David en Michael ontspan met hul vriend Lucy (Foto: Phyllis green)

Hieroor praat mense

My grootste besluit vanjaar – Deel 1

Soms neem jy ’n besluit, soms neem die lewe een namens jou. Maar dis wat jy daarmee dóén wat belangrik is. Dit kan jou lewe verander…

Positiwiteit, ’n besluit
Die Gautengse radiostasie Talk Radio 702 het vroeër vanjaar die aanbieder David O’Sullivan van ’n spitstyd-gleuf smiddae na die vroegoggend-ontbytprogram geskuif. Sommige luisteraars het dit as ’n vermindering in status gesien. Maar David het besluit om dit in iets positiefs te omskep. Hy het gou besef die wenner is sy negejarige seun, Michael, wat op die outistiese spektrum is.

Net maar ’n stil kind
“Michael was so vier toe ’n onderwyseres by sy kleuterskool sê sy spraak ontwikkel nie na wense nie. Met jou oudste weet jy mos nie mooi watter ontwikkelingsmylpale hy wanneer moet bereik nie. Ons het hom vir spraakterapie geneem, maar ons was nie juis bekommerd nie. Hy wou nie met vriende se kinders meng nie, maar ons is gerusgestel. ‘Ag, hy is net ’n stil kind. Hy hou van sy eie geselskap.’ “Hy was net ’n kwartaal in ’n hoofstroomskool. ’n Klas met 20 klein seuntjies … Hy het geloop en op dieverste punt van die speelgrond gaansit en alleen gespeel. Hy wou nie aan groepsaktiwiteite deelneem nie en het steeds nie goed gepraat nie. “Dit was baie traumaties om nie te weet wat verkeerd is nie. Maar soos ons meer navorsing gedoen het, het daar ’n lig aangegaan. Hy het outistiese-spektrum-afwyking. [Dit sluit onder meer in ernstige probleme om te kommunikeer, verhoudings met ander op te bou en taal te ontwikkel, herhalende gedragspatrone en weerstand teen verandering.] “Ons het hom in Bellavista, ’n skool vir kinders met leerprobleme gesit, waar hy nou in graad twee is. Hy spreek nie sy woorde duidelik uit nie en sy sosiale vaardighede is sleg. “Mike is gek na sy boetie, Tom (2). Maar as Tom, wat net die teenoorgestelde van sy ouer broer is, skree en jil, loop hy eenvoudig weg. Of sit sy hande oor sy ore.”

michael osullivan_05

Michael O’Sullivan (9)
FOTO: Phyllis Green

Positief vorentoe
“Toe ek vroeër vanjaar hoor my radiotydgleuf gaan ná sowat elf jaar verander, was dit natuurlik ’n teleurstelling. Ek en Jacqui, my vrou, het ’n uur of wat daaroor getob. En toe vir mekaar gekyk en gesê: Weet jy, ons gaan dit laat werk. Die enigste ding waarvan jy immers by die radio seker kan wees, is dat dinge gaan verander. “Nou het ek meer tyd vir Mike. Hy word ouer en het meer aandag nodig. Jacqui is algemene groepbestuurder: kommunikasie by Sasol en werk lang ure. Ons het dikwels saans sesuur by die huis gekom en moes hom dan met sy tuiswerk help. Ek kan nou die gaping vul. “Mike floreer op ’n streng roetine, orde. Dit laat hom veilig voel. Dis sowat vyf maande later en hy het onlangs twee toekennings in een maand by sy skool gekry. Elke Vrydag kry die kinders ’n sertifikaat vir iets wat hulle in die week bereik het. In die verlede het hy nou en dan een gekry. “Ek kan ook sien hy het gewig verloor. Ons gaan gereeld ná skool swem. Ek het hom verlede jaar leer swem en ons werk nou aan sy swemslag. Ons probeer hom help om by die normale samelewing aan te pas. Hoe meer blootstelling hy kry, hoe meer gaan hy tegnieke aanleer om dit te doen. Selfs al is sy brein nie daarvoor bedraad nie. “Ons het vinnig by die nuwe roetine aangepas. Ek kan my nie voorstel dat ons dit in die toekoms sommer sal ontwrig nie.”

Wat ek geleer het:

  • As jy eers die positiewe in iets raaksien, is dit soveel makliker om met jou lewe aan te gaan.
  • Mike het my geleer om meer sensitief teenoor mense met probleme te wees. Die kinders in Bellavista is almal om ’n rede daar: ADHD, disleksie …
  • Dit gaan goed met my kind. Ek kan nou betrokke raak by minderbevoorregtes. Ek is beskermheer van The Teddy Bearkliniek (vir gemolesteerde kinders, ttbc.org.za) en Outisme SA (www.aut2know.co.za).