FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

Hieroor praat mense

Generasie Y: minder seks oor Facebook?

Regtig? Kan dit waar wees dat millennials (ook bekend as Generasie Y, wat iewers tussen die middel-tagtigs en 2000 gebore is ), minder seks het as vorige generasies? En die “sondebok” is glo Facebook.

Die sogenaamde Facebook-effek word deur navorsers soos dr. Ryne Sherman, ’n professor in sosiale sielkunde aan die Florida Atlantic-universiteit, gestaaf. Hy het onder meer bevind die sogenaamde “Tinder-generasie” (dis nou veral die millennials wat afspraak-toepassings, of apps, soos Tinder gebruik), is kuiser as ooit.

Trouens, hulle is minder promisku as al die generasies sedert die 1920’s!  Sowat 15% van hulle het nog geen seksmaats sedert hul agttiende verjaardag gehad nie, vergeleke met die 6% van Generasie X (gebore in die mid-60’s, net ná die Baby Boomers) in daardie ouderdomsgroep.

Lees meer oor dié studie hier.

Dr. Marelize Swart, seksuoloog en sielkundige (wat ook konsulteer vir die gesondheidswebtuiste Health24), sê sy sien dié tendens ook in haar praktyk.

“Millennials werk lang ure, woon dikwels by hul ouers om finansiële redes, trou later, begin ook later met ’n gesin – dit is asof hulle by vorige generasies geleer het om hul eie ding te doen en versigtiger te leef.”

FOTO Unsplash / Charlie Foster

FOTO Unsplash / Charlie Foster

Om dié rede maak hulle veral die keuse om hul seksuele behoeftes op “veiliger” plekke soos die internet of Tinder te bevredig.

“Dit is betreklik anoniem, jy kan dit enige tyd doen, dit kos niks (jy hoef niemand uit te neem na ’n duur restaurant op ’n date nie). Jy sit bloot, sonder vrees, met jou slimfoon of skootrekenaar en maak ‘konneksies’ (ook romanties, of so dink jy!) in die kuberruim. Die kans om daar verwerp te word is ook soveel minder as in die ‘regte lewe’. Daar is ook geen bekommernisse oor die moontlikheid van MIV/vigs,  geslagsiektes of onbeplande swangerskappe nie,’’ reken sy.

Maar sy maan: dié ontvlugting is ’n illusie, ’n fantasie.

“G’n mens is ’n eiland, ons het beslis persoonlike kontak nodig om ook emosioneel te groei en gelukkig te wees. Ek wil die millennials uitdaag om uit hul gemaksones te beweeg.”

FOTO Gallo Images / Getty Images

FOTO Gallo Images / Getty Images

Dr. Elna McIntosh, seksuoloog van Johannesburg, ken weer die ander kant van die munt. “Instagram, Facebook, Snapchat, Tinder – dit prikkel die jonges net nóg meer. Ek sien hope swangerskappe en aborsies wat skeefloop omdat jong vroue op straat pille koop om van ongewenste fetusse ontslae te raak.”

Sy reken voorts al die eksplisiete foto’s waar skraps geklede vroue soos seksobjekte poseer, onder meer by motors, op Facebook en ander sosiale media, asook die skaamtelose vertoning van boude en borste à la Kim Kardashian op Instagram, speel ’n groot rol in jonges se seksuele losbandigheid.

Oor tien jaar sal terugskouende studies waarskynlik ’n duideliker prentjie van die hede kan weergee, wie weet?

Facebook vs die kooi. . .

Lees nou

Lande met die langste mense

Koue lugversorger – ’n vorm van seksisme?