FOTO: Verskaf

Hieroor praat mense

Karin Hougaard binnekort weer in SA

Op 21 Februarie vier Karin Hougaard, wat al meer as 3 dekades in die musiekbedryf is, haar 50ste verjaarsdag. Om dié mylpaal te vier gaan sy weer haar gewilde produksie Alien Sky in Suid-Afrika opvoer.

Karin Hougaard is een van die ikoniese Afrikaanse kunstenaars met ’n loopbaan wat oor meer as 3 dekades strek. Sy het in 1980 as 16-jarige skooldogter begin en sedertdien talle albums en digbundels uitgereik. En nou bring sy een van haar gunsteling-verhoogproduksies, Alien Sky, weer Suid-Afrika toe.

Alien Sky gaan oor Karin se ervaring as Suid-Afrikaner in die buiteland – op die oomblik woon sy in die Amerikaanse dorpie Oak Ridge in Noord-Carolina. Dit is meertalig en bevat ook van Hougaard se eie komposisies. Een van die liedjies, “Jy sou”, is onlangs as die  temalied vir die Suid-Afrikaanse prent Lien se lankstaanskoene gebruik. Die bekroonde skrywer Deborah Steinmair het vir Karin gehelp om die teks vir dié produksie te skryf.

karin hougaard

Karin se album Alien Sky. Haar produksie wat in Februarie en Maart opgevoer word, het n gelyknamige titel

Karin is baie lief vir reis, wat bydra tot die perspektiewe van ’n “vreemdeling” in haar nuwe musiek en gedigte. Sy het al onder meer na Kanada, die Verenigde State van Amerika, België, Frankryk, Italië, Griekeland, Portugal, Spanje, die Maledive, die Seychelle, Mexiko, Australië, Mosambiek, Namibië, Zanzibar, Brittanje en Nederland gereis.

Reis is padkos vir die siel. Dis my grootste bron van inspirasie …

Hier is die musiekvideo van haar liedjie “Jy sou” wat op haar album Alien Sky verskyn:

* Karin het net twee optredes in Suid-Afrika voordat sy in Junie op haar Nederlandse toer vertrek.

  • Vrydag 28 Februarie 2014 Innie Skuur, Bloemfontein om 19:30 (Vir meer inligting skakel 079 287 3614).
  • Sondag 2 Maart 2014 Atterbury-teater, Pretoria om 16:00 (Vir besprekings skakel 012 471 1700).