Hieroor praat mense

Gratis 1ste episode! Sarah Jessica Parker in Divorce

Daar is te veel nuwe flieks en televisiereekse om mee by te hou. Vang bietjie op dié naweek, PLUS kyk die eerste episode van Divorce, ons kan nie wag nie! O ja, en die nuutste Hollywood-prent wat in Afrika en Joburg geskiet is, begin die naweek speel.

Dis ’n naweek vir op die bank lê of gemaklik in ’n stoel sit. Op een of ander manier sal jy jou met dié week se groot flieks en televisiereekse kan vereenselwig.

Queen of Katwe

Queen of Katwe vertel die ware verhaal van ’n jong meisie, Phiona Mutesi, wat arm grootgeword het in die strate van Katwe, ’n buurt in Uganda, en daar leer skaak speel het. Hoewel haar agtergrond teen haar getel het, is sy die jongste mens nóg wat die Afrika-skaaktoernooi gewen het. Dele van die prent is verlede jaar in Johannesburg geskiet.

 

Doc-U-Mentally

As jy familie en vriende het wat medies studeer, of dit dalk self studeer, sal jy weet watter lang ure dit verg.

Junior dokters moet gereeld “spoed” en ’n “spoed” kan tot 30 uur duur! Die regisseur en vervaardiger van Doc-U-Mentally ondersoek hoe jong dokters moet werk met só min slaap. (Lees oor die gevolge van te min slaap HIER.)

Dié onderwerp is weer in die kollig ná die dood van dr. Ilne Markwat (25), ’n mediese intern van Durbanville wat ná ’n  24-uur-skof by die hospitaal agter die stuur aan die slaap geraak het en verongeluk het.

Dié dokumentêr speel daagliks by die Labia teater in Kaapstad om 14:00 en 18:15.

 

Sy Klink Soos Lente

Ben (Stiaan Smith), ’n selfvoldane werktuigkundige ontmoet een aand vir Linda (Amalia Uys), ’n beeldskone, uitgesproke ouditeur, in ’n kroeg. Hulle gesels en daar is dadelik vonke. Toe Linda vir Ben vra wat hy doen vir ’n lewe, jok hy. Hy sê vir haar hy is die hoofsanger van ’n band. Waarom doen hy dit? Want Linda is nie in sy liga nie en boonop is haar pa sy baas.

 

Kyk Sarah Jessica Parker se Divorce saam met die res van die wêreld!

Die nuwe reeks van HBO, Divorce, is hierdie week op M-Net Edge en DStv Premium bekend gestel. Nóg belangriker, DStv maak hierdie eerste episode vir almal beskikbaar!

Sarah Jessica Parker en Thomas Haden Church speel in hierdie nuwe vars en eerlike reeks oor ’n paartjie wat skei en die proses en fases wat daarmee gepaardgaan.

Dit is nie nodig om in te teken of enige inligting te verskaf nie, klik net op die skakel! Vanaf Vrydag, 14 Oktober om 21:05, is dié reeks ook beskikbaar op DStv Now en M-Net Edge.

Nog flieks wat hierdie week wys