FOTO Instagram / @whitehouse

FOTO Instagram / @whitehouse

Hieroor praat mense

Harvard vir Malia Obama ná gap-jaar

Barack Obama, die president van Amerika, se oudste dogter, Malia, gaan aan die gesogte Harvard-universiteit studeer. Maar eers neem sy ’n oorbruggingsjaar (gap-jaar). 

Malia (17) sal in 2017 by haar pa se alumni aansluit, berig CNN. Dit is dieselfde jaar dat hy nie meer president is nie.

Obama het Saterdag by sy laaste jaarlikse Wit Huis-dinee vir joernaliste gesê dat hy en Michelle nog vir twee jaar in Washington gaan bly, totdat hul jongste dogter, Sasha, haar skoolloopbaan voltooi het.

Op Harvard se webtuiste raai dié universiteit studente aan om ’n oorbruggingsjaar te neem. Van 80 tot 110 matrieks doen dit jaarliks voordat hulle verder kom studeer by dié instansie.

Is ’n gap-jaar wys?

Deesdae is daar opsies soos ’n oorbruggingsjaar van skadu- of vrywilligerwerk by ’n liefdadigheidsorganisasie as jy nie seker is wat jy direk ná matriek wil doen nie.

Bobby en Karlien van Jaarsveld se kleinsus, Cara, wat verlede jaar matriek geskryf het en vanjaar  ʼn oorbruggingsjaar (gap-jaar) neem, is ’n voltydse vrywilliger by Hanna Charity.

Cara brink hanna Charity

FOTO Verskaf

Prof. Kobus Maree, opvoedkundige sielkundige aan die Universiteit van Pretoria, meen as ’n gap-jaar met ’n doelgerigte plan aangepak word (soos as jy iets oor jou toekomstige studierigting wil leer), kan dit baie sinvol wees.

“Maar om net leeg te lê oorsee, is demotiverend.’’

Hy stel voor as jy wil skaduwerk doen, moet jy iemand gebalanseerd kies wat sy vak- gebied ken en vir jou presies kan wys wat die studierigting behels. “Dis van onskatbare waarde om dit eerstehands te ervaar en só te kan besluit of dit is wat jy wil doen.’’

Vrywilligerwerk is een van die beste maniere om kinders in voeling te bring met die werklikheid.

“Oorweeg dit gerus om ’n bietjie in ’n township te werk. Wêreldwyd is bewys as jy opgang in jou werk wil maak, moet jy kan inskakel by die gemeenskap en ’n sosiale bydrae lewer. Mense wat wyer oor die lewe dink, vorder in hul loopbane.’’

Kathy Knott, ’n voorligtingsielkundige van Johannesburg, sê: “’n Gap-jaar moet konstruktief gebruik word, as ’n tydperk waar jy jouself en die wêreld beter leer ken, reis, onafhanklik word of ’n deeltydse werk kry. Dit gee jou dikwels meer helderheid oor wat jy met die res van jou lewe wil doen – naskoolse opleiding of moontlik iets anders.’’

– Hierdie uitreksel oor ’n oorbruggingsjaar het in SARIE se November 2012-uitgawe verskyn.

20160429_VGB Tag

Lees nou

Olimpiese fakkel: So lyk die roete

Beyoncé se fenomeen Lemonade

Amal Clooney kap vir Trump!