Hieroor praat mense

Dana, Isabella en ander víér Afrikaanse kostradisies

Die Good Food & Wine Show is jaarliks ‘n hoogtepunt op elke smulpaap en amateur- tot meesterkok se feeskalender. En hierdie jaar is daar ‘n interessante toevoeging.

Tafelpraatjies wil die erfenis en kultuur rondom kos deel – in Afrikaans. En omdat Afrikaansprekendes bekend is vir hul storievertel-vernuf, handel dié item op die program oor die stories wat rondom die etenstafel vertel word.

Wie beter om die tafelgesprek mee te deel as die wêreldreisiger en kos- en reisverhaalskrywer Johannes Bakkes; SARIE se voormalige moderedakteur, stileerder en sjef, Isabella Niehaus; die bekende en geliefde rubriekskrywer Dana Snyman; en die Cordon Broer, oftewel die akteur en sanger Lochner de Kock met sy heerlike tradisionele boerekos.

Dan gaan die aanbieders van die radiostasie Smile90.4FM ook húl vernuf met ‘n “Cook Off” wys. Hulle sluit in Bobby Brown, Eloise Pretorius, Benito Vergitore, Tracey Lange, Maurice Carpede, Mehboob Bawa en die skrywer-digter Danie Marais.

Tafelpraatjies gaan vir 20-30 gaste by elke sitting die geleentheid gee om met hierdie bekendes te gesels en te luister na hulle koservarings en –herinneringe. En die gespreksonderwerpe is eindeloos – van resepte tot dáái geheime bestanddeel wat net jou familie ken.

En nie net gaan die ore luister nie, die oë word bederf met ‘n pragtige unieke tafeluitleg wat by die persoonlikhede van die vertellers en die kos pas.

Daar is ook ‘n interaktiewe kombuis met ‘n AGA- en gasstoof en werkswinkels van onder meer Searle’s Trading Post oor hoe om jou etenstafel met alledaagse items op te vrolik.

Hier gaan dit om die bekende tradisies te vier en te herskep met nuwe idees. Selfs die nederige pampoenkoekie, koeksisters, waterblommetjiebredie en biltong trek ʼn nuwe baadjie aan. Alles gaan oor wat nuut en opwindend is op die rak.

Die Good Food & Wine Show in Kaapstad is vanaf 23 tot 26 Mei by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum. Kry jou kaartjies by Computicket.