FOTO Twitter @NSF_OPP

FOTO Twitter @NSF_OPP

Hieroor praat mense

Historiese midwinter-reddingsvlug na Suidpool suksesvol

Ná sowat 4 000 km vanaf die Suidpool en in uiterste weerstoestande het ’n klein tweemotorige vliegtuig laat gisteraand (vroegoggend plaaslike tyd) in Punta Arenas, Chili, geland. Dit was die eerste vlug nog in die hartjie van die winter na die Suidpool.

Aan boord was twee ernstig siek pasiënte van die Amundsen-Scott-Suidpool-basis. Hulle het mediese hulp nodig gehad wat die basis nie kon verskaf nie.

Die Twin Otter-vliegtuig het die finale been vanaf die Britse Rothera-navorsingstasie op die Antarktiese vasteland (sowat 2 414 km), gister net ná middagete (19:15 plaaslike tyd) voltooi, berig The Antartic Report.

Die vlug vanaf die Suidpool is gewaagd as gevolg van die weer en afstand. Dit sal sekerlik onthou word as een van die dapperste mediese ontruimings nog. Om na die Suidpool in die hartjie van die winter te vlieg, skryf avonturier Lewis Pugh, wat in ekstreme toestande in die pool-gebiede geswem het, op Twitter.

Die gevare om in die winter na die Suidpool te vlieg, word deur twee kenmerke van die sending geïllustreer, berig CNN. Terwyl die bemanning by die Suidpool-basis was, moes hulle besluit of ’n tweede lid van die winterspan siek genoeg was om saam te vat. Dit was ’n risiko, omdat dit die vliegtuig swaarder sou maak. Voorts was daar nog ’n Twin Otter-vliegtuig by die Britse basis Rothera. Die doel: Om die redders te hulp te snel, indien nodig.

Vlugte word tussen Februarie en Oktober ontmoedig weens die ekstreme koue en donker. Die enigste lig vir die landing was die maan en aurora australis (suiderligte).

Die Otters, aangedrewe deur twee skroewe, is ontwerp om in baie koue temperature te vlieg en op ski’s in die kompakte sneeu te land. Temperature is sowat -58 °C. Maar met die windfaktor bygereken, is dit nader aan -76 °C, berig CNN.

Die Otters het op 14 Junie van Kanada na Suid-Amerika en daarna Antarktika toe gevlieg, waar albei by Rothera geland het.

Die een vliegtuig het Dinsdag die gevaarlike tog na die Suidpool-basis aangepak. Ná tien uur se rus het die reddingspan seker gemaak die weer by die Suidpool en Rothera is goed genoeg om die tien uur lange vlug noord aan te pak, volgens CNN.

Die pasiënte se name en mediese toestand word weerhou.

Bronne: The Antartic ReportCNN

Lees nou

Ingrid Winterbach vierde keer vereer!

Eerste vroueburgemeester in 2 800 jaar

Nóg ’n bekende deel van die 27-klub