afrika
Hieroor praat mense

Halala, ewig is ons Afrika!

Dis Afrika-dag en ons vier ons kontinent se uniekheid. “Halala, ewig is ons Afrika,”  soos Johannes Kerkorrel gesing het!

SARIE-redakteur, Michélle van Breda, skryf …

“Dis die Serengeti en op die oop vlaktes maal en draal Afrika se diere. Hulle is rusteloos, onseker. Dis tussen seisoene. Tussen die kruipende stof van die suide en die reën wat móét kom in die noorde. Halfpad tussen byna sekere dood aan die een kant en die belofte van oorlewing aan die ander.

Vir die migrasietroppe is dit ’n angstige waiting game. Die veld, die lug mymer saam: wánneer kom die reën? Waar is die genade?

By Ngorongoro sien ek hoe weerlig al op die rand van die reuse-krater dans. Vlugtiger, vinniger totdat die reën sy grys kleed span en die stof van elke boom, blaar en rotswand was. Vir die Maasai wat agter water en weiding vir hul vee aantrek, bring dit hoop vir die dag, en dalk nog ’n dag …

IMG_4253

FOTO Dewald van Breda

In Zanzibar smeek ek naderhand om lafenis teen die versmorende hitte. Smiddae kyk ek saam hoe wit wolke soos sampioene op die wye horison pof, net om weer te verdwyn. En dan meteens, soos van nêrens, sak ’n stortbui uit oor land en see. Stoom trek uit die aarde en ons ruik die grond.

Op die vliegtuig terug na Suid-Afrika gee die vlieënier dié stukkie nuus: Dit reën in Johannesburg, dit sous in die Kaap. En oor Bloem pak die onweerswolke saam.

Is daar ooit ’n beter tuiskoms? Dit reën in Afrika.”

– Redakteursbrief, Michélle van Breda, SARIE Junie 2011

En wie kan vergeet van Toto se 1982-liedjie “Afrika”.

#HalalaAfrika – wat is jou gunsteling-ding oor Afrika?