Dit kóók in 2010!
Dit gaan ’n gróót jaar wees. Groot sokker, groot hare en groter figure. SARIE het by kenners gaan kers opsteek oor wat om te dra, wat om te doen en wie om dop te hou. Hier's 3 trends om voor uit te kyk.
Gróót hare
’n Haredos wat baie by die wortels gelig word en woes lyk, is die nuwe gier. Kortom: dink “groot hare” soos ons in die 1980’s gesien het. Dit moet lyk asof jou hare deur die wind verwaai is. Dit moenie ’n definitiewe krul hê nie, eerder ’n kinkel wat deurmekaar gemaak is. - Adelle Jung, haar- en grimeerkunstenaar
Jeans wys been
Die aktrises Cameron Diaz, Katie Holmes, Kate Beckinsale en sangeres Brandy . . . álmal dra dit! Dis die jaar van die ripped denim – wys been én dra jeans. Die horisontaal geskeurde jeans is ’n mode-tendens van die 80’s. Jy kan dit stylvol laat lyk deur dit met ’n klassieke wit hemp of ’n paar sjiek skoene te dra. - Mari Groenewald, stilis
Elektroniese boek
Die e-boek raak ál gewilder. Die aanlyn-boekwinkel Amazon se Kindle (die toestel kos sowat R2 000 en is in 100 lande, ook in Suid-Afrika, beskikbaar) is warm nuus. Jy kan hierop, teen betaling, onder meer koerante en tot 1 500 volledige boeke elektronies aflaai. Dis dun en lig en lees maklik, sonder dat dit weerkaats. Die Kindle is in 2007 in Amerika bekend gestel. ’n Soortgelyke produk is die Sony Reader. - Maryke Cumpsty, SARIE-webredakteur
* In die Januarie 2010-uitgawe verklap ons nog van die nuwe jaar se grootste trends.
Verwante artikels
-
Michélle se redakteursbrief: 2010 - hier kom ons nou!
SARIE Januarie 2010
















Kommentaar