Hieroor praat mense

Die nuwe etiket met Nataniël en Emsie

Trieng, trieng, ek wil jou nooi …

Onseker skryf:
My man en ek verskil van mening oor die gebruik van die telefoon wanneer dit ’n uitnodiging betref. Hy meen dat dit geen goeie maniere is om iemand te bel en vir middag- of aandete te nooi nie. Ek telefoneer my vriende en word ook deur hulle getelefoneer. Wie van ons het gelyk?

Toe (antwoord verkort): Waar dit werklik goeie vriende geld, is daar geen beswaar daarteen om die telefoon te gebruik nie. Wanneer dit egter mense geld wat u of u man net vaagweg ken, of as dit hooggeplaaste mense is, is dit nie gebruiklik om hulle telefonies te nooi nie. Dan behoort u ’n briefie te skryf. Sarie Marais,1 Oktober 1958

Nou (Nataniël): Dit hang af van die geleentheid. Vir ’n braaivleis gaan jy nie ’n kaartjie skryf nie. As dit huisvriende is of iemand wat jy reeds kaal gesien het (behalwe in die hospitaal), kan jy bel of SMS. As jy 800 mense na ’n uitstalling nooi, is ’n e-pos reg. Ek doen moeite met die ontwerp van die uitnodiging. ’n Mens moenie deesdae soveel papier gebruik nie. Vir ’n troue, 50ste verjaardag of 100-jarige bal dui ’n gedrukte uitnodiging die styl-tema en weelderigheid van die aand aan.

Moet ek ‘n geskenk vir die gasvrou neem?

Toe: ’n Geskenk word net na ’n huisonthaal geneem. Neem ’n dosie sjokolade, ’n gerf blomme of stuur vir ’n spesiale geleentheid die vorige dag ’n ruiker met ’n briefie wat sê: “Ons sien uit na môre-aand, dankie vir die uitnodiging.” Jy sal ekstra welkom wees en die gasvrou se hart verbly. Emsie Schoeman, SARIE, 3 Augustus 1994

Nou (André Schwartz, sanger en bemarker): ’n Geskenk is nie ’n moet nie, maar dis lekker om iets te neem en te kry. Maar wees versigtig, daar’s sekere kulture waar dit as slegte maniere beskou word om iets eet- of drinkbaars te neem – dit lyk asof jy twyfel of jou gasheer kan voorsien.

(Emsie Schoeman, etiket-kenner): Stuur blomme die vorige dag, dis baie bedagsaam. Neem sjokolade, of enige klein geskenk as jy haar smaak ken, met ’n bedankingsbriefie. Dan hoef jy haar nie die volgende dag weer per SMS of e-pos te bedank nie, behalwe as dit só ’n fees was dat jy weer van jou wil laat hoor.

(Nataniël): Blomme bly ’n algemene geskenk. Vind vooraf uit van watter blomme en kleure hulle hou. Ek verkies om goeie wyn, mooi kerse, ’n klassieke CD of boek te gee. Eetgoed is slegs gepas as jy weet dis welkom.

En hoe bedank jy jou gasheer/gasvrou?

(Dion Chang, neiging-kenner): Daar’s min dinge so spesiaal soos ’n handgeskrewe nota. Of bel.

(Nataniël): Die belangrikste is dat jy dankie sê.

(André): Enige manier is aanvaarbaar.

(Emsie): ’n Bedankingsbriefie is pure bederf en skaarser as hoendertande.

(Marcus Brewster, bemarker): In Londen, waar mense briewe binne ’n dag kan pos en ontvang, is ’n handgeskrewe nota die beste. Plaaslik ’n telefoonoproep vir gashere/-vroue bo 40, e-pos vir bo 25’s en SMS, Facebook of Twitter vir diegene jonger as 25.

Watter soort briefpapier gebruik ’n egte dame?

Toe: Wit, grys of ligblou en koeverte wat daarby pas. Groot voorletters, familiewapens, vergulde adresse en papier met goue of gekleurde rante is beslis taboe en uit die mode.
Sarie Marais, 18 Februarie 1959

Nou (Nataniël): ’n Dame of diaken gebruik net herwonne papier. Daarmee wys jy dat jy vir die aarde omgee. Al is papier hóé mooi en dit is nie herwin nie, sit dit terug. Onthou,
handgemaakte papier is nie noodwendig herwonne nie. Jy kan self jou eie  omgewingsvriendelike papier mooi maak met strikke, ens. My eie smaak is hoe minder hoe mooier.

En korrekte e-pos-gedrag?

