Het jy gehoor?

Groen: Namibië se Marlice van Vuuren blog vir SARIE.com

Marlice en Rudie van Vuuren van N/a’an ku sê en Groen: Namibië-faam is bekend by SARIE-lesers. Nie net kuier bekendes soos die Jolie-Pitts op hul plaas nie, hulle doen ook wonderlike werk om wilde diere soos jagluiperds te rehabiliteer. 

Marlice van Vuuren blog vir SARIE.com:

Marlice van Vuuren

’n Groot Namibiese hallo vanuit N/a’an ku sê!

Ek is Marlice van Vuuren, aka die liefdevolle ma van alle weeskind-diere wat my “bunny hugging” nodig het (my man terg my gedurig hieroor). Om hul vertroue in mense te herwin en weer ’n kans te staan om ‘n wonderlike en natuurlike lewe te geniet.

My man, dr. Rudie van Vuuren, en ek het in 2006 met die N/a’an ku Sê Foundation begin as gevolg van die groot behoefte aan bewaring in Namibië.

Ek het self op ’n wildreservaat grootgeword. Toe ons ontmoet het, het Rudie gou besef dat hy my hart net gaan wen as hy eers ook die harte van die baie weeskinders, soos my baba-bobbejane wat snags ons bed deel, wen.

Maar hy het die toets uitstekend deurstaan. Hy het ook baie slapelose nagte met die baba-bobbejane gehad wat vasgeklou het aan hul nuwe “pappa”. N/a’an ku sê het gegroei en ons het nou ‘n wildreservaat in die suide van Namibië en twee navorsingswebwerwe – ons is baie besig en baie gelukkig oor die moontlikheid om die natuur en kultuurbewaring te ondersteun.

Marlice van Vuuren

Die Van Vuurens – Rudie, Marlice, Zacheo en Niklai

Verlede Saterdag het ons ’n oproep van ‘n boer ontvang oor ’n luiperd wat in ’n lokval-hok gevang was, en dis waar Rudie in aksie gespring het. ’n Groot deel van die navorsing wat ons hier by N/a’an ku sê doen behels wat ons ” die versagting van mens-karnivoor-konflik” noem. Basies help en adviseer ons boere oor hoe om hul beeste (hul inkomste en hul bestaan, ​​wat so noodsaaklik is) te beskerm.

Om die karnivore te skiet is onnodig. Om eenvoudige doring-hindernisse om hul beeskampe te bou, en om waghonde en “wag-donkies” (en jy dink donkies was lui!) saam met die trop te laat loop is genoeg om hulle te beskerm. ‘n Wagter by skape en bokke is ‘n goeie beskermingsmetode. Baie boere het by ons navorsing aangesluit en sodra daar ‘n wilde jagluiperd of luiperd gesien of gevang word, bel hulle ons en ons ry daarheen om oor te neem.

Rudie is dalk ’n mediese dokter, maar hy het nie veel keuse gehad om ook sy “dierdokter”-vaardighede te verbeter nie. Hy was ook dapper genoeg om met my te trou en in die proses ‘n besige “pappa” van ’n hele dieretuin van weeskinders te word! Met ’n pylgeweer, ’n groepie vrywilligers en ons hoofnavorser, Stuart Munro (liefdevol Stu genoem), het ons toe Saterdag twee uur gery tot by die plaas waar die luiperd in die vanghok was. Rudie het die luiperd vinning verdoof en haar as ’n pragtige en gesonde wyfie geïdentifiseer.

Die plaaseienaar het toegelaat dat die luiperd met ’n GPS-halsband toegerus en weer vrygelaat word. Daarna het ons almal gewag dat sy wakker word. Dit het ’n rukkie gevat vir die vaak kat om uiteindelik op haar voete te kom, maar toe sy bykom het sy met ’n mooi drafstappie afskeid geneem en haar lewe in vryheid voortgesit.

Rudie en Stu by die luiperd

Rudie en Stu by die luiperd

Die GPS-halsband sal ons toelaat om haar bewegings en gedrag deurlopend te moniteer, en Stu sal elke dag dié data aflaai en met die boer deel. Die boer weet waar sy is (soos ons ook) en op hierdie manier kan ons hopelik bewys dat die pragtige luiperd inderdaad ‘n goeie kat (meisie) is en die vee – waarvan die boer afhanklik is – nie doodmaak nie … wilde diere soos ’n Springbok is baie lekkerder as vee. Ek kon myself nie help nie, en het haar die naam Rosie gegee. Rudie en Stu, die mans en die wetenskaplike denkers van N/a’an ku sê, was bietjie ontsteld oor hierdie “girlie” naam.

Nadat ons die nuutste karnivoorlid van die N/a’an ku sê -familie gegroet het, was dit tyd om huis toe te ry om aandete vir beide my mens- én dierfamilies te maak en in die bed te val. ’n Bed wat Rudie aangedring het GROOT moet wees. Groot genoeg om ons twee, ons seuns, Zacheo (9) en Nicklai (4) ,’n spul baba-bobbejane, ’n muishond of twee, en soms drie jagluiperdwelpies te kan akkommodeer. Eintlik hoort die jagluiperdwelpies soet in die sitkamer saam met hulle surrogaat-mamma, ’n baba-gemsbok genaamd Bakpro!

Tot volgende keer, Marlice

Blaai deur die galery om Marlice se diere-kinders te leer ken

Shiloh

Shiloh, een van die jagluiperd-welpies, wat saam met Marlice in haar huis woon

Wonder

Wonder word ook groot in die Van Vuurens se huis

Odyssey

Odyssey speel graag sokker in die voortuin

Beetlejuice

Beetlejuice die muishond slaap ook in Marlice se bed

Ousie

Dié bobbejaantjie deel Marlice se bed

Nóg 'n grootmaak-bobbejaan

Marlice en haar bobbejaan-kinders

Lees nou – “Lightning, ons legendariese luiperd”