sr1105deon_meyer
Hieroor praat mense

Deon Meyer se vervolgverhaal eksklusief vir SARIE-lesers

Die trollie is ’n monster, groot en swaar, opgesmukte, gepoleerde koper-barok. En die verdomde klein wieletjies is nie vir Langstraat se ongelyke sypaadjies bedoel nie. Lea stoei daarmee, rooi in die gesig, selfverwytend. Sy moes twee blokke weg parkeer, onwettig, dis sweetwarm, sy’s oorhaastig, die min slaap rem aan haar. Sy knyp die selfoon met ’n skewe kop teen haar skouer vas.

“Hulle is agter skedule, Anwar, en dis nie my skuld nie,” sê sy oor die foon en ruk die trollie na links om twee bleekbeen-toeriste te ontduik.

“Daai mense is al uitgeboek, Lea. You think stunt men grow on trees?”

Die voorste trolliewiel raak die spoor byster en foeter van die sypaadjie af. Die hele ding kom tot stiltstand. Sy sê: “Vrek”, hard en smoorkwaad, en Anwar sê: “Dit help nie jy’s vir mý kwaad nie.”

“Ek sal jou moet terugbel, gee my tien minute,” en sy druk die foon in haar groot handsak, trek die trollie terug op koers en navigeer dit die laaste twintig meter – tot voor die Colonial Hotel se trappies.

Die portier is nie op sy pos nie. Sy sal die monster self teen die twaalf trappies moet uitsleep.

Haar selfoon lui.

Sy grawe dit uit haar handsak, kyk na die skerm, sien dit is Die Tiran. Lea antwoord: “Hallo, Hermien.”

“Lea, waar is jy?” En voor sy kan reageer: “Die blomme is glad nie wat ek wou hê, wat moet Giovanni met al die geel doen, dit is veronderstel om ’n troue te wees, nie ’n begrafnis nie. Het jy al die uniforms opgelaai, hulle wil twee-uur begin skiet, die lig gaan nie hou nie.”

Die verskriklike onregverdigheid brand deur haar, onderdrukte kwaad vir die misbruik van mag, die paternalistiese stemtoon, die wanbegrip.Maar Lea reageer soos altyd.

“Ek is jammer, Hermien. Ek is by die Colonial met die trollie, ek kry die uniforms oor tien minute. Sê net watter soort blomme jy soek,” in haar onderdanige ekskuus-datek-leef-stem, die enigste aanslag wat Hermien paai.

“Wit, Lea. Soos ek oorspronklik gevra het.”

’n Blatante leuen, maar Lea weet wat gebeur het: Giovanni het gesê hy hou nie van die geel nie, en nou verplaas haar despotiese werkgewer weer die skuld na ’n ondergeskikte.

“Oukei,” sê sy, maar Hermien het al neergesit. Lea sluk die trane, bêre die foon, haal diep asem, tel die trollie-voorkant op en beur met al haar krag. Die agterwiele knik en klap oor elke trappie, sy tel hulle af, een vir een, tot bo, eindelik, haar arms lam, haar hande kramp. Sy vee die sweet uit haar oë, sien die assistent-bestuurder en die portier deur die hotel se groot glasdeure aankommet identiese, grimmige fronse.

Hulle druk die deure oop en wag waaragtig dat sy self oor die stuk dik, wiel-onvriendelike tapyt moet worstel.

Die assistent-bestuurder sê: “Jy is twee ure laat, dis die laaste keer dat jy iets hier kom leen,” en die portier sê: “Kyk hoe lyk die brass, jy gaan eers dié ding moet polish.” Dan is sy skielik op die gladde marmervloer van die portaal, die trollie skiet vorentoe, haar tekkies gly en sy verloor haar balans. Sy wil val, klou aan die trollie en die hele ding kantel. Sy slaan neer bo-op haar handsak, hoor hoe iets binne-in breek, weet dit is die parfuum wat Wimpie vir haar gegee het, en dan sien sy hoe die trollie in stadige aksie op haar afkom. Sy wil wegskarrel, kry nie traksie nie, die skerp bo-rand tref haar voorarm, halfpad tussen elmboog en hand. Sy weet die sny is diep, al voel sy nog nie die seer nie.

“Is jy ’n totale idioot?” vra die assistent-bestuurder.

“My trollie,” verwyt die portier en begin die ding oplig. Lea sien die bloed en ruik die parfuum. Vir ’n oomblik wil sy die simboliek daarvan oordink, haar oë toemaak en net hier lê, vir ’n dag of twee, tot haar lewe sin maak, maar die deurmekaarspul met Anwar se waaghalse, Die Tiran se blomme, die regisseur se uniforms en die paneelwa wat wederregtelik geparkeer is – dit alles sê sy moet opstaan.

Sy sien hoe die portier die trollie wegstoot en hoor die assistent-bestuurder sê: “Wie gaan die gemors skoonmaak?”

Lea trek haar handsak nader en eers dan voel sy die pyn in haar arm, diep en skerp. Sy sal nie huil nie, sy sal nie dié sot daardie genoegdoening gee nie.

“Wat maak julle met haar?”