(André): As jy my wil sien moeilik raak, stuur ’n e-pos met té veel uitroeptekens, hoofletters of woorde in rooi.

(Nataniël): Miljoene mense sit dag en nag en stuur simpel grappies, vieslike stories en foto’s wat ure neem om af te laai. Waar hulle die tyd kry en hoekom hulle dink intelligente mense stel in al dié nonsens belang, gaan my verstand te bowe. ’n E-pos moet met dieselfde integriteit behandel word as enige ander persoonlike inligting.

(Dion): Wanneer jy in hoofletters tik, beteken dit jy skree. As jy gesigte met glimlaggies in jou e-pos stuur, is dit baie familiêr. Pas jou e-pos-styl aan by die persoon aan wie jy dit stuur.

Moets en moenies met selfone

(Emsie): In ’n stampvol hysbak fluister “jammer” en sê vir die oproeper jy bel later terug. Hou by jou belofte. In vergaderings moet die voorsitter sy/haar selfoon op die tafel sit en vra of selfone afgeskakel is. Sit jou foon af by gesellighede. As jy wel ’n belangrike oproep verwag, gryp dit vinnig en gaan antwoord buite.

(Dion): Selfone tydens vergaderings of informele geleenthede verbreek konneksies tussen mense en moet afgesit word. As jy belangrike oproepe verwag, maak voor die tyd verskoning en neem dit vinnig. Mense is deesdae geneig om meer waarde te heg aan gadgets as aan mekaar. Sit jou stempos aan tydens etes met vriende of jou gesin. Om per SMS verhoudings te verbreek is ruggraatloos.

(André): ’n SMS of sake-oproep teen middernag is taboe. In die ou dae sou ’n mens niemand ná agtuur in die aand huis toe bel nie. Wat maak dinge nóú anders? En dan kry jy dié wat SMS gedurende vertonings. Ek wou al mense met ’n baksteen gooi omdat hulle in opvoerings ge-SMS het!

Oor tafelmaniere …

Toe (verkort): Aparte visgerei is ingevoer in die dae toe vlekvrye staal nog nie vir messe gebruik is nie. Omdat vis maklik vreemde smake aanneem, is dit nodig gevind om messe wat van ander metaal as staal gemaak is, te gebruik. Toe is ’n spesiale vismes en -vurk van versilwerde metaal in gebruik geneem. Vandag is alle goeie messe van vlekvrye staal en daarom is die gebruik van spesiale eetgerei vir vis eintlik oorbodig. Omdat die vismes en -vurk egter so vanselfsprekend geword het, word vis nog daarmee geëet.

Grate wat per ongeluk in jou mond kom, moet so onopvallend moontlik verwyder word. As jy egter een in die keel kry, is dit die beste om van die tafel af op te staan. ’n Slukkie asyn help om die graat sag te maak as jy dit glad nie kan uitkry nie, terwyl die eet van ’n stukkie brood voorkom dat dit êrens vassteek. Sarie Marais, 21 Desember 1949

Nou (Dion): Moenie strek, met ’n mond vol kos praat of té groot porsies skep nie. As jy sekere kos nié eet nie, laat jou gasvrou vooraf weet. Daar’s niks ergers vir ’n gasvrou as ’n gas wat niks eet nie.

(Emsie): Moenie jou neus aan die servet afvee, te veel alkohol drink, te stadig eet, mense in die rede val of op slegte nuus bly hamer nie. Vermy onaangename argumente en persoonlike aanmerkings soos: “Jy lyk moeg!” Help die gasvrou, wees betyds, nie te vroeg nie. Trek ordentlik aan, wees ’n goeie luisteraar, maak ordentlike bydraes, vertel kort stories, kou met ’n toe mond, nies in jou sakdoek, wys jy geniét die ete.

Hoe stel jy mense aan mekaar voor?

Raadop vra:

As ’n mens ’n man en dame aan mekaar voorstel, word die man se naam eerste genoem? Maak dit enige verskil of die dame getroud is of nie?

Antwoord (verkort): ’n Mán word altyd aan ’n vrou voorgestel. “Mev. Joubert, mag ek u aan mnr. Le Roux voorstel.” Selfs al is die man stokoud en die meisie bloedjonk, word dit nog so gedoen. Stel u ’n getroude en ’n ongetroude vrou aan mekaar voor, word die naam van die ongetroude vrou eerste genoem. Die getroude vrou het ’n hoër rang as die ongetroude, daarom word dit so gedoen. Sarie Marais, 17 September 1958

Nou (Emsie): Jy spreek die belangrike persoon aan, byvoorbeeld: “Prof. Van Zyl, Anna Malan wil u graag ontmoet. Sy studeer musiek.” As albei “ewe belangrik” is, spreek jy die vrou aan en stel die man aan haar voor. Of jy spreek die ouer persoon aan en stel die jonger persoon voor. Doen dit duidelik en rustig en vertel hulle iets van mekaar.  Informeel, met ’n oop handgebaar. “Elsa, ontmoet vir Pieter. Hy ontwerp klere en sy werk met syfers!” Nou het hulle ’n aanknopingspunt.

