Hieroor praat mense

Die regsvrou agter Selebi

Die dag toe sy die eerste keer Jackie Selebi se lewe binnegestap het, toe een van die grootste sake van die dekade háre geword het, was sy “nogal skrikkerig”, sê Wynanda Coetzee. “Hier’s hierdie groot man in sy uniform, met die mense om hom wat so kwaai en gevaarlik lyk. En hier stap jy in, en jy’s nou maar net hierdie klein vroutjie van Centurion.”

In ’n noupassende turkoois rok sit sy oorkant die blink houttafel in die hotel waar ons op ’n reënerige oggend in Clubview, Pretoria, gesels.

Dis vyf dae nadat Selebi, voormalige nasionale polisiekommissaris en Interpol-hoof, finaal tronk toe gestuur is vir korrupsie, maar by Wynanda is daar geen teken van nagte se wakker lê nie. Alles is eksie-perfeksie geverf en getooi. Jy weet nie hoe oud sy is nie, en sy wil ook nie sê nie, maar sy lyk waarskynlik járe jonger as wat sy ook al op papier is.

Die saak het byna vier jaar lank gesloer, die verhoor sowat sewe maande.

“Dit was ’n baie stresvolle tyd en jy weet, die oom [Selebi] moet kalm gehou word, jy moet die druk van die advokate afhou, getuies bel, dokumente reghou. Dit was erg.”

Nie een keer in die onderhoud verwys sy na die man wat sy verdedig het as Selebi of Jackie of Jackie Selebi nie. Hy is “die kommissaris” of “die oom” of “die great ou man”.

Sal sy dit weer doen? Weer deur daardie doodwerk en doodworry en kruiwaens vol dokumente gaan? Sy lig een wenkbrou en lag sag.

“Ek weet nie, ek weet nie. Dis nie iets wat vir my ’n leertjie na bo gebou of deure oopgemaak het nie.

Miskien is ek nou net moeg en emosioneel.”

’n Flou glimlaggie.

“Maar ek sal dit seker weer doen. Ek het net ’n break nodig tussenin.”

Dis nie asof sy “beroemde mense jag” om hul sake te hanteer nie, maak sy sommer met die intrapslag duidelik.

“Ek is die gewone prokureur wat vir daai klein mens dieselfde effort insit, daai klein outjie wat my stadig moet afbetaal.”

Eintlik het al die publisiteit rondom die Selebi-saak haar ongemaklik gemaak.

“Dis nie my aard nie, ek is nie ’n drama queen nie, so dit was nogal vir my moeilik.”

Die laaste ruk het sy sommer opgehou TV kyk en koerant lees.

“My kinders [twee volwasse dogters] sou die koerante koop en vir my sê: ‘Oe, Ma lyk so kwaai op hierdie foto, smile ’n bietjie. En hoekom is ma se hare nie gekam nie?’” vertel sy.

En ja, daar was ook dié wat haar op internet-forums gekritiseer het.

“Een van my kinders het gelees dat iemand vra hoe ’n Afrikaanse vrou vir die man kan optree. Maar ek het nooit gedink, sjoe, hierdie man is swart, en hy is ANC en hoekom raak ek nou betrokke nie. Ek kyk nie wie jy is, hoe belangrik jy is, wat jou bankbalans of jou politieke affiliasie is nie, dit maak nie saak nie. Ek vat die kliënt soos hy is, met sy hele pakkie.”

Vandat sy kan onthou, regdeur haar grootwordjare op Carolina in Mpumalanga, wou sy prokureur word.

Nes haar oorlede pa, Alwyn Geyser.

“Ons was baie na aan mekaar, en omdat sy werk altyd vir my so interessant geklink het, het ek maar altyd geweet ek gaan dit ook doen.”

Mense dink maklik haar unieke naam is van haar pa se naam afgelei, “maar Wynanda is ’n familienaam”, verduidelik sy. “Ek is nou al die vyfde ene.”

En so het klein Wynanda groot geword en ’n prokureur geword, by verskillende landdroshowe gewerk as aanklaer, in ’n stadium ook by die Staatsprokureur, en toe het sy en haar pa in 1994 hul eie regsfirma, Geyser & Coetzee, begin.

Dís hoe die Selebi-saak by Wynanda beland het. Toe die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) korrupsiebewerings teen Selebi begin ondersoek het, moes die staat iemand aanstel om hom te verdedig en hulle het op Geyser & Coetzee besluit.

“Ek is nie regtig iemand wat maklik skrik of meegevoer raak nie. Dít wat by my beland, doen ek so goed as wat ek kan en dis dít.”

Hul eerste ontmoeting was by die advokatekamers in Brooklyn, Pretoria. Die indruk wat sy vooraf van Selebi gehad het, was van “die indrukwekkende, effens kwaai man”.

“Kyk,” sê sy en lig haar wenkbroue, “hy’s maar steeds half  ’n moeilike man, maar namate ek hom leer ken het, het ek gemaklik geraak met hom.”

En sy hét inderdaad besef sy is besig met “’n groot ding”. “Toe ons weggespring het, was hy nog die hoof van Interpol. So, ek het heeltyd in my agterkop gedink: Jinne, ek moet perfek werk, ek moet ekstra en meer insit.”

