FOTO: Facebook

Hieroor praat mense

Hoe veilig is jy by jou geliefde?

Met die Shrien Dewani-saak wat vanoggend begin het, val die fokus weer op hoe veilig vroue binne ’n verhouding is.

Die Burger berig vanoggend dat Anni Dewani, wat in 2010 met Shrien getrou het en tydens hul wittebrood in Suid-Afrikan vermoor is, se niggie Sneha Mashru in Januarie 2011 ’n verklaring afgelê het waarin sy vertel dat Shrien krities teenoor Anni was. Shrien word daarvan beskuldig dat hy betaal het om haar te laat vermoor, maar hy het vanoggend in die Wes-Kaapse hooggeregshof onskuldig gepleit.

Op hul troudag, op 27 Oktober 2010, het hy haar blykbaar gekritiseer dat haar sari nie reg is nie. Hy het ook vir Sneha gevra om saam met om te gaan om vir Anni klere te koop.“Hy wou die ‘lelike eendjie’ in ’n pragtige swaan verander,” sê Sneha.

FOTO: Twitter

FOTO: Twitter

Sy beskryf ook dat hul verhouding nie altyd gelukkig was nie. Lees die volledige berig hier.

SARIE se Gloria Cilliers het vroeër vanjaar met kenners gepraat oor die gevaartekens in ’n verhouding.

Is jóú maat ’n gevaar?

Prof. Anni Hesselink van UNISA sê daar is gewoonlik ’n sneller wat ’n man daartoe dryf om sy maat te vermoor. “Dis gewoonlik iets wat hom bedreig laat voel, of hom laat voel hy verloor beheer of mag. In die meeste gevalle is dit wanneer jy gedreig het of besluit het om hom te los, of hom gelos het. Ander algemene snellers wat tot moord lei, sluit in jaloesie (oor jou finansies, intellek, sosiale status of die vermoede of wete dat jy ’n ander man ontmoet het), wraaksug, gevoelens van teleurstelling, agterdog en mislukking.”

As jy ja sê op meer as vyf van die volgende vrae, moet jy op jou hoede wees.

Vra jouself af

  • Verkleineer of beledig hy jou?

  • Het hy erge woedeuitbarstings?

  • Is hy aggressief?

  • Het julle seksuele probleme?

  • Stamp of slaan hy jou?

  • Verander jy jou gedrag, kleredrag, haarkleur, wat jy eet, vriende, ens. om hom gelukkig te maak?

  • Wil hy heeltyd in beheer wees en al die besluite neem?

  • Probeer hy jou heeltyd verander en aanvaar jou nie soos jy is nie?

  • Is hy baie jaloers en besitlik? (Kyk hy bv. na jou selfoon- of Facebook-boodskappe)

  • Is/was jy al ooit bang vir hom?

  • Voel jy geïsoleer? (Belet hy jou bv. om sekere dinge te doen/ mense te sien?)

  • Is jy die een wat altyd jammer sê of jou keuses prysgee ter wille van syne?

  • Het hy ’n obsessie met vuurwapens?

Hoe gemaak as jou instink inskop?

“Luister na jou instink,” sê dr. Tanya Robinson, forensiese spesialis van Johannesburg. “As jy hulpeloos, depressief of angstig begin voel, is jy in ’n gevaarlike situasie. Emosionele teistering, manipulasie, beheer oor jou lewe, emosies, denke en finansies is rooi ligte.”

Lisa Vetten, navorser by die Universiteit van die Witwatersrand se Instituut vir Sosiale en Ekonomiese Navorsing (WiSER) sê as jy besef jou man is gevaarlik, aanvaar jy gaan hom nie kan beheer of verander nie. “As jy hom ’n laaste kans wil gee, moet hy verantwoordelikheid aanvaar en gewillig wees om te verander, soos byvoorbeeld instem om vir terapie te gaan. Besluit dan waar jy die streep trek. As dit by ’n vuishou is, en hy slaan jou weer, moet jy wegkom.”

As terapie nie werk nie, en veral as jy besef jou man is die psigopatiese tipe, moet jy so gou moontlik probeer wegkom, waarsku dr. Robinson. “Betrek onmiddellik ’n familielid of vriend, of selfs ’n terapeut of POWA, om jou te help. Moenie vir hom sê jy gaan hom los nie. As jy eers weg is met jou kinders, veral as jy voel jou lewe is steeds in gevaar, kan jy die polisie en ’n prokureur gaan sien en ’n hofbevel kry wat hom verbied om naby julle te kom. Jy kan egter nie net op die hofbevel staatmaak nie. Maak seker julle is veilig. Gaan bly ver weg as jy kan, sit ’n alarmstelsel in, lig die veiligheidswagte in jou area in oor jou situasie.”

Dis nie maklik nie, maar doen dit voor dit te laat is, sê Lisa. “Jy’s dalk bang, dink dis nie finansieel moontlik om met jou kinders weg te kom nie, of dat jy waardeloos is sonder hom. Maar ’n nuwe lewe ís moontlik.”

*Dié inligting kom uit die artikel “Is jy veilig by jou geliefde?” in jou Julie 2014-uitgawe. Dié uitgawe is nie meer op die rak nie, maar jy kan dit steeds digitaal aflaai – klik HIER.