’n Diep stem, hier reg langs haar. Sy kyk op, sien hoe hy afbuk, donker pak, rooi das, spierwit sakdoek in sy hand, ’n wildvreemdeling. Sy probeer orent kom. Hy sê: “Juffrou, stadig, is jy oukei? Kom, ons sal hierdie bloeding moet stop.” Dan druk hy die sakdoek sag teen haar arm. “Is dit hoe julle vroue behandel?” vra hy vir die nou stom assistentbestuurder. “Dit is ’n skande.”

Lea se skanse val. Sy huil.

Hy plaas sy ander hand sag op haar skouer. “Wat is jou naam?” vra hy met verskriklike sorgsaamheid.

“Lea.”Haar stem dun tussen die trane deur.

“Lea, ek is Ben Liebenberg. Ek wil hê jy moet probeer regop sit sodat ek jou arm kan verbind, die bloeding is ’n bietjie kwaai.”

Sy knik, los die handsak, sit regop.

Hy is op sy knieë, vou die sakdoek lank, draai dit met sy mooi hande om haar arm. “Dis beter,” sê hy. “Is daar nog seer iewers?”

Sy skud haar kop.

Hy vat haar handsak. “Kan ek jou ophelp?”

Sy knik net, want as sy gaan praat, gaan sy nog meer huil. Steun op sy arm, staan stadig op.

“Nou kry jy iemand om te kom opruim hier, of jy doen dit self,” sê Liebenberg vir die assistent-bestuurder, met groot afkeur vir die man.

Lea sien hy is lank en fors en donker en iewers oor die veertig. En mooi, hy is vir haar op hierdie oomblik so vreeslik mooi en sy kry ’n “baie dankie” uit en hy glimlag net, sy aandag by die wond, bloed aan sy vingers.

“Ons sal jou by ’n dokter moet kry, die sakdoek is nie genoeg nie.”

“Nee,” sê sy. “Daar is nie tyd nie.”

“Jy sal moet tyd maak,”maar welwillend en sag.

“Ek kan regtig nie.”

Hy huiwer eers. Dan sê hy: “Ek het ’n noodhulpsakkie in my kamer. Sien jy kans?”

“Ja,” sê sy.

* * *
Sy bedaar terwyl hulle vir die hysbak wag.Tot hy vra: “Moeilike dag?”

Sy huiwer op die rand van ’n volle bekentenis en dan stoot sy simpatie en die gewig van dit alles haar oor die afgrond. As die deure oopgaan en hulle inklim, vertel sy hom van die waaghalse en die blomme en die uniforms en die verdomde trollie en die twee produksies waaraan sy gelyk moet werk. Sy is ’n rekwisiete-assistent, ’n baie lae skakel in die filmwêreld-voedselketting, sy het drie weke laas meer as vier ure slaap gehad, haar kunsregisseur-baas is so kwaai en so onregverdig, en Wimpie het ’n maand gelede met haar uitgemaak, want hy’s “nog nie reg vir commitment nie”, en haar ma is ver in Limpopo, sy is heeltemal moedeloos . . .

Hulle staan voor sy kamerdeur.

“Ek dink dit vat ’n sterk vrou, met baie vaardighede, om dit alles te kon oorleef,” sy stem nadenkend en ernstig.

“Thomas Edison het gesê ons grootste swakheid lê in moed opgee. Die sekerste pad na sukses is om nog een keer te probeer.”

Hy maak die deur vir haar oop.

* * *

Hy laat haar op die bed sit, maak eers die wond met ’n waslap skoon. Dan haal hy ’n klein noodhulpsakkie uit en rol ’n verband af, draai dit sorgvuldig om haar wond. Dit is te lank en hy het niks om dit mee te knip nie. Sy haal haar skêr uit haar handsak. Hy grinnik vir haar voorletters wat met Cutex daarop aangebring is, sny die verband netjies en bind dit vas. Dan sê hy vir haar: “Jy wil seker daardie trane gaan afwas,” en beduie na die badkamer.

Sy druk sy hand styf en sê “baie dankie”. Sy vat haar sak, maak die badkamerdeur agter haar toe, sien hoe netjies hy alles gelaat het. Kyk vir haarself in die spieël, sy lyk so sleg.

Sy was haar gesig. Hoor ’n vreemde stem anderkant die deur. Seker kamerdiens wat met Liebenberg praat. Vee haar oë skoon met sneesdoekies, gooi hulle in die toilet, spoel dit. Droog haar gesig af, delf in die handsak vir haar nood-grimering en haar haarborsel, hoor ’n dowwe geluid
buite die deur.

Wat maak hy daar, Lea Burger, hoe slim is dit?

’n Vreemde man se hotelkamer, maar sy weet sy is veilig, hy’s só eerbaar. Sy glimlag vir die eerste keer oor haar gebabbel vroeër, hy moet seker dink sy’s simpel.

Eindelik is die grootste skade herstel, haar arm seer, maar dit bloei nie meer nie. Sy maak die badkamerdeur oop en sê: “Ek weet nie hoe om . . .”

En dan sien sy hom lê, met haar skêr in sy hart.

Maak seker jy mis nie die res van dié vervolgverhaal in die Julie en Augustus uitgawes van SARIE nie!

  • Lynette McMillan

    Mensig, die man kan darem skryf. Nee kyk, hy mag maar. Ek sien elke karakter en elke omgewing in die fynste detail, terwyl ek lees. Nou is ek moedeloos-ongeduldig. Hoe lang moet ek nou wag om te weet wat verder gebeur? Ek is klaar verslaaf.

  • Marie Meintjes

    Waar`s daai sker?