Maria Strydom en haar man, Robert Gropel.
FOTO Facebook

Maria Strydom en haar man, Robert Gropel. FOTO Facebook

Hieroor praat mense

Everest-slagoffer: Man blameer homself

Maria Strydom, ’n oud-Tukkie wat in Australië gewoon het, het 20 Mei op Everest in haar man se arms gesterf aan hoogtesiekte. Dit was nadat sy die suidelike piek van die berg bereik het. Haar liggaam het Dinsdag in Melbourne aangekom, berig Daily Mail.

Haar familie het die afgelope week ’n fondsinsameling gehou vir die groot uitgawe om Maria se liggaam van Everest na Australië te bring. Om ’n lyk van Everest af te bring kan jou tussen $30 000 (sowat R467 000) en $70 000 (sowat R1 miljoen) kos, berig Washington Post.

Teen Woensdag is daar reeds $24 000 (sowat R374 000) ingesamel, berig ABC. Haar begrafnis word nou gereël.

“Ek kan nie … Ek kan steeds nie na foto’s van haar kyk nie. Dit breek my hart.”

- Robert Gropel, Maria se man

Sy en haar man, Robert Gropel, het die afgelope agt jaar berge op vyf vastelande geklim. Op 19 Mei het Maria begin kla dat sy nie lekker voel nie. Verskeie Sjerpas en Robert het gesukkel om Maria berg-af te dra, maar sy het die volgende oggend inmekaargesak. Robert is per helikopter na Kathmandu en veiligheid gebring. Ook hy het gely aan hoogtesiekte.

Hoogtesiekte staan ook bekend as akute bergsiekte. Dit kan gebeur as jy styg tot sowat 2 400 meter en hoër. Jou  brein bou baie drukking op weens waterretensie en jy kan dan nie genoeg suurstof kry nie.

Robert blameer nou homself vir haar dood. In ’n emosionele onderhoud met ABC Australia vertel Robert, ’n veearts, oor die laaste oomblikke voor Maria se dood.

“Ek is haar man, dis my werk om haar te beskerm en veilig by die huis te kry,” het Robert met trane in sy oë gesê.

Maria het Robert aangemoedig om die hoogste punt namens hul albei te bereik.

“Sy het gesê: ‘Gaan gaan, ek wag vir jou hier.’ Maar dit was nie spesiaal nie. Ek het haar nie by my gehad nie. Ek het net op en toe af gehardloop.”

Toe Robert en die Sjerpas vir Maria by die berg af dra, het hulle twee ’n suurstoftenk gedeel. Die suurstof het opgeraak en ná enkele oomblikke het Robert onthou dat hy medikasie vir hoogtesiekte het. Hy het haar toe onmiddellik met deksametasoon ingespuit, maar dit was te laat. Maria het in sy arms gesterf en Robert moes toe haar liggaam op die berg los.

“Dit was die moeilkste om haar net daar te los. Sy was my held, sy was sterk en sy was perfek. Nou probeer ek net oorleef en sterk wees.”

- Robert Gropel, wewenaar van Maria

In ’n artikel in The Washington Post is berig dat 250 mense al oor die jare op Everest dood is. Die berg was juis die laaste twee jaar gesluit ná natuurrampe in 2014 (’n sneeustorting) en in 2015 (aardbewings wat die lewe van meer as 8 000 mense in Nepal geëis het).

’n Kort uittreksel van Robert se onderhoud 

Die Monash-sakeskool in Melbourne, Australië, waar Maria die laaste paar jaar klas gegee het, het vroeër ’n artikel gepubliseer waarin sy sê sy en haar man is albei veganiste (eet geen diereprodukte nie) en het die uitdaging daarom aangepak. “Dit blyk mense het die skewe idee dat veganiste ondervoed en swak is,” het sy in die artikel gesê. “Deur die Sewe Pieke te klim, wil ons bewys dat veganiste enigiets én meer kan doen,” berig Netwerk24. Die Sewe Pieke verwys na die sewe hoogste bergpieke op sewe vastelande.

Nog ’n lid van Maria en Robert se klimspan, die 36-jarige Eric Arnold (’n professionele klimmer en motiveringspreker), is die dag voor Maria oorlede. Hy het die kruin van Everest bereik en selfs daaroor getwiet. Maar met die afkomslag het ook hy aan hoogtesiekte begin ly en op die berg gesterf, volgens Associated Press.

Lees nou

Gorilla geskiet – reg of verkeerd?

Ma van Everest-slagoffer praat