Hieroor praat mense

Dít is wat wag op Kate

Die pragtige, gewone meisie wat ’n prins se hart steel en met hom trou. Dít is die sprokiesverhaal waarin Kate Middleton haarself bevind.

Maar soos baie mense ná die vele lesse van die verlede besef, betaal sy ook ’n prys vir haar besluit om op 29 April met prins William van Brittanje te trou. Vir die res van haar lewe gaan sy in die kollig en in fotograwe se lense wees. Haar verhouding met haar familie en vriende gaan verander. Sy gaan nooit weer sommer net sorgeloos kan wees nie.

Wat lê regtig vir Kate voor, of Catherine, soos sy verkies om genoem te word, of prinses William van Wallis, soos sy waarskynlik ná haar troue bekend gaan staan.

Katie Nicholl, skrywer van die boek The Making of a Royal Romance, meen Kate gaan uitstekend vaar. “Sy het byna ’n gebore statigheid en boonop ’n glansvoorkoms. Dis ’n baie opwindende tyd vir die Britse monargie,” vertel Katie in ’n eksklusiewe onderhoud met SARIE uit Londen.

Sy sal weet, want as koninklike verslaggewer vir die Britse koerant The Mail on Sunday is dit haar werk om op hoogte te wees van wat in die koningsgesin se binnekring aangaan. Haar boek William and Harry (Random House) het verlede jaar verskyn en sy het nou twee nuwe hoofstukke oor die verhouding en verlowing bygewerk, vandaar die nuwe titel, The Making of a Royal Romance.

Op die groot dag gaan sy vir TVkanale soos die Amerikaanse ABC TV,CNN en die Britse BBC News verslag doen oor die troue en sy lewer ook vooraf insetsels vir hulle. Katie was deel van ’n uitsoekgroep van die media wat dáár was toe die paartjie hul verlowing by die St. James-paleis aangekondig het. Kate se saffierring, omring met veertien diamante, is die een waarmee prins Charles op 24 Februarie 1981 aan Diana verloof geraak het.

“Ek kon sien Kate was ’n bietjie ongemaklik, maar William het haar op haar gemak gestel,” vertel sy. “Kate het die media baie goed hanteer.” William wil beslis nie te veel druk op sy prinses plaas met koninklike verpligtinge nie, meen Katie. “Sy was tot nou baie op die agtergrond. William wil hê hul lewe moet so normaal moontlik wees.

“Dis opvallend dat daar ’n vonk tussen hulle is. Hy hou daarvan om haar om die lyf te vat.”En dan vertel sy ook dat William soms probeer kook, maar gewoonlik die kos verbrand!

“Hulle gaan eers nie huispersoneel hê nie, net ’n huishoudster. Kate gaan die inkopies doen. Sy is ’n uitstekende kok en hou daarvan om saans vir hom’n lekker bord kos gereed te hê. Sy gunsteling is die toad in the hole, ’nYorkshiredeeggereg met ’n stuk wors daarin.”

Koningin Elizabeth het dit glo ook duidelik gemaak dat die foute wat in die verlede met Diana gemaak is, vermy moet word. Maar Katie reken Kate is voorbereid op die toekoms. En daar is eintlik meer verskille as ooreenkomste tussen haar en Diana.

“Diana was maar 20 toe sy getroud is. Kate het op 9 Januarie vanjaar 29 geword en het reeds ’n volwasse verhouding van agt jaar met William, wat op 21 Junie 29 word. Daar was ’n ouderdomsverskil van twaalf jaar tussen Charles en Diana.

Kate en Wills was daarenteen studentelieflinge en is op dieselfde golflengte. Hulle het boonop lank saamgewoon. “Kate het nou ’n mate van grasie voor sy voltyds haar nuwe lewe moet ingaan. Sy gaan eers ’n paar jaar in die noorde van Wallis op die afgesonderde eiland Anglesey woon, in ’n plaashuis, sonder personeel, nét saam met prins William. Hulle gaan nie hope koninklike verpligtinge hê tot tyd en wyl hy oor sowat twee jaar sy opleiding by die Royal Air Force (RAF) voltooi het nie.

“Daar gaan dus nie soveel druk op haar wees soos daar destyds op Diana was nie. Sý moes dadelik wegval met oorsese toere. Diana het Charles ook nie so goed geken nie en nie juis kans gekry om aan die koninklike lewe gewoond te raak nie. En sy het nie Kate se selfversekerdheid gehad nie.”

Kate word geleidelik in konstitusionele geskiedenis geskool deur een van koningin Elizabeth se raadgewers, sir David Manning (61). (Hy was ook ’n raadgewer vir Tony Blair, ’n voormalige Britse premier.) Sy kry ook onderrig in die redenaarskuns en in Europese tale soos Spaans en Frans.

