whatsapp
Hieroor praat mense

Kyk wat kan WhatsApp nóg doen!

Ons gunsteling-app het ’n hele paar truuks wat jy nog nie ontdek het nie. Hier is 7 wat ons WhatsApp-wêreld skoon verander het!

Ons gebruik dié app elke dag en sommige mense klim byna nooit af nie. Ja, jy ken húlle – dis die vriende wat altyd dadelik antwoord of konstant op die groepe gesels. Wel, met ons 7 wenke kan jy beheer neem van jóú WhatsApp en ook vinnig antwoord, of jou vriende flous sodat hulle dink jy het nog nie eens die boodskap gesien nie …

1. Weg met die blou regmerkies!

As jy nie wil hê mense moet sien dat jy hul boodskappe gelees het nie, gaan net na Settings → Account → Privacy → Read Receipts. Klik op die regmerkie sodat die blokkie leeg is. Onthou, as jy hierdie opsie kies, gaan jy ook nie sien as mense jou boodskappe lees nie.

Jou WhatsApp het nuwe emoticons #Panda

2. As iemand ooit op ’n groep vir jou sê hulle het nie jou boodskap gesien nie…

Dán druk jy met jou vinger teen jou slimfoon se skerm op die boodskap wat jy gestuur het. Daar sal aan die bokant van jou skerm ’n groen banier verskyn met ’n “i”. As jy hierop klik sal jy presies sien wanneer jou boodskap by wie aangekom het en presies wanneer hulle dit gelees het. Hierdie geld ook een-tot-een-gesprekke (chats), nie net groepe nie.

3. Stuur aan ’n klomp mense dieselfde boodskap, sonder om ’n groep te maak

Klik op die drie kolletjies in jou regterkantse hoek. Kies New Broadcast. Hier sal jy vanuit jou Contacts ’n lys van mense kan maak wat hierdie boodskap gaan kry. Dit lyk soos ’n groep, maar hulle kry almal die boodskap asof jy dit persoonlik net aan hom/haar gestuur het. Slinks, nè?

whatsapp

FOTO Unsplash (Saulo Mohana)

4. Spaar jou data hier

Gaan na Settings → Data Usage → Media Auto-download. Hier kan jy onder al drie opsies (slimfoon-data, WiFi en roaming) jou kostes laag hou deur te kies wanneer WhatsApp enige media moet aflaai.

5. Jy hoef nie deur honderde boodskappe te beweeg nie

So ja, reëlings of adresse of bankbesonderhede is gedeel, maar ná hierdie belangrike boodskap het jy en die ander mens, of die groep, nog baie gesels. Jy hoef nie te soek na hierdie boodskap nie, want sodra daar iets belangriks gesê word, druk jy met jou vinger op die skerm waar die boodskap is. Die groen banier sal verskyn. Klik op die ster. Volgende keer kan jy net op dié groep gaan, op die naam aan die bo-kant van die skerm klik en Starred Messages kies. Daar lê die belangrike inligting waarheen jy enige tyd kan terugkom.

6. WhatsApp vanaf jou rekenaar

Hierdie wenk is nie vir jou baas nie. Klik op die drie kolletjies in die regterkantse hoek van jou WhatsApp-skerm. Kies WhatsApp Web. Gaan op jou rekenaar na web.whatsapp.com. Hou jou slimfoon op voor jou rekenaarskerm sodra die QR-kode op jou rekenaarskerm verskyn. Daar’s hy, nou kan jy heeldag Whatsapp!

whatsapp

#9tot5: Skrap hierdie 10 slegte kantoorgewoontes

7. Lees jy boodskappe sonder om terug te antwoord?

Vergeet jy ook soms om te antwoord nadat jy ’n lang boodskap ontvang het? Wel, nou het jy geen verskoning meer nie! As jy nie op daardie oomblik tyd het om terug te antwoord nie, hou jou vinger op die naam van die persoon, of groep, op jou WhatsApp. ’n Banier sal aan die bokant van jou skerm verskyn. Klik op die drie kolletjies en kies Mark as unread. Dié gesprek sal met ’n groen kolletjie gemerk word.

*BRON: Stuff, Whatsapp, BGR

Lees ook

’n Selfoonkontrak en apps vir jou langafstandverhouding!

Jy het net hierdie 2 apps nodig vir mooi foto’s!