FOTO Getty Images / Mike Marsland

FOTO Getty Images / Mike Marsland

Hieroor praat mense

Chad le Clos praat oor Phelps

Vir die Olimpiese kampioen Chad le Clos was 2016 ’n moeilike jaar. Weke voor die Spele het slegte nuus oor sy ouers se gesondheid hom onkant betrap. In Rio het sy goue droom verkrummel. En ná 14 jaar het hy sy afrigter gegroet. Maar Chad fokus op sy ‘beste hoofstuk’ nog ….

Jy sê Rio was ’n teleurstelling . . .

Rio was vir my ’n aaklige ervaring. Soveel aspekte daarvan was teleurstellend. Moenie my verkeerd verstaan nie, twee silwers is nie sleg nie. Maar . . . in my kop moes ek goud gewen het. Daar’s redes, redes wat ek nooit met iemand sal deel nie. Maar ek maak nie verskonings nie. Dis wat ek ook hoop om in Suid-Afrika se sportgees te vestig . . . om niemand te blameer nie. Ek is nie klaar nie. My beste hoofstuk lê nog voor.

Maar jou jaar (2016) was immers vol persoonlike uitdagings.

Dit was nie ’n maklike jaar nie. Maar ek gaan dit nie as ’n verskoning gebruik nie. Die hele lewe gaan oor hoe jy reageer, hoe jy ’n uitdaging aanpak. Ek wil eendag onthou word as daardie ou wat kon opstaan ná ’n teleurstelling, nadat hy keer op keer verloor het. Jy moenie moed verloor nie. Die lewe is veel meer as ’n goue medalje. Jy moet die beste wees, vir jouself, jou beste weergawe.

Hoe het jy dit reggekry om ná Rio weer in die swembad te klim?

Dit was glad nie moeilik nie. In 2012 was dit moeiliker, want toe het ek daardie Olimpiese golf gery. Ek was toe bang, ek wou nie weer in die swembad klim nie. Nou was dit makliker. Ek het net ingespring, ek móés myself weer opbou.

Jou gevoel oor die Amerikaanse swemmer Michael Phelps se uittrede?

Ek hoop regtig hy bly nog vir een jaar. En ek sê dit met die grootste respek. Hy is die beste swemmer van alle tye. Daar sal géén ander soos hy wees nie. Ek word my beste omdat ek teen die bestes swem. As jy ’n leeu wil wees, moet jy saam met leeus oefen. Dis dieselfde met my swemmery. Ek moet teen die beste swem. Dis ’n voorreg om teen Phelps mee te ding.

Hoekom is dit belangrik om ’n rolmodel te wees?

Dis net iets wat jy is. Dis ’n voorreg, ek is trots om een te wees. Wie sal nie een wil wees nie? Natuurlik is dit soms moeilik. Maar op die ou einde verander jy iemand se lewe. Ek glo elke atleet is ’n rolmodel. Dis hoe jy onthou wil word wat die verskil maak.

Lees nou

Kan Oreo’s nog beter word? Ja, dit het pas, maar …

Ons is opgewonde oor…

Is daar met jou gmail gelol?