Charlize Theron en Sean Penn in 2014 by 'n toekenningsgeleentheid 
FOTO Getty Images / Gallo Images

Charlize Theron en Sean Penn in 2014 by 'n toekenningsgeleentheid FOTO Getty Images / Gallo Images

Hieroor praat mense

Hoekom kry Sean Penn al dié vroue?

Die Oscar-wenner Sean Penn kan uit en uit beskryf word as ’n bad boy. Tog het hy met sy kort humeur, deurmekaar hare en sigaret in die mond al menige sterk vrou se hart gesteel.

Nou is Sean Penn wéér in die nuus. Hy en die 24-jarige aktrise Leila George is ’n paartjie. Leila is die dogter van die Law & Order-akteur Vincent D’Onofrio en die aktrise Greta Scacchi.

Ondanks Sean se bad boy-reputasie het hy voorheen met ’n paar sterk vroue verhoudings gehad. Van popster Madonna tot die Oscar-wenner Charlize Theron. Maar al die vroue het aan die einde van die dag vir Sean gelos.

Sean se nuwe nooi, Leila

Hoekom val vroue so maklik vir die stoute seuns?

Elke ma en pa se nagmerrie . . . Hulle breek ons harte, maar dit bly maar eenmaal ’n feit: ’n stout seun het dieselfde aantrekkingskrag as ’n romerige sjokolade wanneer jy op dieet is. Jy wéét dis nie goed vir jou nie en ja, juis om dié rede kies jy hom.

“Vroue het nog altyd van stoute ouens gehou. Dis niks nuuts nie. Dink aan Marlon Brando, James Dean. Hulle is net eenvoudig fassinerend. Ten spyte daarvan dat ons dikwels nadat ons met hulle deurmekaar geraak het, spyt is. Ja, teen die tyd dat hy sy ware kleure begin wys. Dikwels is dié ouens selfgesentreerd, manipulerend, reeks-verneukers . . .’’ sê Marelize Swart, seksuoloog van Kaapstad (en ook die gesondheidswebtuiste Health 24).

Vroue wat vir stout seuns val, het dikwels nie ’n goeie verhouding met hul pa gehad toe hulle klein was nie, meen Marelize. “Hulle voel gewoonlik minderwaardig en is daarvan oortuig dat hul pa nie vir hulle lief was nie. Stout seuns, wat hulle nie goed laat voel nie, laat hulle dus voel soos in hul kinderjare – normaal. Iets waarmee hulle kan identifiseer.’’

Larissa Ernst, ’n sielkundige van Kaapstad, reken party vroue is oordrewe kwesbaar en sommige mans het weer ’n oordrewe manlike gevoel en dié tipes trek mekaar soos magnete aan. “Dít veroorsaak dikwels dat vroue vir ‘baddies’ val.’’

“Vroue hou van ’n lekker uitdaging. Hulle vind die sterk, macho man met die innerlike selfvertroue onweerstaanbaar en wil hom besit – óf tem. En dit is ’n avontuur en adrenalien-sensasie om iets teen die samelewing (ouerhuis) se norme te doen. Al is dit net vir ’n wyle. Dis prettig. Dink aan Cyndi Lauper se liedjie ‘Girls Just Want to Have Fun’. Goeie meisies word dikwels geleer om te konformeer, te trou, kinders te kry – tog net ’n goeie man te kies. Daar is soveel reëls. Die bad guy se aantrekkingskrag is dus dat hy oënskynlik meer vryheid bied omdat hy hom aan niks of niemand steur nie,’’ sê Marelize.

Sean se verhoudings oor die jare

Elizabeth Lee McGovern (1984)

Dié Downton Abbey-aktrise het in 1984 verloof geraak aan Sean – sy was net 24 jaar oud. Elizabeth het hom op die stel van Racing with the Moon ontmoet. Elizabeth het vir Sean gelos en hulle het toe nooit getrou nie.

 

Madonna (1985 tot 1989)

Sean het in 1985 vir Madonna ontmoet en hulle is dieselfde jaar getroud. Sy het selfs haar derde album, True Blue (1986), aan hom opgedra. Madonna het in 1989 van Sean geskei.

 

Robin Wright (1989 tot 2010)

Ná sy verhouding met Madonna geëindig het, het Sean by die aktrise Robin Wright ingetrek. Hul eersteling, Dylan Frances, is in 1991 gebore. In in 1993 is hul seun, Hopper Jack, gebore. In 1995 is die paartjie uitmekaar uit. Sean was toe in ’n kortstondige verhouding met die sanger Jewel. Maar Sean en Robin het weer bymekaargekom en in 1996 getrou. In 2010 het Robin van Sean geskei.

Charlize Theron (2013 tot 2015)

In 2013 het Sean met Charlize begin uitgaan en in Desember 2014 het die paartjie hul verlowing aangekondig. Maar Charlize het in Junie 2015 hul verhouding beëindig.

Die uiteinde van dié verhoudings is gewoonlik tragies. Wanneer hy jou verneuk, verlaat of uiteindelik sleg behandel, is jy verlate en wanhopig. “Onthou net, hulle verander nie sommer nie – tensy hulle regtig wil. En voor jy jou oë uitvee, is jy weer die ander vrou wat vasgevang is in hul magiese aantrekkingskrag,’’ maan Marelize.

Lees nou

Níks keer Beyoncé nie

Hilary Duff en haar Jason nou Instagram-official

Kyk wie se baba is uiteindelik hier …!