Anne Laing en Mister Mac. FOTO: verskaf

Anne Laing en Mister Mac. FOTO: verskaf

Hieroor praat mense

En die wenner is … Anne Laing!

Dié fotograaf is pas die derde keer aangewys as fotograaf van die jaar by die SAB Media Awards.

Anne Laing het vanjaar saam met die gesogte titel boonop die eerste prys verower vir die beste aksiefoto van 2016. Sy is ook in 2015 en 2011 by dié toekenningsgeleentheid aangewys as fotograaf van die jaar.

In 2011 het sy vir die eerste keer ingeskryf en sommer met die intrapslag korte mette gemaak met die ander kandidate. Sy is toe gekroon as SAB fotograaf van die jaar en het ook die prys gekry vir die beste foto van die jaar.

Anne se 2011 wenfoto. Juan Smith (links) en Victor Matfield duik Nieu-Seeland se Kieran Read. FOTO: Anne Laing/HSM Images

Anne se 2011-wenfoto. Juan Smith (links) en Victor Matfield duik Nieu-Seeland se Kieran Read. FOTO: Anne Laing/HSM Images

 

Vir haar was dit ’n groot verrassing, want die portefeulje van 10 foto’s wat sy daardie jaar ingeskryf het, het sy blitsig bymekaargegooi, byna op die laaste minuut nadat ’n vriend en medefotograaf Etienne Rothbart haar oortuig het om in te skryf.

Die suksesse is groot, maar Anne se pad was nie altyd sonder struikelblokke nie. Nadat sy haar graad in regte voltooi het, het sy besef dis nie wat sy wil doen nie. Haar passie vir fotografie het haar in 1981 na die Cape Times gelei, waar sy vir drie jaar gewerk het as ’n “photographic controller”. Sy lag as sy vertel sy was eintlik net iemand wat die fotograwe se negatiewe moes liasseer en wanneer die publiek ’n foto bestel het, moes sy dit laat druk en die foto’s versend. Sy het ook ingestaan vir fotograwe as hulle siek of met verlof was.

“In 1983 het ek my kans gekry toe ek aangestel is as fotograaf by die einste Cape Times. Ek het gevorder tot hooffotograaf in 1986 en het in 1996 die fotoredakteur geword. Ek het einde 1998 Pretoria toe verhuis om die fotoredakteur van’n daaglikse sportkoerant, Sports Day, te word. Helaas, die koerant was nie goed bemark of versprei nie en ná sewe maande was ek op straat omdat die koerant gesluit het. Ek vryskut sedert die laat 1990’s. Ek het ’n kontrak om foto’s te lewer aan Highbury Safika Media, wat verskeie sporttydskrifte uitgee, onder meer SA Rugby, SA Cricket en Sowetan Soccer.”

“Dit was moeilik om as vrou mee te ding met mans, want sportfotografie word steeds deur mans oorheers. Ek het nie probleme daarmee nie, maar ek kan nie dieselfde van al die mans sê nie. Reg aan die begin van my loopbaan by die Cape Times moes ek een keer ’n rugbywedstryd gaan afneem. Toe sê ’n kollega ek kan nie gaan nie, want ek kan nie in die kleedkamers ingaan om foto’s te neem nie! Almal was skepties aan die begin, maar ek glo my foto’s doen die praatwerk,” vertel Anne aan SARIE.com.

Chad le Clos kyk om te sien waar opponent Michael Phelps is tydens die 100m vlinderslag by die 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië. Ironies het hy tweede geëindig saam met Phelps en Hongarye se László Cseh- almal het dieselfde tyd van 51.14 se aangeteken.  FOTO: Anne Laing/HSM Images

Chad le Clos kyk om te sien waar opponent Michael Phelps is tydens die 100 m-vlinderslag by die 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië. Ironies het hy tweede geëindig saam met Phelps en Hongarye se László Cseh – almal het dieselfde tyd van 51.14 s aangeteken. FOTO: Anne Laing/HSM Images

 

“Ek was verras om te sien hoe min vroulike fotograwe daar by vanjaar se Olimpiese Spele in Rio was. Dit was my eerste Olimpiese Spele en dit was eenvoudig net fantasties. Jy kan jouself kwalik vooraf die skaal daarvan voorstel. Verbeel jou dis twee Sokkerwêreldbekers wat in ’n week ingepas word! Ek het die geleentheid gekry om ongewone sportsoorte af te neem, soos skerm, duik, BMX-fietsry en roei.”

