FOTO: Twitter/ @nycjim

FOTO: Twitter/ @nycjim

Hieroor praat mense

Hoop – al brand Kanada steeds

Die vernietigende brand, wat reeds 241 000 hektaar van Kanada se Alberta-provinsie verwoes het, is glo nog lank nie verby nie. Juis daaroor kan inwoners van Fort McMurray en omliggende areas nog nie na hul tuistes terugkeer nie. 

Die brand het op 1 Mei begin. En meer as 90 000 mense is gedwing om hul huise te ontruim. 2 432 strukture is in die brand verwoes en 500 is beskadig.

Die Kanadese minister van munisipale dienste, Danielle Larivee, het op ’n perskonferensie gesê hoewel die brand nou teen ’n stadiger tempo vorder, is dit nog nie onder beheer nie, berig CBC News

Die meeste van die inwoners het nie tyd gehad om hul besittings te ontruim nie en moes soms net met die klere aan hul lyf vlug.

Dr. Tharina Uys woon al vir 18 jaar in Brandon, in die Mantoba-provinsie van Kanada. Op die oomblik hou sy vakansie in Suid-Afrika, maar hou angstig die nuus dop oor die verskriklike brande.

“Ons ken ’n hele paar mense in Fort MacMurray, en ek kan my nie eens begin indink deur watter onwerklike nagmerrie hulle moet gaan nie. Omdat byna alle huise in Kanada met hout gebou word, is ’n brand altyd ’n wesenlike gevaar en ek het al ’n paar huise in ons dorp tot die grond sien afbrand binne ’n paar minute. Die chaos om 90,000 paniekbevange mense ordelik te ontruim binne ’n paar dae, die hitte, die verlies, die warboel, die besluit om alles wat jy besit op te gee en agter te laat om verteer te word deur daardie vuur, moet ondenkbaar wees,” het sy aan Marguerite van Wyk vertel.

Binnekort begin die seisoen van Kanadese skole se jaarlikse senior dansparty en in Fort McMurray is daar 800 dogters sonder aandrokke, berig CBC News.

Tracey Dooley, eienaar van ’n rokwinkel in Charlottetown, Kanada, gaan 50 van haar rokke skenk aan skoolmeisies van Fort McMurray. Sy is een van talle mense wat nou rokke en aandpakke insamel vir skoolkinders, berig CTV.

Tharina sê sulke behulpsaamheid en respek teenoor almal word in die Kanadese ingegrein.

“Dit maak my so trots om in daardie land te mag woon en werk. Die ordelikheid waarmee die ontruiming daar geskied, die behulpsaamheid van die mense teenoor mekaar, die respek en deernis waarmee hulle mekaar en andere se eiendom en besittings, kinders, troeteldiere, hulle eie leed asook die van andere behandel, is iets waarop die Kanadese nog altyd trots was,” vertel Tharina verder.

Dis nie al goedheid wat plaasgevind het nie. Verlede week het die lugdiens Canadian North mense toegelaat om hul troeteldiere aan boord te neem tydens die ontruimingsvlugte. Daar was meer as 71 van dié vlugte.

Lees nou

Lugdiens help honde vlug voor vlamme