Screen Shot 2015-04-30 at 12.41.04 PM
Hieroor praat mense

Is jy veilig by jou geliefde?

Christopher Panayiotou, wat vir die moord van sy vrou, Jade, aangekla word, het vanoggend weer in die hof verskyn Die saak is tot 28 September uitgestel, berig AlgoaFM.

Moenie deel raak van die statistiek nie, as jy ongemaklik is en rede het om te twyfel oor jou veiligheid móét jy seker maak jy is veilig by die persoon vir wie jy die liefste is.

In SA word een vrou elke agt uur deur haar maat vermoor *. Maak seker jy sien die gevare betyds raak.

Is jóú maat ’n gevaar?

Prof. Anni Hesselink van UNISA sê daar is gewoonlik ’n sneller wat ’n man daartoe dryf om sy maat te vermoor. “Dis gewoonlik iets wat hom bedreig laat voel, of hom laat voel hy verloor beheer of mag. In die meeste gevalle is dit wanneer jy gedreig het of besluit het om hom te los, of hom gelos het. Ander algemene snellers wat tot moord lei, sluit in jaloesie (oor jou finansies, intellek, sosiale status of die vermoede of wete dat jy ’n ander man ontmoet het), wraaksug, gevoelens van teleurstelling, agterdog en mislukking.”

As jy ja sê op meer as vyf van die volgende vrae, moet jy op jou hoede wees.

Vra jouself af

  • Verkleineer of beledig hy jou?
  • Het hy erge woedeuitbarstings?
  • Is hy aggressief?
  • Het julle seksuele probleme?
  • Stamp of slaan hy jou?
  • Verander jy jou gedrag, kleredrag, haarkleur, wat jy eet, vriende, ens. om hom gelukkig te maak?
  • Wil hy heeltyd in beheer wees en al die besluite neem?
  • Probeer hy jou heeltyd verander en aanvaar jou nie soos jy is nie?
  • Is hy baie jaloers en besitlik? (Kyk hy bv. na jou selfoon- of Facebook-boodskappe)
  • Is/was jy al ooit bang vir hom?
  • Voel jy geïsoleer? (Belet hy jou bv. om sekere dinge te doen/ mense te sien?)
  • Is jy die een wat altyd jammer sê of jou keuses prysgee ter wille van syne?
  • Het hy ’n obsessie met vuurwapens?

Hoe gemaak as jou instink inskop?

“Luister na jou instink,” sê dr. Tanya Robinson, forensiese spesialis van Johannesburg. “As jy hulpeloos, depressief of angstig begin voel, is jy in ’n gevaarlike situasie. Emosionele teistering, manipulasie, beheer oor jou lewe, emosies, denke en finansies is rooi ligte.”

Lisa Vetten, navorser by die Universiteit van die Witwatersrand se Instituut vir Sosiale en Ekonomiese Navorsing (WiSER) sê as jy besef jou man is gevaarlik, aanvaar jy gaan hom nie kan beheer of verander nie. “As jy hom ’n laaste kans wil gee, moet hy verantwoordelikheid aanvaar en gewillig wees om te verander, soos byvoorbeeld instem om vir terapie te gaan. Besluit dan waar jy die streep trek. As dit by ’n vuishou is, en hy slaan jou weer, moet jy wegkom.”

As terapie nie werk nie, en veral as jy besef jou man is die psigopatiese tipe, moet jy so gou moontlik probeer wegkom, waarsku dr. Robinson. “Betrek onmiddellik ’n familielid of vriend, of selfs ’n terapeut of POWA, om jou te help.Moenie vir hom sê jy gaan hom los nie. As jy eers weg is met jou kinders, veral as jy voel jou lewe is steeds in gevaar, kan jy die polisie en ’n prokureur gaan sien en ’n hofbevel kry wat hom verbied om naby julle te kom. Jy kan egter nie net op die hofbevel staatmaak nie. Maak seker julle is veilig. Gaan bly ver weg as jy kan, sit ’n alarmstelsel in, lig die veiligheidswagte in jou area in oor jou situasie.”

Dis nie maklik nie, maar doen dit voor dit te laat is, sê Lisa. “Jy’s dalk bang, dink dis nie finansieel moontlik om met jou kinders weg te kom nie, of dat jy waardeloos is sonder hom. Maar ’n nuwe lewe ís moontlik.”

*Dié inligting kom uit die artikel “Is jy veilig by jou geliefde?” in jou Julie 2014-uitgawe. Dié uitgawe is nie meer op die rak nie, maar jy kan dit steeds digitaal aflaai – klik HIER.

*In ’n studie wat in 2012 deur die SA Mediese Navorsingsraad gepubli- seer is, is onthul dat een vrou elke agt uur plaaslik deur haar maat vermoor is in 2009, sê prof. Naeemah Abrahams, een van die betrokke navorsers.