Hieroor praat mense

Kinderlikheid hou jou kreatief

“Ontdek die kind in jou,” het op die uitnodigingskaartjie met die klassieke kinderkarakter Winnie-the-Pooh gestaan.

Madeleine Rootman, ’n geleentheidsbeplanner van Stellenbosch, was lus vir ’n régte kinderpartytjie op haar 25ste verjaardag in 2010. En op ’n Maandagaand, in die yskoue winter, het sy haar lekkerste partytjie nog gehou.

Sy en elf vriende het by Fun 2 Chino (’n cappuccino-kuierplek vir ma’s en kinders) op Parys in die Vrystaat gekuier. (Sy het toe nog op Parys gewoon.)

Die tafels was getooi met hotdogs, rooi koeldrank, kaaskrulle en “morsige” goedkoop lekkers. “Ek en my vriendinne het saam gebak aan my polkakol-bikini-koek en dit met Smarties en bont droplekkers versier.” Hulle het prentjies ingekleur, met klei gespeel, bal gegooi, op klimrame geklouter en op ’n springkasteel gebons.

En die klere! ’n Skooluniform, engeltjievlerke, T-hemp met Snoopy op, gekleurde kouse, bokstertjies en voorskootrokke 
was aan die orde van die dag. Elke gas is ook met ’n verrassingspakkie bederf.

Deesdae help haar speelse denke haar om in haar werk kreatief te wees. “Ek en my vriende bak mekaar gereeld poetse. Ek het al hul honde as ‘te koop’ op die internet geadverteer (met verkeerde telefoonnommers).
Hulle het my teruggekry deur
my vir die kykNET-program 
Boer soek ’n vrou in te skryf!”

Die lewe is vol swaarkry. Dit maak nie saak hoe oud jy is nie . . .
 lewe soos ’n kind en elke dag sal kleurryk wees, is haar filosofie.