(Dion): Die gasheer of -vrou besluit wie hulle aan mekaar wil voorstel en hoe hulle dit wil doen. Hulle bepaal die trant – formeel of informeel. As jý voorgestel is as prof. of dr. en jy voel dis té formeel, kan jy die res van die gaste op hul gemak stel en aanmoedig om jou op die naam te noem.

(Nataniël): Daar’s ook verskillende reels in verskillende kulture. Dit moet nagevors word voor ’n spesifieke geleentheid.

(Emsie Schoeman): Hou jou linkerhand bak voor jou mond en sit vinnig lipstiffie aan as almal elders kyk

En wat hiervan?

Mag jy lipstiffie aansit en jou hare kam in die openbaar?

(André): Het jy al gesien hoe trek vroue hul mond as hulle lipstiffie aansit? Dis ’n aardigheid. Ek wil ’n pragtige mond sien en wonder hoe kry sy dit so mooi. Hare kam in die openbaar is plein ongeskik.

(Nataniël): Jy mag seker doen wat jy wil. Ek kan nie onthou dat ek al ooit ’n vrou wat my geïnspireer het, dit in die openbaar sien doen het nie.

(Emsie): Ja, hou jou linkerhand bak voor jou mond en sit vinnig lipstiffie aan as almal elders kyk. Maar kam jou hare in die kleedkamer waar niemand vir los hare hoef te koes nie!

(Marcus): Ek sien gereeld deftige, professionele vroue wat hul grimering verfris in parkeergebiede, maar ek hou nie daarvan as hulle dit in die hysbak se spieël doen nie.

Wang-, mond- of lugsoen?

(Dion): As jy mense nie goed ken nie, is dit onvanpas om hulle op die wang te soen. Skuur dan net ligweg een keer teen die wang. Hou die wangsoen net vir dié wat jy goed ken. Dit geld ook die kombinasie van een wangskuur en -soen en ’n ligte drukkie. Die mondsoen is nét vir baie ou vriende of naby gesinslede.

(Nataniël): Tensy dit naby familie of ’n romantiese verbintenis is, beperk persoonlike kontak tot ’n handdruk. Die lewe is te kort en te gevaarlik vir al hierdie grillerige gelek, vryf, druk en soen.

(Emsie): Die handdruk bly koning. Dis veilig, gerusstellend, internasionaal en nooit voorbarig nie. Maar die vrou groet saggies. ’n Man het my ou pootjie al byna pap gedruk. Leer kinders om vreemde mense te groet met ’n stewige kyk-in-die oog- handdruk. Familie en vriende kry ’n soengroet op die wang. Wangskuur-en-druk is vir familie engoeie vriende. Vermy rooi blertse op mense se gesigte!

My kinders noem my vriende op die naam. Tog verkies baie van my vriende Oom en Tannie?

(Nataniël): Oom en Tannie buite familieverband is taboe. Dis aanvaarbaar vir klein kinders tot op ’n sekere ouderdom. Wanneer jy iemand in die oë kan kyk, noem jy hulle Meneer, Mevrou, Juffrou of op hul naam.

(Emsie): Oom en Tannie is tog te mooi. Noem familie en ou vriende so. Maar vreemdelinge is Meneer en Mevrou. Spreek ook mense in die sakewêreld volgens die gepaste titel aan. Vra wat die persoon genoem wil word.

(Marcus): Baie tradisionele Afrikaanssprekendes verkies Oom en Tannie as aanspreekvorm. Leer jou kinders só. As die volwassenes dit anders verkies, kan hulle so sê.


 



  • Didi

    Wat is deesdae etiket by jou kind se gradeplegtigheid op Universiteit? Wat trek jy aan( ouers), gee jy ‘n geskenk, nooi jy familie uit om na die plegtigheid saam te eet? Hoe neem jy deesdae fotos van die geleentheid? Wat is die nuutste tendens. Tradisionele stywe geposeerde fotos is tog so banaal en voorstedelik? Hoe maak mens? DD