Hieroor praat mense

Eben Venter maak stem dik teen ‘Fracking’

“Op ’n someraand op Prins Albert het ek op ’n plaaspad met die honde gaan stap. Veldstil was dit met net die blaas-blaas van die honde en die poeiersoet reuk van doringboomblom.

Ek kom op ’n familie af wat padlangs uitspan: Meisietjies met vlegsels en kaalbolyf-seuntjies, die
vuur net aan die gang langs hul donkiekar met skrapserige proviand, die twee donkies, Fleur en Patience, en ’n klompie honde.

“Ons begin oor honde gesels. Oor wat sy geselskap elke dag vir jou beteken. Naderhand begin ons
oor water gesels. Die donkies is nog nie laat suip nie. Die mense kan nie sommer die hek daar oopmaak en hulle in die boer se spruit laat drink nie. Hulle sal raas kry.

“Jy loop seker maar dié soort mense elders ook raak, maar vir my is hulle, met hul lekker los, grappige tongvalle en droë, gestroopte manier van kyk na dinge, bloed en sening met die Karoo-aarde verknoop. As magtige gaskorporasies die bitter skaars waterbronne van die Groot-Karoo enigsins deur aardgas-onttrekking besoedel, wel, ek weet nie waarnatoe sal die mense dan wyk nie.”