“Sy word dus goed voorberei. En is eintlik al jare lank, sedert sy en prins William op St. Andrews-universiteit in Skotland was, blootgestel aan dié soort lewe. Sy het al gewoond geraak aan die paparazzi en kan hulle met groot sjarme hanteer.

“Sy was nog nooit luidrugtig nie en het ook nooit ’n skewe of indiskrete woord laat val nie. Dis waarskynlik een van die redes hoekom William, selfs nadat hulle twee keer uitmekaar was, by haar gebly het. Lojaliteit, diskresie en vriendskap tel vir hom meer as dat Kate net ’n commoner is en nie uit die adelstand kom nie. Kate rebelleer ook nie teen die bloubloed-omgewing nie.”

Hoewel Kate steeds tyd sal maak vir haar ouers, Carole en Michael Middleton van Berkshire, eienaars van ’n aanlyn-posbestelsakeryk, en haar suster, Pippa (27), en broer, James (23), en haar vriende, sal haar tyd vanselfsprekend nie meer haar eie wees nie. Sy sal van nou af veral spesiale dae, soos oor die Kerstyd, saam met die Britse koningsgesin moet deurbring.

Verlede jaar het sy wel Kersdag by haar gesin op die dorpie Bucklebury in Berkshire gekuier. “Prins William het Kersdag 2010 aangebied om aan diens te wees by die lugmagbasis in Wallis, waarskynlik omdat hy Kate ’n laaste Kersfees sonder koninklike protokol gegun het,” vertel Katie. William is by 23 liefdadigheidsorganisasie betrokke. Kate is veral gemoeid met die Starlight Children’s Foundation en hulle het haar gevra om hul ambassadeur te wees. “Sy het ’n baie sagte plek vir kinders. Maar William se organisasies sal waarskynlik tussen hom en Katie verdeel word.”

Boonop wag die geluid van pienk voetjies.“Hulle het reeds op die dag van hul verlowing gesê hulle wil met ’n gesin begin,” sê Katie.

Intussen is modeliefhebbers nuuskierig oor wat Kate se stylinvloede gaan wees. Diana was ’n mode-ikoon. Die koningshuis wil nie graag dat Kate as modebehep beskou word nie. “Kate het tot dusver alle aanbiedings van stiliste van die hand gewys, anders as prinses Diana,” sê Katie. “Sy het haar eie styl en weet wat sy doen. Haar klere is nooit te skraps nie en sy’s elegant. Sy moet net haar stewelstyl verander, want dit lyk altyd dieselfde.

Haar gunsteling-mode-etiket is dié van die Brasiliaanse ontwerper Issa. Sy hou ook van sogenaamde high street fashion, veral van die afslagontwerpersetikette van die winkel TK Maxx in Londen, en kettingwinkels wat gehalte-ontwerpersklere verkoop, soos Reiss en L.K.Bennett in King’s Road, Londen. En sy loer soms in by afdelingswinkels soos Peter Jones.”

So, weet Kate hoe om haarself op haar prinses-voete te balanseer? Katie voorspel net goeie dinge. “Ons het ’n unieke, wonderlike koninklike gesin. En Kate wéét wat sy doen.”

  • Ursuala

    Ek weet sommer hulle gaan gelukkig wees, daar is maar altyd skaaf plekke maar die Here stap saam in die moeilike tye as ons dit toelaat! Hulle is great en goed vir ander mense ook! Kate en William maak nie saak wat mense se nie julle doen soos dit vir julle werk en moet nooit worry wat ander mense se of dink nie! Let the great journey begins.Al 4 jaar getroud en ken mekaar 11 jaar lank en nog steeds verlief met skaaf plekke en al!

  • Anna-mari Meiring

    Dit klink vir my of sy n plat op die aarde persoon is, hoop dat hulle n gelukkige huwelikslewe saam sal hê, en dat hulle in die soet en die suur bymekaar sal staan.

  • Tersia Coetzer

    Ek is bly sy weet wat op haar wag. Dis enige meisietjie se droom om n prinses te wees. Maar sy is pragtig en statig. Kate, mag jy en jou ridder altyd soveel geluk en liefde aan julle kant van die lewe geniet. Groete Mosselbaai.

  • Ziska de Jager

    Catherine is uitgemaak vir Royaliteit. Sy het ‘n natuurlike skoonheid, elegansie en volwassenheid. Vrouens reg oor die wereld beny haar maar meer as dit admireer mense haar. Sy is verwelkomend en gemaklik met haar status. Ek wens hulle net geluk en voorspoed toe. Twee is beter as een en ‘n gelukkige paartjies kan berge saam versit! Geluk!

  • Skuilnaam

    Wat ‘n stylvolle voorbeeld van leierskap en grasie. Dit is ongelooflik. SA sit duidelik die pot mis met sy sogenaamde St 3 leier met sy weet nie hoeveel vetgevoerde vroue en kinders nie. Wat ‘n gemors..