showmaxvsnetflix2
Hieroor praat mense

Die internet-TV-oorlog is hier!

Die wêreldwye internet-TV-oorlog word al hoe warmer, veral noudat nuwe teenstanders die mark betree om die Amerikaanse reus Netflix die stryd aan te sê. Netflix het verlede maand sy dienste in 130 nuwe lande bekend gestel, onder meer in Suid-Afrika. Hul groot kompetisie in Suid-Afrika is ShowMax, wat verlede jaar begin is.

Internet-TV, of subskripsie video-op-aanvraag, is taamlik nuut in Suid-Afrika. Jy betaal ’n maandelikse fooi om in te teken en verkry so toegang tot duisende reekse en flieks wat jy aanlyn kan kyk – op jou skootrekenaar, slimfoon, tablet of slim-TV. Dit is perfek vir marathon-sessies waar jy ’n reeks van begin tot einde wil kyk sonder advertensies! Jy kan boonop op dieselfde tyd verskillende programme op verskillende toestelle kyk.

via GIPHY

Die twee groot name in Suid-Afrika is ShowMax en Netflix. Só vergelyk die twee

ShowMax vs. Netflix

  1. Prys

  • ShowMax kos R99 per maand en laat jou in hoë definisie (HD) op twee toestelle gelyktydig kyk.
  • Netflix het drie prysplanne. Almal is in Amerikaanse dollar, wat beteken dat die prys saam met die wisselkoers verander. Die basiese opsie kos $7.99 (ongeveer R128) en laat jou standaarddefinisie (SD) kyk op een toestel. Die standaard-opsie kos $9.99 (ongeveer R160) en laat jou in HD gelyktydig kyk op twee toestelle. Die premium- opsie kos  $11.99 (ongeveer R192) en laat jou in Ultra HD gelyktydig kyk op vier toestelle.
  1. Inhoud

  • ShowMax spog met die grootste aanlyn biblioteek in Afrika, met meer as 20 000 episodes van plaaslike en internasionale programme van Binnelanders tot Big Bang Theory. Daar is meer as 1 000 titels op ShowMax te sien.

Dit het plaaslike Afrikaanse inhoud soos Liefling, Semi-soet, Vallei van Sluiers en kinderprogramme soos Heidi en Liewe Heksie. Daar is nie baie ander platforms waar kleintjies Afrikaanse kinderprogramme kan kry nie. (Vir diegene wat oorsee woon: jy kan kykNET Internasionaal se programme in die VK, VSA, Australië, Kanada, Nieu-Seeland, Nederland en Indonesië kyk met ShowMax.) ShowMax bied gewilde HBO-inhoud (Game of Thrones, Sopranos, Entourage, Angels in America en nog) wat nie op Netflix beskikbaar is nie.

Vir die jongspan het ShowMax ’n wye verskeidenheid programme van Disney en Nickelodeon, Ultimate Spider-Man en The Avengers tot My Little Pony en SpongeBob Squarepants.

  • Die Netflix-aanbod in Suid-Afrika is beperk in vergelyking met wat in die VSA beskikbaar is. Volgens Finder.com is 93% van die programme wat in die VSA te sien is nie in Suid-Afrika beskikbaar nie. Daar is sowat 750 titels op Netflix te sien.

Dit bied Netflix Originals soos Jessica Jones, Master of None, Daredevil, Marco Polo en ander wat jy nêrens elders sal vind nie. House of Cards en Orange is the New Black is nie op Netflix in Suid-Afrika beskikbaar nie omdat MultiChoice op die oomblik die lisensieregte vir hierdie programme het, daarom kan dit net op DStv gesien word.

Vir die kleinspan bied Netflix DreamWorks tekenprente soos Antz, Madagascar en Puss in Boots, asook programme soos Transformers en Barbie. Jy kan Netflix ook stel dat dit net kinderprogramme speel.

  1. Betalingsopsies

  • Met ShowMax kan jy met jou kredietkaart, PayPal of voorafbetaalde koopbewyse van winkels soos Pick n Pay betaal. Jy kan ook elektroniese koopbewyse met eBucks koop.
  • Met Netflix kan jy per kredietkaart of PayPal betaal.
  1. Toestelle wat ondersteun word

  • ShowMax kan op enige rekenaar, slimfoon, tablet en Samsung en LG se slim-TV’s speel. Dit sal ook binnekort op Google Chromecast en Apple TV beskikbaar wees.
  • Netflix is beskikbaar op byna enige platform, speletjie-konsoles ingesluit, en kan op alle rekenaars, fone, tablette en slim TV’s speel.
  1. Aflaai-feite

  • ShowMax app-gebruikers kan tot 25 programme op Apple en Android-toestelle aflaai en hulle vir 30 dae hou. Sodra jy “play” druk het jy 48 uur om ’n episode klaar te kyk voordat dit outomaties afgevee word. Hierdie funksie is nuttig wanneer jy reis, en internettoegang beperk is.
  • Netflix bied geen aflaai-funksie nie.

*Vir albei het jy ’n goeie internet-konneksie nodig. Onthou, data is duur – dit word aanbeveel dat jy uncapped internet het.

Weet jy wat jy gaan kies?

via GIPHY

Netflix en ShowMax bied gratis toetslopies wanneer jy inteken. Gaan na www.netflix.com en www.showmax.com en besluit self.

* Showmax is deel van Naspers waaraan Media24, en waarvan SARIE deel is, ook behoort. Dié artikel is namens Showmax geskryf deur Thomas Maree en vertaal deur Bibi Slippers.

Lees meer