple.”

FOTO Skermgreep / kykNET

FOTO Skermgreep / kykNET

FOTO Skermgreep:kyknet

FOTO Skermgreep / kykNET

Maar aan die einde van die deelnemers se vakansie op Mosselbaai het Chanté en Leon-Fritz aangedui hulle gaan net vriende wees. Talle kykers was teleurgesteld in hul besluit –trouens, sommige was hoogs ontsteld.

“Ek is bly hy gaan alleen reünie toe want hy verdien nie so oulike girl nie, ek dink daar is net een probleem met hom en dit is hy self,” het een kyker op Boer soek ’n vrou se Facebook-blad geskryf.

“Leon-Fritz, ek is so teleurgesteld in jou, ek glo nie jy weet wat jy wil hê nie,” het nog ’n kyker laat hoor.

“Leon-Fritz soek net ’n model wat perfek is!” het ’n ander dit opgesom.

Hoewel Leon-Fritz die teenreaksie verwag het, is dit vir hom verskriklik dat mense nou in sy karakter begin invaar. Veral oor hy juis “die program met integriteit aangepak het”.

FOTO Instagram / @Minkivdwesthuizen

FOTO Instagram / @Minkivdwesthuizen

Hiermee stem die regisseur van Boer soek ’n vrou, Stephanus Rabie, saam.

“Leon het werklik ingeskryf om sy vrou te vind. Hy’s eintlik nogal ’n romantikus en was regtig die ou wat moeite gedoen het op die vakansie, hy het regtig probeer,” het Stefanus aan SARIE.com gesê.

“Dis regte mense met regte gevoelens. Op kykNET word die program oor drie maande uitgesaai. Maar in werklikheid ken hulle mekaar net so 2-3 weke. Kykers moet perspektief behou.”

SARIE.com het vir Leon-Fritz ’n paar vrae gevra.

Hoe het jou lewe verander sedert Boer soek ’n vrou geëindig het?

In ’n mate het ek ’n groot deel van my privaatheid verloor. Maar ek geniet ook die positiewe gesprekke met ooms en tannies van oraloor die land. Dit lyk of daar tog ’n plek is vir die tradisionele boerseun in ’n gejaagde moderne samelewing. 

Jy het geweldig negatiewe reaksie op die hals gehaal oor jou finale besluit op Boer soek ’n vrou. Het jy dit hoegenaamd verwag of is jy uit die veld geslaan? 

Ek het dit vir seker verwag, maar nooit besef dit gaan so intens wees nie. Kykers bou ’n verwagting op oor die drie maande en hoop vir daai sprokieseinde. In werklikheid is die verfilmingsproses baie korter en deelnemers is eintlik nog vreemdelinge vir mekaar.

Hoe beïnvloed hierdie reaksie jou lewe? Ervaar jy dit op ’n daaglikse basis? 

Vir enige persoon sal dit sleg wees die oomblik as mense begin persoonlik raak en jou karakter begin aanvat. Ek kies eerder om dit te ignoreer en bly eie aan myself en dit waarvoor ek staan.

Dink jy die mense is onredelik en verloor ’n bietjie perspektief? Wat wil jy nou die graagste vir die kykers/aanhangers sê? 

Absoluut, ek dink mense tree emosioneel op en is nie realisties nie. Chanté is ’n ongelooflike en pragtige meisie met die mooiste kwaliteite denkbaar. Dit beteken egter nie as gevolg daarvan moet sy my pasmaat wees nie. Ek sal dit weer sê: Chanté is ’n trouvrou. Sy was net nie my vrou nie.

Wanneer twee mense so sterk in hulle geloof staan en glo, vertrou dat God die regte deur op Sy tyd sal oopmaak, dan baklei jy nie vir gevoelens wat nie daar is nie. Maak nie saak hoe amazing die ander persoon is nie.

Ek was en is nie op soek na ’n vakansieromanse nie. En ek gaan beslis nie ter wille van ander se verwagtinge ’n romantiese atmosfeer of mooi eindstorie probeer skep nie. Ek sal net in die proses myself kul. Kykers sien skaars ’n druppel in die emmer van dit wat werklik op Boer soek ’n vrou afspeel. Beide van ons het die vakansie gebruik om die proses ’n regverdige kans te gee, maar die gevoelens was net nie daar nie. Ek was eerlik met myself en met haar. Mense moet die realiteit daarvan besef.

Hoe bly jy positief tydens hierdie “storm” van teenreaksie en teleurstelling?

Om positief te wees is ’n keuse. Ek was daar en weet hoe dinge verloop het, dit was die regte besluit. Die ondersteuning van my familie, vriende en die gemeenskap is ongelooflik.

Sou jy, as jy kon oorkies, weer vir Boer soek ’n vrou inskryf? 

Ja, ek sou weer ingeskryf het. Dit was ’n unieke ervaring vol uitdagings. Die proses plaas jou in moeilike situasies totaal buite jou gemak en jy leer baie van jouself. 

Is jy en Chanté enigsins nog in kontak?

Nee.

Glo jy nog in liefde, ten spyte van als? 

Natuurlik, ek is kinderlik opgewonde oor die vrou wat vir my bestem is. Ek glo steeds in daardie een spesiale persoon en is bereid om te wag tot ek haar ontmoet!

Wat is jou hoop vir 2017? 

Hoop vir vrede, liefde en samewerking tussen mense vanuit verskillende agtergronde. Ek is vol positiewe verwagtinge vir 2017 – vir ons land, vir die landbou, vir Springbok-rugby en laaste maar nie die minste nie vir die vrou vir wie ek al so lank bid.

Kyk wie kuier by ons op Stilbaai #boerleonfritz #boersoeknvrou @kyknettv

A photo posted by Minki vd Westhuizen (@minkivanderwesthuizen) on

Lees nou

Leandie du Randt se besige 2017

Baba se laaste oomblikke vasgevang saam met tweelingsussie

Anna-Mart word ‘ma’

  • Veronica

    Leon bly getrou aan jou gevoelens – jul albei is pragtige jong mense en die regte persoon sal wel eendag daar wees vir jul albei,

  • Lucy Boshoff

    Ek bid al baie jare vir ‘n man soos hy… God sal getrou bly.