FOTO: Leana Clunies-Ross

FOTO: Leana Clunies-Ross

Hieroor praat mense

Die Oscar-saak sit fokus op dié vroue

Die Oscar-saak sit fokus op dié vroue: Reeva Steenkamp, Oscar se suster Aimée,  Reeva se vriendin Gina Myers, Reeva se ma June Steenkamp én regter Thokozile Matilda Masipa.

Vandag kyk ons na regter Thokozile Matilda Masipa.

Sy toekoms in haar hande

Vroeg verlede maand (Maart) het regter Thokozile Matilda Masipa (66) se moeilike taak begin.

Mediaberigte beskryf haar as “welsprekend, ervare en gereserveerd”. Sy het al verskeie nuuswaardige hofsake, onder meer die vonnis van die reeksverkragter en rower Shepherd Moyo (Axeman), in 2013 behartig. Hy is veelvuldige lewenslange vonnisse opgelê. Masipa was veral ontsteld omdat hy sy slagoffers in hul eie huise, waar hulle gemeen het hulle veilig was, verkrag en vermoor het.

In 1998 is sy as regter in die destydse Transvaalse provinsiale afdeling van die hooggeregshof aangestel; destyds die enigste swart vrou op die regbank buiten die voormalige regter van die konstitusionele hof, Yvonne Mokgoro.

Masipa, op haar dag misdaadverslaggewer vir die Johannesburgse dagblad Sowetan (sy het veral berig oor ongeregtighede tydens die destydse Apartheidsera), was ook ’n maatskaplike werker. Sy het eers laat in haar veertigs deur Unisa in die regte studeer.

Prof. Amanda Gouws van die departement politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch verwelkom dit dat ’n vroueregter ’n saak met onder meer geslagsgeweld as tema verhoor.“Mansregters minag dié kwessie soms; dink byvoorbeeld aan die Zuma-verkragtingsaak.

“Gegewe Masipa se sensitiwiteit oor geslagskwessies, sal sy hopelik onthou dat Reeva die slagoffer is.” Sy meen voorts die hype om Oscar sal wees dat dit ’n ongeluk is, nié geslagsgeweld nie. Maar dit is tog ’n vrou wat dood is omdat ’n man sy manlikheid aan die dra en gebruik van wapens gekoppel het, sê prof. Gouws.

Nog ’n regsgeleerde van Johannesburg, wat anoniem wil baie tyd as gesin saam deur. Dit gaan nie soseer oor wat bly, meen vroueregters het dikwels ’n beter aanslag as mans in familieverwante sake. “Jy kan dit seker toeskryf aan ’n sekere sensitiwiteit. Baie van hulle probeer tog as ma ’n harmonieuse atmosfeer tuis skep. Ek was al in die hof waar ’n vroueregter die beskuldigdes soos ’n ma uitgetrap het oor hul dade. Jy sal dit nooit by ’n mansregter kry nie.”

Kenners reken dat regter Masipa, ná 15 jaar op die regbank, nie sommer van stryk gebring sal word nie.

Bronne: News24; Mail and Guardian

*Dít is deel van ’n groter artikel, “Oscar-saak sit fokus op dié vroue” wat in die April-uitgawe van SARIE verskyn het.