En sy en die res van die span het, sê sy. “Daar’s ure en dae, massas sweet, nagte se werk daarin.”  

Selfs nadat hy skuldig bevind is, het sy bly hoop “dat ons ’n saak het wat op appèl kan slaag”.

In daardie stadium het die staat opgehou om Selebi se regskoste te betaal en die span het die appèl-aansoek gratis hanteer.

“Nie een van ons sou vir hom sê ‘hoor hier, jy moet maar gaan’ nie. Ons het so in sy saak geglo.” Só is “’n hele kombi vol dokumente” vir die appèlaansoek na Bloemfontein. Toe hulle ’n maand later hoor sy appèl-uitspraak is die volgende dag, was dit te laat om Bloemfontein toe te ry en het sy saam met Selebi en sy nabye mense in sy huis in Waterkloof na die uitspraak op TV gekyk.

“Dit was baie sleg. Dit was ’n vreeslike stresvolle ding, hoor. Hy kon dit nie glo nie. Sy gesondheid en sy gestel kon dit nie vat nie, en toe is hy per ambulans hospitaal toe.” Dis al wat sy daaroor wil sê, want sy familie het haar gevra om nie besonderhede te gee nie.

Eers daardie aand, toe sy by die huis kom, het die werklikheid van die uitspraak by haar ingesink, die teleurstelling ná jare van alles insit.

“Ek het net my skoene uitgeskop, vir my ’n glasie wyn geskink en met my voete in die lug ’n sinnelose CSI-program gekyk. Maar in jou kop hou jy nooit op dink nie: Wat gaan ek nou doen, moes ek iets anders gedoen het?”

Maar nee, sy het nie gehuil nie.

Die uitspraak was op ’n Vrydag en daardie Maandag, 5 Desember, moes hulle Selebi na Pretoria-Sentraal-gevangenis neem om sy tronkstraf van 15 jaar te begin uitdien.

“Dáár het ek gehuil, hoor. Daar het ek gehuil.” Trane wel weer in haar oë op. “Ek het vir hom ’n drukkie gegee en gesê: ‘It’s okay, we’ll see what we can do.’ Maar hy was so verdwaas. Hy het net soos ’n verdwaasde, verslae mens daar gesit. Hy’t net gesê: ‘Thank you, it’s gonna be okay.’”

Sy respekteer die regters en die uitspraak en berus daarby. “Ek weet ons spannetjie het die hele tyd beter as die beste perform. Deurentyd, tot op die einde, het ons ongelooflike regsargumente gehad. Ek het hartseer maar nie skuldig gevoel oor enigiets nie. Ons het emmers vol sweet gelos, en kamers vol papiere.”

En dis nou presies waar sy dit moet los, sê sy: Toegemaak, afgesluit, weggepak in daardie dik Selebi-lêers.

“Jy moet dit maar verwerk en in ’n kompartement bêre en aangaan. Jy moet dit maar sag maak vir jouself, anders dink ek sal ’n ou nie slaap nie.”

Daarom, wanneer sy nié in die hof of op kantoor is nie, maak sy kos, kuier saam met haar man en dogters, speel Ben 10 met haar kleinseun en jag aliens saam met hom.

“Dan vergeet jy van al die dinge.” Sy kyk af na die servet waarmee sy speel.  “Maar ja, iewers bly dit tog in jou kop.”

[box:full:grey:both]

SÓ HET DIE 
SAAK VERLOOP

Mei 2006: Die koerant Mail & Guardian vlek Selebi se bedenklike verhouding met die dwelmhandelaar Glenn Agliotti oop.

Mei 2007: Adv. Vusi Pikoli, destydse hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, waarsku pres. Thabo Mbeki oor die korrupte verhouding tussen Selebi en Agliotti.

1 Februarie 2008: Selebi verskyn in die Randburgse landdroshof op aanklag van onder meer korrupsie.

5 Oktober 2009: Die korrupsie-
verhoor begin in die Hooggeregshof in Johannesburg.

2 Julie 2010: Selebi word skuldig
bevind aan korrupsie: Dat hy betalings van altesaam sowat R170 000 van Glenn Agliotti gekry het in ruil vir invloed en inligting.

3 Augustus 2010: Hy word tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.

1 Novovember 2011: Sy regspan doen aansoek om appèl teen die skuldigbevinding.

2 Desember 2011: Die aansoek om appèl word van die hand gewys en die hoogste hof van 
appèl in Bloemfontein bekragtig die skuldigbevinding en vonnis.

5 Desember 2011: Selebi begin 
sy 15 jaar tronkstraf by die Pretoria-Sentraal-gevangenis uitdien as ’n siek man.  

* Bronne: Wynanda Coetzee; Beeld-argief; Mail & Guardian-argief; Finish & Klaar: Selebi’s Fall from Interpol to the Underworld deur Adriaan Basson (Tafelberg)        

[/box]

  • Elize Verwaaij-Mare

    Wynanda ons is saam met jou bly vir hierdie groot "break" wat jy gekry het, het jou leer ken as ‘n nederige mens jare gelede, en jy het nie ‘n aks verander of vertonerig geraak nie. Bly die mens wie jy is, en jy sal dit nog verder bring