Shireen de Waal en Louise
FOTO: Verskaf

Shireen de Waal en Louise FOTO: Verskaf

Hieroor praat mense

Die Oscar-saak: ander ma’s se boodskap aan June Steenkamp

Vandag is die wêreld se oë weer op die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria met die Oscar Pistorius-saak wanneer regter Masipa se uitspraak begin. Die Burger berig dat June en Barry Steenkamp (Reeva se ouers) reeds gister van Port Elizabeth na Johannesburg gevlieg het om die verrigtinge by te woon. 

SARIE het by ander ma’s wat dieselfde pad as June gestap het, gaan aanklop. Wat sal hulle vir June sê? Hoe leef jy daarmee saam as jou kind gewelddadig gesterf het?

FOTO: Gallo Images / Reuters

June Steenkamp FOTO: Gallo Images / Reuters

Vir Shireen de Waal van Randburg het die lewe sy sprankel verloor nadat haar laatlam, Louise, ’n gr. 11-leerder, op 12 Oktober 2011 naby Hoërskool Die Burger in Roodepoort aan die Wes-Rand verkrag, vermoor en verbrand is. Shireen spartel steeds om kop bo water te hou.

Ek weet die spirituele paadjie wat ek moet loop, is nog baie lank.

‘Ek praat élke dag met Louise . . .’

Shireen de Waal het net goeie herinneringe aan haar laatlam, Louise, wat naweke op haar bed kom spring en gesels het.

“Moedersdag het sy my met die lekkerste roereier in die bed bederf. Sy was my vertroueling, ’n geskenk. “Louise het die mooiste briewe vir my geskryf. Een is geraam teen my kamermuur. Ek móét met haar praat in my dagboek.”

Aanvanklik het Shireen vir sielkundige berading gegaan. “Ek gebruik steeds antidepressante, maar dit is asof niks regtig help nie.”

Sy huil daagliks. “Ek wil my kind terughê. Ek bestaan net, ek léwe nie.”

En tog het dié gebroke ma al ’n bietjie vorentoe beweeg. Sy het ’n suurlemoenboom – Louise se gunsteling – ter ere van haar geplant. “Dit troos ’n bietjie.”

Die afgelope twee jaar met Louise se verjaardag op 16 Oktober steek die gesin Chinese lanterns aan en stuur dit skemeraand in die lug op. Vir die eerste keer oorweeg Shireen dit om ander treurende ma’s te help deur met hulle te praat.

“Iewers sal jy sekerlik die krag vandaan kry en ek sal dankbaar wees as ek kan help.

“Die lewe is delikaat. Jy weet nooit wanneer dit jou beurt is om te gaan nie. Dit is tydmors om onsinnige argumente te hê of materiële dinge na te jaag. Ons moet mekaar liefhê. Liefde is ’n kragtige emosie.”

Shireen de Waal en Louise FOTO: Verskaf

Shireen de Waal en Louise
FOTO: Verskaf

Sal sy vergewe? “Nooit.”

Shireen het ’n brief aan die moordenaar (die sogenaamde Sondagverkragter) geskryf waarin sy gesê het sy hoop hy vind nooit vrede nie . . . “Kan jy dink waardeur my kind moes gaan? My gelowige engel-kind. As mense sê ‘God neem die goeies eerste’, verlaat ek sommer die geselskap. Ek weet die spirituele paadjie wat ek moet loop, is nog lank, want eintlik het ek my vertroue in God verloor. Ek voel alleen.”

Shireen het ’n dogter en twee seuns uit haar eerste huwelik. Louise (uit haar tweede huwelik) het sedert sy vier was bloedweinig kontak met haar pa gehad en as enkelma het Shireen dikwels gesukkel om alles bymekaar te hou.

“Dié tragedie het ons gebreek. Die eerste jaar en ’n half het ek van almal onttrek en geen energie gehad nie. Ek het ook my werk verloor. Nou het ek weer ’n administratiewe pos. My familie probeer weer uitreik na my en ek is vir die eerste keer weer emosioneel ontvanklik.”

Tog word sy dikwels nog geteister deur ongemaklike gedagtes.

“Ek is spyt ek het my kind nooit behoorlik gaan groet voor sy begrawe is nie. My familie het die eerste twee dae die grusame gebeure van my probeer weghou.

“Al sou dit hóé traumaties gewees het om haar lyk te sien, sou dit my dalk gehelp het om gouer afsluiting te kry.”

AUGustus aug elma smit

*Dit is maar een verhaal van die vroue met wie ons gepraat het vir die artikel “‘June – Neem dit dag vir dag'” in ons Augustus 2014-uitgawe van SARIE. Dié uitgawe is nie meer op die rak nie, maar kan digitaal afgelaai word.