mood woorde
Hieroor praat mense

Veral dié Afrikaanse woorde word verkeerd gespel

Afrikaans, dit bly ’n hartstaal. ’n Beeldskone taal wat so lekker oor ’n mens se tong kan gly. Dink maar aan “trapsuutjies” of “beminde”, mooi woorde, eg Afrikaans. Maar o wee, soms kan die woorde tog so verkeerd gespel word. En dan lyk die woord sommer afskuwelik.

Prof. Gerhard van Huyssteen, beoordelaar in die gewilde kykNET-speletjiereeks Op die spel, het die woorde uitgesonder wat die meeste verkeerd gespel word.

“Uit ’n onlangse blitspeiling op Facebook het dit geblyk met watter 10 woorde mense die meeste sukkel,” het Van Huyssteen aan SARIE.com vertel.

En die 10 woorde?

10. parallelle

9. adres

8. weereens of weer eens (albei is korrek!)

7. professor

6. verrassing teenoor verassing

5. op pad (twee woorde)

4. huis toe (twee woorde)

3. komitee maar kommissie

2. onmiddellik

1. interessant

 Op die spel is elke Maandag om 20:30 en Rian van Heerden is die aanbieder.  SARIE.com het vir Van Huyssteen uitgevra oor die sukses van die program.

Hoekom dink jy werk die konsep van Op die spel?

Ek dink daar het oor die afgelope paar jaar wêreldwyd ’n populêre belangstelling in taal en taalsake ontstaan. Dink maar aan die gewildheid van ’n boek soos The Language Instinct deur Steven Pinker. In Op die spel probeer ons daarom om ook aandag te gee aan ander sake as slegs spelling, soos waar woorde vandaan kom, die gebruik van idiome, ensovoorts. En ek dink die vervaardigers, Homebrew Films, het daarin geslaag om die program op ’n moderne en speelse – maar nie stuitige nie – manier aan te pak. Ek glo dit dra by tot die sukses van die konsep.

 Wat is vir jou die lekkerste aspek van hierdie program?

Die heel lekkerste deel van die hele proses is om die vrae saam te stel. Ek verdwaal vir weke lank in woordeboeke en taalkundeboeke. (Ek is maar in wese ’n bleeksiel, ’n nerd wat altyd meer wil leer.) In die huidige reeks was die vier programme met die skoolkinders vir my ook ’n absolute hoogtepunt. Dit was gewoon toonomkrullekker om die kinders in aksie te sien. En natuurlik ook die spanning tydens die opnames om te sien of iemand R50 000 gaan wen – dit is en bly ’n adrenalienfees.

Vir nóg taalpret, besoek Afrikaans.com!

afrikaans.com

Lees nou

5 dinge wat jy moet weet voor jy jou haarstilis besoek

Sienna Miller se ma is … Afrikaans!

Lekker tradisie: 5 bygeregte

  • Annatjie Lombard

    Goeienaand, ek bevind ook dat die mense die woord – waardeer en waardeur verkeerd gebruik. Meeste van hulle het nie begrip wat die betekenis van die twee woorde is nie.