prins_william_www.people.com
Hieroor praat mense

Ons soek die grootste koninklike ‘fan’. Jy kan wen!

Mal oor die koninklikes? En net so opgewonde oor die koninklike troue tussen prins William en sy mooie Kate soos ons?

Ons soek die koninklike ‘fan’ met die indrukwekkendste koninklike memorabilia-versameling in die land. Jy kan soos ‘n koningin bederf word deur ‘n spa-behandeling te wen!

MAAK SÓ

 1. Vertel ons als van jóú koninklike memorabilia-versameling in die kommetaarboks hieronder. Verklap waar jy dit in die hande gekry het, hoeveel dit werd is, wat jy moes doen om dit in die hande te kry. Sommer enige interessante brokkie oor jou versamelstukke.

2. Jy kan ook foto’s van jou versameling op SARIE se Facebook-blad laai sodat al SARIE se fans dit kan sien. Hierdie is sommer vir die lekkerte en nie ‘n vereiste om deel te neem aan dié wedstryd nie.

WAT JY KAN WEN!

Die wenner én haar metgesel sal ’n koninklike bederfdag by ‘n Mangwanani Day Spa ter waarde van R4 600 (African Premier Experience) wen! Die prys word geborg deur die History-kanaal.

Die prys sluit die volgende uit:

* enige reis- en verblyfkostes

Taryn Fritz PR sal die wenner kontak na afloop van die wedstryd om ’n geskikte Mangwanani Day Spa te kies, ’n datum vas te maak, en die afspraak namens die wenner te maak.

WEDSTRYDREËLS

1. Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen gesprek of korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.

2. Die wenners sal telefonies en daarna per brief verwittig word en hul name sal in ’n latere stadium op die webtuiste www.sarie.com verskyn.

3. Die prys is nie vir kontant omruilbaar nie. SARIE bied hierdie wedstryd namens die borg aan as ’n diens vir haar lesers. Die borg voorsien en is verantwoordelik vir die prys. SARIE aanvaar geen verpligting hoegenaamd t.o.v. die ontvangs van die prys of gestanddoening van die voordele daaraan verbonde nie.

4. Werknemers en hul gesinne van Media24 (SARIE se moedermaatskappy), die borg en hul reklame-, advertensie- en digitale maatskappye mag nie aan die wedstryd deelneem nie.

5. Media24 en die borg word gevrywaar teen alle eise en/of laste wat die wenners kan hê weens skade/beserings vanweë hul deelname aan die wedstryd of benutting van die prys.

6. Deur aan die wedstryd deel te neem, stem jy in om van tyd tot tyd sekere promosie-korrespondensie van SARIE te ontvang.

SLUITINGSDATUM: 29 APRIL 2011

Die wenner sal hier op sarie.com en op SARIE se Facebook- en Twitter-bladsy aangekondig word.

Die wenner sal op 29 April 2011 aangekondig word.

Maak seker jy loop nie hierdie programme mis op die History-kanaal (DStv kanaal 254) nie

History Channel

TV-PROGRAMME OP DIE TROUDAG!

1. How to Marry a Prince, Vrydag 29 April om 17:50

Hierin word onderhoude gevoer met vroue wat met koninklikes uitgegaan het, in koninklike huishoudings gewerk het, en die vriende en vertrouelinge van prinsesse.

2. Princesses of the World, Vrydag 29 April om 18:45

Die kollig val op die bekendste prinsesse van die afgelope 50 jaar (onder andere Diana, Grace en Stephanie) – hul romanse, geluk, hartseer, tragedie en die storms in hul lewe.

SARIE GAAN ÓÓK TROUE TOE!

Maak al die opwinding mee met blogs op sarie.com, SARIE se Facebook-blad en Twitter vanaf 22 April. Maak seker jy volg ons oral!

