Hieroor praat mense

Gedenkdiens vir Nommer 9

’n Nasie groet vandag ’n Springbok-held. ’n Familie neem afskeid van ’n seun, pa, broer en man. Die rugby-reus Joost van der Westhuizen se gedenkdiens vind vandag op sy geliefde Loftus Versfeld in Pretoria plaas. Nommer 9, ons groet jou.

Phyllis Green, SARIE se boeke-redakteur en fotograaf, sal altyd Joost se karakter onthou. Destyds as ’n fotograaf vir die koerant Beeld het sy gereeld vir Joost afgeneem.

“Wat vir my altyd uitgestaan het van Joost, is hoe ’n planmaker hy op die veld was. Ek het geweet as hy in die span is, moet ek hom dophou, want hy het altyd gesorg vir uitstekende foto’s met sy wegbreke by die skrum en sy swenk-lopies om teenstanders te ontduik. Een van die mees opwindende spelers wat ek in aksie afgeneem het. Van die veld af was hy ’n gewone ou wat homself nooit belangriker as ander geag het nie.”

Maandag 6 Februarie het Joost sy stryd teen motorneuronsiekte (MNS) verloor. In die voorafgaande ses jaar sou hy sien hoe sy eie liggaam, eens sterk en Springbokfiks, stukkie vir stukkie agteruitgaan. Maar hy het nooit gaan lê nie, altyd bly veg en wêreldwyd ander inspireer.

Huldeblyke van oor die wêreld heen 

Plaaslike sowel as internasionale media het oor Joost se afsterwe geskryf. Op sosiale media het huldeblyke uit onder andere All Black- en Wallaby-geledere – van spelers sowel as afrigters en administrateurs – asook ander bekendes ingestroom.

Reëlings vir die gedenkdiens

Die gedenkdiens begin om 12:30, maar lede van die publiek word aangeraai om reeds om 10:30 op Loftus te wees. SuperSport sal vanaf 12:00 die diens regstreeks uitsaai op DStv, kanaal 201. Dit sal tot 15:30 duur.

Volgens Maroela Media sal huldeblyke deur onder andere Joost se broer Pieter asook Derick Hougaard en Amor Vittone gelewer word. Kunstenaars soos PJ Powers sal ook optree tydens die diens.

joost aanhaling

Prins van rugby

Joost het nie net die hart van ’n Springbok gehad nie, maar ook dié van ’n Blou Bul. In sy loopbaan, wat van 1993 tot 2003 gestrek het, het hy nét vir een provinsiale span gespeel: die Blou Bulle. Hy was ook deel van die legendariese 1995-Bokspan wat die eerste keer die Wêreldbeker vir Suid-Afrika verower het.

“Vir my was Joost sonder twyfel die beste rugbyspeler saam met wie ek ooit gespeel het. Hy het spoed, krag en tegniek gehad wat mens eintlik nie kan glo nie. Hy was ’n kampioen.”

– Joel Stransky, oud-Springbok-losskakel, aan Netwerk24

Joost kan bestempel word as een van die beste skrumskakels wat SA ooit gesien het. Hy het 38 drieë vir sy land gedruk.

Volgens Sport24 was vreeslose verdediging een van vele dinge wat Joost as speler besonders gemaak het. Hy het die ontslape oud-All Black-makrovleuel Jonah Lomu immers ’n paar keer tydens 1995 se Wêreldbeker-eindstryd platgeduik.

Een ding is seker: Joost het ’n diep liefde vir rugby gehad.

Luister na Mr. Number 9, wat deur sy niggie se dogter, Sumi Botha, geskryf is.

Lees nou

Amor: Joost was en is my eerste liefde

Rugby-reus Joost van der Westhuizen sterf

Joernalis Odette Schwegler se ‘reis’ met Joost