FOTO: Gallo Images / Getty Images

FOTO: Gallo Images / Getty Images

Hieroor praat mense

7 wenke om by jou nuwejaarsvoorneme te hou

Elke Januarie stel jy ’n lang lys Nuwejaarsvoorneme op, maar teen April (of dalk selfs vroeër!) het jy reeds in jou ou gewoontes verval. Hier is 7 stappe wat jou sal help om in 2016 by jou voornemens te hou.

1 Eenvoud is beter

Hou jou voornemens eenvoudig. As jou doelwitte te groot is, kan dit lei tot teleurstelling en skuldgevoelens. Fokus eerder op een of twee van jou belangrikste doelwitte en raak dit baas voordat jy nog aanpak. As jy te veel veranderinge op een slag implementeer, is dit maklik om oorweldig te voel en sommer net op te gee.

2 Skryf dit neer

Deur jou voornemens neer te skryf visualiseer jy dit makliker. Jy het dan ook geen verskoning om dit te vergeet nie! Skryf sommer jou motivering vir die verandering ook neer. Jy kan ’n plakboek, moodboard of Pinterest-bord maak met foto’s en aanhalings om jou te inspireer. Deur die jaar kan jy dit aanpas en jou vordering dokumenteer.

FOTO: Getty Images / Gallo Images / Nick David

FOTO: Getty Images / Gallo Images / Nick David

3 Wees spesifiek

Moenie ’n vae idee neerskryf nie. Wees spesifiek oor jou voornemens sodat jy seker is wat jy wil bereik. Hoe duideliker die voorneme uiteengesit word, hoe makliker kan jy dit in bereikbare doelwitte opdeel. Moenie net sê jy wil gesonder eet nie – sê byvoorbeeld jy wil 5 porsies groente per dag eet.

4 Breek dit op in hanteerbare brokkies

Langtermyndoelwitte wat tyd neem om te bereik, is moeiliker om te realiseer omdat jy makliker fokus kan verloor. Dis beter om die langtermynplan in korter doelwitte op te breek wat jy stukkie vir stukkie kan behaal.

As jy byvoorbeeld 20 kg in 2016 wil verloor, breek dit eerder op in maandelikse of kwartaalikse doelwitte van ’n paar kilogram. Só voel ’n voorneme wat groot en onmoontlik klink meer bereikbaar.

Die ekstra druk van ’n korttermyndoel gee jou ook dalk net die hupstoot om by jou plan te bly.

5 Kry ondersteuning

Vertel jou vriende en familie van jou voornemens en vra vir hul ondersteuning. Kies betroubare mense wat jou kan onderskraag en verduidelik jou planne. Laat hulle weet hoe hulle kan help wanneer jy sukkel. Hulle kan jou ook verantwoordbaar hou deur gereeld vir jou te vra hoe dit met jou vordering gaan.

FOTO: Gallo Images / Getty Images

FOTO: Gallo Images / Getty Images

6 Evalueer jouself

Om by jou voornemens te hou moet jy van tyd tot tyd jou vordering evalueer.

Kies of dit weekliks of maandeliks gedoen moet word (afhangende van jou voorneme) en teken dit sommer dadelik aan in jou dagboek of stel ’n herinnering (reminder) op jou foon.

Deur gedurig jou vordering dop te hou, sal jy vinniger struikelblokke identifiseer en dit oorkom. Jy kan ook jou doelwitte aanpas as dinge moeilik raak, eerder as om moed op te gee.

As jy byvoorbeeld weekliks ’n bedrag geld wil spaar vir ’n vakansie, maar jy vind dit moeilik om daarby te hou, kan jy met jou evaluering die weeklikse begroting aanpas om meer realisties te wees. Dit is belangrik om te kyk wat vir jóú werk en realisties te wees.

FOTO: Getty Images / Gallo Images / Gary Houlder

FOTO: Getty Images / Gallo Images / Gary Houlder

7 Beloon jouself

Onthou ook om jouself te beloon wanneer jy iets regkry. Vat ’n aandjie af en bederf jouself met ’n borrelbad, of neem jouself uit vir ’n fliek!

Onthou, jy is in beheer. Jou sukses hang van jouself af. Ander mense kan jou raad gee en ondersteun, maar dit is jou eie besluite en gedrag wat die verandering in jou lewe bring. Jou geluk is die tyd en moeite werd!

#SARIE2016 leser-uitdaging

Wat is jóú nuwejaarsvoorneme?

Stuur vir ons jóú nuwejaarsvoorneme en hoe jy dit gaan bereik na lucelle.hough@sarie.com en jy kan een van die #SARIE2016-bloggers word!

Bronne: Psych Central en Kayla Itsines

Lees ook