Hieroor praat mense

Seun van Pretoria oorsee vereer

Vir Wim van den Heever was dit ’n baie trotse oomblik toe hy en sy seun, Juan, saam aangewys is as finaliste in die gesogte Natuurlewe-fotograaf van die Jaar-kompetisie.

Al is dit die derde keer dat Wim ’n finalis is, is dit hierdie keer ekstra spesiaal omdat sy sestienjarige seun, Juan, sy eerste internasionale erkenning gekry het as finalis in dié kompetisie se afdeling vir fotograwe van 15 – 17 jaar oud. Hulle het verlede jaar Oktober na Londen gereis vir die gala-glansgeleentheid waar die wenners van die wedstryd aangewys is.

“Die galageleentheid was fantasties, maar ook ’n bietjie oorweldigend. Dit het gevoel of ons by die Oscars was, want die rooi tapyt is uitgerol en al die belangrike mense wat betrokke is by bewaring was daar. Natuurlik ook al die redakteurs van bewaringstydskrifte die wêreld oor. Dit is die grootste fotografiegeleentheid vir natuurlewe-fotograwe. Ons het op ’n wêreldverhoog gestap. Juan het ongelooflik goed gevaar, want hy moes baie onderhoude doen. Hy is so ’n goeie ambassadeur vir Suid-Afrika. Ten spyte van die grootheid van die oomblik het hy sy pose gehou,” vertel Wim oor hul besoek aan Londen.

Wim is ’n beroepsfotograaf van Pretoria en hy spesialiseer in natuurfotografie. Hy doen foto-safari’s, verskaf foto’s aan twee groot internasionale agentskappe en verkoop ook kunsfoto’s aanlyn. Hy het as kind saam met sy pa begin foto’s neem, en die liefde vir fotografie het hy weer aan sy eie seun oorgedra. Hy vertel dat hy vir Juan ’n kamera in die hand gedruk het toe hy nog baie klein was. “Omdat alles digitaal is, het ek ook vir hom ’n klein rekenaar gekry. Hy doen die laaste ses jaar self al sy foto’s. Hy is nou 16 en wil baie graag ook ’n natuurfotograaf word, maar ek het vir eers ’n stokkie daarvoor gesteek. Ek voel hy moet eers ’n kwalifikasie agter sy naam kry, want hy presteer regtig baie goed op skool. As hy later in sy lewe steeds voel hy wil voltyds fotograaf wees, dan is dit sy keuse.”

Wim en Juan van den Hevver by die galageleentheid in Londen.

Wim en Juan van den Heever by die galageleentheid in Londen.

Hul wenfoto’s is nou in Johannesburg te sien in die Natuurlewe-fotograaf van die Jaar-uitstalling deur die Natural History Museum in Londen. Die uitstalling is tot Julie by 1 Fox Street in Newtown, Johannesburg.

Hoe besluit jy watter foto’s om in te skryf?
Ek kyk na al die foto’s wat die vorige vyf jaar gewen het en kyk of daar ’n geskiedenis of ’n patroon is. Dan kies ek 10 foto’s waarvan ek dink die beoordelaars sal hou en ek kies nog 10 van my eie gunstelinge. Die groot katte is baie na aan my hart. Hulle is ongelooflike diere en ek neem hulle graag af. Ek weet mense sê die katte slaap die meeste van die tyd. Maar as ’n leeu eers aan die gang kom, is dit ’n onvergeetlike gesig. Die aura rondom hulle is iets om te beleef.

FOTO: Wim van den Heever

FOTO: Wim van den Heever

Vertel meer oor jul wenfoto’s.
Die foto van die luiperd wat ’n springbok vang, het ek in die Etosha Nasionale Park geneem. Ek het geweet ek moet tyd bestee om die foto te kry en ek het die luiperd vir drie dae gevolg. Ek kon sien sy is honger en moes wag dat sy iets vang. Elke aand as ek gaan slaap het, het ek maar gehoop sy het nog nie iets gevang nie, want dan sou ek nie my foto kry nie. Ek het baie foto’s geneem toe die jagtog uiteindelik gebeur het, maar het geweet dié spesifieke foto is die een.
Ek en Juan kyk graag saam na voëls. Dis ons stokperdjie en dis ons tyd saam. Maar Juan is baie lief vir voëls. In 2014 was ek besig met ’n projek in Namibië en omdat dit skoolvakansie was, het ek Juan saamgeneem. Dis daar waar hy die foto geneem het van twee rooiborsbyvreters wat lyk of hulle in die lug baklei. Hy was toe 14.

FOTO: Juan van den Heever

FOTO: Juan van den Heever

Juan het ’n paar vrae per e-pos beantwoord:

Hoe was die ervaring in Londen by die galageleentheid vir jou?
Dit was asemrowend. Dit was die eerste keer dat ek by só ’n geleentheid was en die mense wat ek daar ontmoet het, ander jeugfotograwe sowel as lede van die ouer geslag, was wonderlik. Dit was ’n aand om te onthou! Om dit alles saam met my pa te ervaar het dit net soveel meer spesiaal gemaak.

Waarom hou jy daarvan om voëls af te neem?
Ek hou daarvan dat jy geen idee het wat volgende gaan gebeur nie. Met mense het jy nog min of meer beheer oor wat hulle doen en waar hulle staan, maar met diere weet jy nooit nie. Ek het ook met natuurfotografie grootgeword. My pa het my passie vir fotografie gekweek toe hy vir my vyfde verjaarsdag vir my ’n klein “mik-en-druk-kamera” gekoop het, en dit het net aanhou groei.

Wat is vir jou die moeilikste van fotografie?
Om eintlik in die veld te wees en om foto’s te kan neem. Ongelukkig is fotografie nie die goedkoopste stokperdjie nie en ’n skolier het nie altyd toegang tot die wêreld se geld (of tyd!) nie … My pa het my grootgemaak met topgehalte-kameras, wat ook bydra tot ’n behoefte vir meer geld. Ek wil graag eendag veeartsenykunde studeer, daarom kom die akademie nou beslis eerste.

Het jy weer ingeskryf vir die 2016-kompetisie?
Vir seker! Ek sou nie twee keer dink nie. Dit is boonop gratis vir onder 18’s … Wat is daar nou eintlik om te verloor!?

Kyk hier na van Wim en Juan se foto’s.

FOTO: Wim van den Heever

FOTO: Wim van den Heever

FOTO: Wim van den Heever

FOTO: Wim van den Heever

FOTO: Wim van den Heever

FOTO: Juan van den Heever

FOTO: Juan van den Heever

FOTO: Juan van den Heever

FOTO: Juan van den Heever

FOTO: Juan van den Heever