r8
Hieroor praat mense

Is dié celebs narsiste?

Wat sou Kim Kardashian, Donald Trump en Paris Hilton gemeen kan hê, buiten hul geld en roem? 

Jy kan nie hul narsistiese trekke miskyk nie, skryf Riette Rust in haar jongste boek oor narsisme wat pas verskyn het.

Natuurlik is nie almal in die vermaakbedryf narsiste of mense met narsistiese trekke nie, maar daar ís genoeg voorbeelde. Daarom het Pinsky en Young die Narcissistic Personality Inventory (NPI)  ingespan om verskillende bekendes te toets – nie vir ’n narsistiese persoonlikheidsversteuring nie, maar ten opsigte van narsistiese trekke.

(Want soos ons teen dié tyd weet, behoort net ’n sielkundige of psigiater ’n narsistiese persoonlikheidsversteuring te diagnoseer.) Maar kyk ons na die optrede van sommige oorsese bekendes, kan ons nie hul narsistiese trekke miskyk nie …

TDF2002-ARMSTRONGLance Armstrong: Ek is ’n wenner, nie ’n verloorder nie

Dié wêreldberoemde Amerikaanse fietsryer het sewe keer die Tour de France gewen. Of so het ons gedink. Ná vele leuens moes hy sy opkikkergebruik erken.

Volgens Betsy Andreu, wat met Armstrong se spanmaat Frankie getroud is, is Armstrong ’n verkleurmannetjie. “Hy sal wees wat hy wil hê jy moet sien. As hy jou wil intimideer, sal hy die boelie wees; as hy wil hê jy moet sy leuen(s) glo, sal hy die hel uit jou charm …”

Dié wat suspisieus was oor sy “prestasies”, is as jaloers en wraaksugtig afgemaak.

Met sy sielkundige behoefte om te wen wou die fietsryer aan sy onsekerhede en minderwaardigheid ontsnap. Dit kom uit sy traumatiese kinderjare. Sy ma was net 17 jaar oud toe hy gebore is en sy pa, na wie hy as sy “DNS-skenker” verwys, het hulle verlaat toe Armstrong net twee jaar oud was.

Screen Shot 2016-09-07 at 10.55.44 AM

Paris Hilton: Sommige meisies word met blinkertjies in hul are gebore

Hilton is bekend omdat sy ’n ryk sosiale vlinder is. Tog sê sy: “Ek is baie intelligent … Ek het my eie parfuum bekendgestel en wil my eie hotelkettinggroep hê.”

Sy is gaande oor haarself: “Daar is niemand ter wêreld soos ek nie. Ek dink elke dekade het ’n ikoniese blondine soos Marilyn Monroe of prinses Diana en, op die oomblik, is ek daardie ikoon.”

Screen Shot 2016-09-07 at 10.58.44 AMKim Kardashian en Kanye West: … ons wil die eerste én die beste wees

Kim Kardashian, oftewel Kim K. van  die E!-werklikheidsreeks Keeping Up with the Kardashians, word as die koningin van narsisme beskryf. Sy het in 2007 in die kollig beland nadat sy in ’n seksvideo “opgetree” en dit versprei is. Daarna was sy bekend vir haar wispelturige, kortstondige liefdesverhoudings. Haar mees uitstaande kenmerke is haar groot, sexy agterstewe en haar oordrewe hunkering na die kollig.

As Kim die koningin van narsisme is, is Kanye West die koning. Hy is al beskryf as die arrogantste man ter wêreld. West het homself al gelykgestel aan Walt Disney, Beethoven en Picasso. Sy grootste teleurstelling is “dat ek myself nooit regstreeks sal kan sien optree nie”.

Screen Shot 2016-09-07 at 11.05.14 AMDonald Trump: My vingers is lank en pragtig en, soos daar al goed gedokumenteer is, so ook verskeie ander dele van my lyf

Die presidensiële kandidaat Donald Trump is een van Amerika se bekendste en rykste sakemanne. Hy is ’n belegger en voorsitter en president van The Trump Organization en van Trump Entertainment Resorts.

Sy bynaam, “The Donald”, sê baie, terwyl sy windverwaaide, yl hare wat goud gekleur word, sê: Of jy daarvan hou of nie, te hel met jou, dis hoe ek dit dra.

As TV-aanbieder van The Apprentice het hy gereken dat al die vroue op die program met hom flankeer. “Bewustelik of onbewustelik. Dit is te verwagte.”

Trump is altyd die grootste en raserigste man in die vertrek. Sy luide houding spreek van skaamteloosheid en behoeftigheid (neediness). Tog kry hy steeds elke keer ’n trofee-vrou wat sy kinders wil hê. Dalk vir ’n reuse-erfporsie. Of vir onderhoud, want almal weet sy verhoudings hou nie. Toe een van sy gewese vroue sê ’n mens moet aan die huwelik werk, het hy  gesê: “Dis die belaglikste ding wat ek nog gehoor het.”

Die Donald praat van homself in die derde persoon. Hy assosieer net met ander mense wat ook spesiaal is. Die res behandel hy bitter sleg. Trump dink ook almal wil soos hy wees. “Die ou rykes sien dalk neer op my, maar ek dink hulle soen my agterent,” is een van sy sêgoed. Sy narsisme pla hom glad nie, want hy sê: “Wys my iemand sonder ’n ego en ek wys jou ’n verloorder.”

Vir meer oor narsisme, lees die artikel “Kyk tog asseblief vir my” in die November 2016-uitgawe van SARIE.

NOVember 2016 Nataniël Erik

Die hoofstuk “Narsiste in die kollig”, uit die boek EK! EK! EK! Herken en hanteer narsiste, is verkort met die toestemming van die skrywer, Riette Rust. Dit verskyn by LAPA (R200).

Blank white book w/path