  • Hanlie de Bruyn

    Ek dink julle gaan onder twyfel die meeste inskrywings van Diana die Prinses van Wallis se “fans” kry. Ek self is ook van haar grootste “fans”

    Ek het grootgeword met kennis van die Britse Koningsgesin. Ons generasie se ouers het ons, alhoewel hulle beslis nie almal aanhangers van die Koninklikes was nie, vertel van die Koninklike egpaar en hulle 2 dogters se besoek aan Suid-Afrika in 1947. .Ek onthou dat my oorlede moeder vertel het dat die Koning en Koninging blykbaar onder die indruk was dat die kosmos langs die spoorlyn in die Standerton-omgewing spesiaal vir hulle gesaai is!

    Maar om terug te kom tot Diana. Ek onthou nog goed toe die koerante een oggend in September 1980 die skugter, naïewe meisiekind met die deursigtige rompie bekend stel as Prins Charles se nuwe liefde. Van daardie oomblik af het ek alles wat oor haar geskryf is verslind. Ekself, wat nog relatief jonk was, het haar beny vir haar styl en natuurlik haar skoonheid. Ek onthou nog met die troue het ek toestemming by my destydse werkgewer gekry om ‘n klein swart- en wit televisiestelletjie werk toe te neem en so deur die werkery deur die trouery dopgehou. ‘n Sprokie voorwaar! Ek het al wat ‘n boek is oor haar waarop ek my hande kon lê aangekoop. Ek het ‘n klomp hardeband- boeke, ander albums en natuurlik alle bylaes wat in tydskrifte verskyn het versamel. (Ek merk ek het vir die duurste een R14,95 betaal – ‘n groot bedrag destyds wat ek van die kosbegroting afgeknyp het! – SARIE het haar self verskeie kere op haar voorblad gehad). Ek het boeke oor die troue, die wittebrood, klere-styl, William se geboorte, noem maar op. Die mees gefotografeerde vrou in die wêreld het vir jare gesorg dat publikasie-syfers klim (en my begroting krimp!) as sy op die voorblad was. Ek het ook nog al die TV programme wat ons hier in Suid-Afrika kon sien op video-bande opgeneem.. Met die jare het sy dieper in my hart ingekruip met haar duidelike omgee vir mense wat ly en natuurlik haar liefde vir haar kinders!

    Latere negatiewe beriggewing oor Diana het ek gesif, geglo wat ek wou, en goeie verskonings vir haar gevind!

    En toe die Sondagoggend van 31 Augustus 1997. Ek het vroeg wakker geword, net so ‘n paar minute voor 5 en die TV stel aangeskakel net om begroet te word op CNN met ‘n pers-kleur agtergrond en met wit geskryf: DIANA 1961 – 1997. Ek kon nie glo wat ek sien nie. Ek onthou ek het nog vir my man gesê hulle skryf mos net die datum op so ‘n manier as iemand dood is! Met die nuusbullitin om 5 uur is my vrese bewaarheid.

    Nodeloos om te sê, vir dae was ek maar weer vasgekluister voor die TV en elke liewe publikasie in die wêreld het haar op die voorblad gehad . Berigte oor haar lewe, liefdes, skandes en haar tragiese dood was aan die orde van die dag. Ek het egter baie mooi huldeblyke gelees (en bewaar) soos onder meer Ds Solly se stukkie in SARIE toe hy nog Ankers & Vleuels geskryf het.

    Of my versameling boeke, uitknipsels en video-bande iets werd is? Ek glo nie, want dis mos deesdae nie meer “in” om ‘n Diana-aanhanger te wees nie. Maar hierdie memorabilia het steeds ‘n ere-plekkie op my boekrak. So nou en dan stof ek dit af, blaai weer daardeur en vergaap my steeds aan die mooie mens.

    Of ek nou weer so alles van William en Kate sal bymekaar maak? Nee darem nie. Ek het intussen ook aangestap met die jare en het lankal besef dat enige mens, hoe beeldskoon, hoe stylvol ookal, maar soos ‘n kersvlam in die wind is!

    Ek wens egter vir William en sy ewe mooi en stylvolle Kate net die beste toe.