FOTO iStockphoto

FOTO iStockphoto

Hieroor praat mense

Geskei maar ek’s oukei

Dis traumaties as ’n huwelik eindig, maar dit hoef nie jou lewe te verwoes nie. Die lewe kan selfs beter wees daarná … 

Niemand trou en dink hulle sal jare later in die skeihof beland nie, maar dis ’n werklikheid – ons egskeidingsyfer is 3,4% op van 2013-’14, volgens die jongste syfers van Statistiek SA. Die laaste ding wat jy waarskynlik wil hoor as jy skei, is dat jy sterker daaruit kán kom.

Maar die meeste mense het die vermoë om te floreer ná ’n moeilike tyd, sê Andri Burger en Annemarike de Beer van Synergy Psychological Services (in Johannesburg, Pretoria en Bela- Bela). “Dit hang uiteindelik van jouself af: jy moet kies om gesond te word en moeite doen om jou nuwe lewe te bou.”

Selfs al was jou egskeiding nie bitter nie, beteken dit nie dis maklik nie. Benewens die finansiële en logistieke aanpassings kan jy depressief, woedend, angstig en uitgeput voel. Die sleutel is om nie vasgevang te bly in dié gevoelens nie en dit te verwerk. Wees goed vir jouself, sê Andri en Annemarike.

Aktrise Nicole Holm van Stellenbosch stem saam: Jy kan wel heel – én sterker – aan die ander kant uitkom.

Nicole en haar eks, die akteur Francois Toerien, is in 2007 geskei nadat hy besef het hy is gay. “Ek dink die gevoelens wat in daardie eerste paar weke en maande deur jou kop maal, is anders vir almal,” sê sy.

Nicole Holm_credit Minuche Snyman

FOTO Minuche Snyman

“Ek en Francois is tot vandag toe vriende, want ons het nooit geskei omdat ons nie van mekaar gehou het nie.” Om ná die tyd te gaan soek vir tekens dat jou huwelik sou eindig, is ’n fout, sê sy.

Wenk:

Hindsight, soos hulle sê, is 20/20 … Daar is in elk geval niks wat jy aan die situasie kan verander nie en sulke gedagtes hou jou vasgevang in die verlede.”

Maar dis makliker gesê as gedaan. Nicole het ’n terapeut gaan sien en haarself omring met vriende en familie. “Of, eerder, hulle het mý omring,” sê sy.

“Dit was ook gerusstellend om te onthou dat ek nie die eerste of laaste mens is om deur trauma te gaan nie.”

Dit beteken nie jou verlies en gevoelens is nie geldig nie (of minder werd omdat ander mense ook sukkel nie), maar dit laat jou minder alleen voel.

Wenk:

“En in oomblikke van wanhoop was my strategie: ‘Aanhou beweeg en geraas maak’, soos die skrywer Jan Rabie geskryf het. Ek het opgestaan, uitgegaan en dinge gedoen, al het ek dit (nog) nie geniet nie. Dis ’n geval van fake it ’til you make it, maar dit het vir my gewerk.”

Vandag is sy in ’n langtermyn-verhouding en het boonop intussen ’n tweeling ryker geword saam met haar lewensmaat.

Die einde van haar huwelik het ook tot nuwe belangstellings gelei. “Ek is ’n kennisvraat en het tydens die terapieproses baie in sielkunde begin belangstel en breedvoerig daaroor gelees – só dat ek eindelik ingeskryf het om dit te studeer. Die egskeiding was nie noodwendig die katalisator vir my nuwe belangstelling nie, maar dit het seker aanleiding daartoe gegee.”

FOTO: Gallo Images / Getty Images

FOTO Gallo Images / Getty Images

Annemarike en Adri gee ook dié wenke

1. Gun jouself tyd om deur jou gevoelens te werk voordat jy op nuwe geleenthede en verhoudings fokus.

2. Wees realisties. Elke verhouding het goeie én slegte tye – erken die redes hoekom jy in die eerste plek getrou het, maar werk ook daaraan om die redes vir die skeiding te verstaan en te aanvaar.

3. Moenie tyd en energie mors deur te raai waarmee jou eks besig is nie. Dit het geen doel nie en dit kan jou net langer neem om te herstel.

4. As jy vasgevang bly in woede en bitterheid, kry hulp.

5. Kiés om aan te beweeg en gelukkig te wees in jou nuwe omstandighede – dit gebeur nie vanself nie.

Lees die volledige storie in die Oktober-uitgawe van SARIE.

Lees nou

Jare saam, trou – en dan skei ons

Brangelina skei ná twee jaar

Liev en Naomi se paadjies skei ná 11 jaar