FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

Hieroor praat mense

Eerste Zika-baba in Amerika gebore

’n Dogtertjie met ’n klein skedel weens die Zika-virus is Dinsdag in ’n hospitaal in New Jersey, Amerika, gebore.

Dis glo die eerste baba met mikrokefalie (’n klein skedel en brein) wat op die vasteland van die VSA gebore is, berig The Telegraph. In Februarie is so ’n baba wel op Hawaii, die Amerikaanse eilandstaat, gebore.

Die ma van die New Jersey-baba is van Honduras in Suid-Amerika. Sy het in die VSA kom kuier, maar is glo in haar tuisland deur die Aedes-muskiet gebyt, berig The Telegraph. Haar identiteit word beskerm.

Die virus word deur besmette muskiete versprei. ’n Swanger vrou wat die virus onder lede het, het ’n risiko dat haar baba met mikrokefalie gebore word.

In 2015 is 3 500 babas met ’n klein skedel en brein in Brasilië in Suid-Amerika gebore. En in April het gesondheidsbeamptes bevestig dat dié verskynsel inderdaad deur die Zika-virus veroorsaak word, berig The New York Times

Toe dr. Abdulla Al-Khan Dinsdag dié baba verlos, het hy net in trane uitgebars.

“Ek was nie emosioneel voorbereid nie. Ek was verpletter,” het Al-Khan in ’n perskonferensie gesê, berig Los Angeles Times.

Die swanger vrou het verlede Vrydag by die Donna A. Sanzari-vrouehospitaal opgedaag. Dokters het ’n ultraklankskandering gedoen en besef daar skort iets met haar baba. Verdere toetse het toe bevestig dat die dogtertjie aan mikrokefalie lei.

Vinnige feite oor die Zika-virus

1. Die Zika-virus kom veral in tropiese gebiede voor en is al in dele van die Amerikas, Afrika en Asië aangemeld.

2. Die virus word deur die Aedes-muskiet oorgedra.

3. Daar is nog geen teenmiddel of inenting beskikbaar nie.

4. Simptome: Moegheid, koors, spierpyn en ’n uitslag. Simptome duur so 2 tot 7 dae.

Bronne: VOX, WGO, The Telegraph

Olimpiese Spele 

In Augustus vind die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië, plaas. Sprake dat die Spele uitgestel of na  ’n ander land verskuif gaan word, het op die kuberruim die ronde gedoen.

Maar die Wêreld-Gesondheidsorganisasie (WGO) het in ’n verklaring gesê so ’n besluit gaan nie verhoed dat die Zika-virus internasionaal versprei nie.

Die WGO raai egter alle swanger vroue aan om nie Rio toe te gaan vir die Olimpiese Spele nie.

Lees nou

Everest-slagoffer: Wewenaar blameer homself

Afrika-stad een van wêreld se 10 duurstes

Gorilla geskiet – reg of verkeerd?