FOTO Unsplash / Charlie Foster

Hieroor praat mense

Dís die redes waarom SA’ners skei

Januarie is ongelukkig ’n gewilde maand vir egskeidings, en kenners reken dis omdat die geld dan gewoonlik knyp óf omdat mense dalk meer kans sien vir uitdagings in die nuwe jaar.

En Suid-Afrika volg dieselfde trend as die res van die wêreld. Volgens StatsSA is daar ’n groot daling in Suid-Afrikaners wat trou. Wie weet, dalk speel ons stygende egskeidingskoers van 0,5 – wat neerkom op ’n styging van 3,4% vanaf die vorige jaar! – ’n rol …

Daar is allerlei nuwe redes vir egskeidings, meen Bertus Preller, ’n egskeidingsprokureur en kenner van familiereg.

Moontlike redes wat aangevoer word vir egskeiding, is:

• Swak kommunikasie (23,4%)
• Verneukery (21,6%)
• Mishandeling (11,9%)
• ’n Gebrek aan intimiteit/seks (10,9%)
• Liefde wat getaan het (7,24%)
• Geldprobleme (5,74%)
• Verslawing (4,87%)
• Inmengerige ouers (3,37%)
• Godsdiensverskille (2,25%)

Volgens Google Analytics, wat internetgebruikers se gedrag ontleed, het sowat 465 420 unieke besoekers in Suid-Afrika die webtuiste www.divorcelaws.co.za tussen 1 Augustus 2015 en 30 Augustus 2016 besoek. Meer as 60 persent van hulle was vroue.

Meer vroue as mans dagvaar hul eggenoot vir egskeiding. Die gemiddelde ouderdom vir mans en vroue wat skei, is onderskeidelik 43 en 40.

Wat doen die Britte?

Daar is verskillende maniere om oor ’n egskeiding te kom. Maar die Britte het deesdae die keuse om hul seer hart by ’n hotel te gaan dokter.

Die eerste sogenaamde Heartbreak Hotel het in Oos-Sussex in die suidooste van Engeland oopgemaak. Jy bespreek ’n naweek by die Ashdown Park Hotel waar jy in ’n kursus leiding kry om jou gebroke hart te herstel.

Die groot doel: om die fokus weg van jou eks terug na jou te verskuif. Een van die tegnieke is om nie jou eks se naam te noem nie, jy noem hom of haar net op die voorletter. Dan is daar ook verbeeldingstegnieke soos om prentjies van jou sorge te teken en dit dan weg te gooi, of jouself te verbeel waar jou lewe oor 10 jaar kan wees as jy jou van jou eks kan losmaak.

Buiten die kursus word jy ook by die hotel op die hande gedra en gepamperlang – klink soos iets wat kan werk!

Bron: MailOnline

Nóg oor egskeiding op SARIE.com

Jy kan egskeiding oorleef!

Wat is grys egskeiding?

Verhoudingsblog: Die 10 gedragspatrone wat tot ’n egskeiding kan lei