Kuba se Yordan O'Farrill Olivera (links) en Duitsland se Gregor Traber is nek aan nek oor die hekkies tydens hul wedloop by die 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië. FOTO: Anne Laing/HSM Images

Kuba se Yordan O’Farrill Olivera (links) en Duitsland se Gregor Traber is nek aan nek oor die hekkies tydens hul wedloop by die 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië. Hierdie foto is ook bekroon as die beste aksiefoto van die jaar. FOTO: Anne Laing/HSM Images

“Dis vir my opwindend om sportdissiplines wat ek nog nie afgeneem het nie, af te neem. [Lag] Nadat ek my portefeulje ingeskryf het, het ek afgekom op ’n beter foto van skerm as die een wat ek ingeskryf het. ”

 Russiese verspringer Darya Klishina tydens die eindronde van die vroue verspring by die 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië. FOTO: Anne Laing/HSM Images


Russiese verspringer Darya Klishina tydens die eindronde van die verspring vir vroue by die 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië. FOTO: Anne Laing/HSM Images

 

Waaraan skryf sy ’n goeie sportfoto toe? “Jy moet die sport ken en kan antisipeer wat volgende gaan gebeur. Dit help ook om die spelers te ken, want dan kan jy voorspel wat sy spelpatroon gaan wees. Ek bestudeer altyd die spelers wat ingesluit word in spanne. So het ek jare gelede byvoorbeeld geweet Joost van der Westhuizen was ’n skrumskakel wat baie daarvan hou om weg te breek na die blinde kant. Daarom was ek gereed vir die foto, omdat ek geweet het waar om te kyk! Nodeloos om te sê, rugby is een van my gunsteling-sportsoorte. En atletiek ook. Ek hou van die verskeidenheid op die baan en in die veld, maar min sportsoorte kom by rugby. Die vinnige aksie, die intensiteit, veral as dit ’n groot game is … Jy voel die spanning by die spelers wanneer daar so baie op die spel is.”

Franse senter Wesley Fofana (regs) op pad om ’n drie te druk teen Romenië in the RWB by die Olimpiese Stadium, Londen. Aan die linkerkant is die Roemeense vleuel Madalin Lemnau wat ook op sy kop land in ’n poging om die drie te keer. Dis my gunsteling-foto van die 2015 RWB en die ongewoonste rugbyfoto wat ek in jare geneem het. FOTO: Anne Laing/HSM Images

Franse senter Wesley Fofana (regs) op pad om ’n drie te druk teen Roemenië in the RWB by die Olimpiese Stadium, Londen. Aan die linkerkant is die Roemeense vleuel Madalin Lemnaru wat ook op sy kop land in ’n poging om die drie te keer. Dis my gunsteling-foto van die 2015 RWB en die ongewoonste rugbyfoto wat ek in jare geneem het. FOTO: Anne Laing/HSM Images

 

Anne reis baie en sy reis nie lig nie. Haar kameratoerusting weeg byna 18 ½ kg en die rugsak op haar rug met haar rekenaartoerusting sowat 9 kilo’s. Sy lag lekker wanneer sy vertel dat sy ’n dikke baadjie ingepak het om saam te neem Olimpiese Spele toe. “Ek het nie besef die winters is so matig nie. Die dag toe die Blitsbokke gespeel het, was dit 35 °C. Ek vat altyd te veel goed, maar ek kan nie met toerusting lig pak nie.”

Swemmer, Adri Visser, in aksie by Ellis Park swembad  in Johannesburg tydens die Nedbank Nasionale Kampioenskappe vir liggaamlik Gestremdes. Ek het soveel respek vir die atlete. Ek het die kampioenskappe bygewoon, alhoewel ek nie gevra is om dit te doen nie. Hulle verdien elke bietjie media dekking wat hulle kan kry. FOTO: Anne Laing/HSM Images

Swemmer Adri Visser in aksie by die Ellispark-swembad in Johannesburg tydens die Nedbank Nasionale Kampioenskappe vir liggaamlik gestremdes. Ek het soveel respek vir die atlete. Ek het die kampioenskappe bygewoon, alhoewel ek nie gevra is om dit te doen nie. Hulle verdien elke bietjie mediadekking wat hulle kan kry. FOTO: Anne Laing/HSM Images

 

Haar twee Skotse terriërs, Bonnie Bin Laden en Mister Mac, weet maar alte goed as hulle die tasse sien dat Anne weer op pad is. “Hulle hou nie daarvan nie. Veral Bonnie Bin Laden, sy soek iets om te kou, net om my deeglik bewus te maak daarvan dat sy nie daarvan hou dat ek weggaan nie. So het sy al verskeie besproeiingstelsels opgekou; skoene en selfs meubels het al deurgeloop. As my lewensmaat ook moet reis wanneer ek weg is, kom kyk my fantastiese honde-oppassers na die tweetjies.”

Bekroonde fotograaf Anne Laing. FOTO: verskaf

Bekroonde fotograaf Anne Laing. FOTO: verskaf

Lees nou

Rooitapyt-glans vir Usain Bolt se film-première

Willem Botha: Sanger, TV-aanbieder, akteur, en nou ook fotograaf!

Wenfoto van Wildfotograaf