Image-1
Hieroor praat mense

Enkelpa verheug oor sy surrogaatbaba

Dinsdagoggend om 07:32 het kliniese sielkundige Johan van Rooyen se lewe onherroeplik verander. Toe die dokter in die teater sy lang verwagte babadogtertjie – “so mooi soos ’n engeltjie” – in sy arms gesit het … 

baba 1

FOTO Klein Isabella

Oorweldig, dankbaar, bewerig, oorstelp, soos baie pa’s voel met die geboorte van hul eersteling … en Johan is boonop enkellopend en sy Isabella deur ’n surrogaatma gedra.

Die trotse pa wat in die Augustus-uitgawe van SARIE sy hele surrogasie-ervaring deel (elke tree gelaai met afwagting en vreugde), het sy baba knus in haar wiegie langs hom toe hy kort ná besoektyd in die Wilmed Park Hospitaal in Klerksdorp met SARIE gesels.

Isabella is met ’n keisersnee in die lewe gebring, en hy was by, deur die hele proses. “In ’n stadium het hulle my gevra hoekom ek so bewe … ek dink die oomblik was net so groot, ek het dit nou nog nie alles heeltemal verwerk nie. Ek droom al so lank daarvan om pa te word. Sy het opgekyk na bo toe hulle haar oopsny, en my eerste gedagte was: Sy is so mooi … En toe: dankie, dankie …”

Johan het die naelstring self geknip, en hy kon haar vinnig vashou voordat hulle haar in ’n broeikas gesit en na die kraameenheid gebring het. Sy was binne twintig minute in sy kamer en hy het haar teen sy kaal bors laat lê … “Die emosie het my eenvoudig oorval en ek het spontaan begin huil.”

baba 4

FOTO Johan en Isabella

Die personeel was byna net so opgewonde soos hy: “Hul warmte, steun en professionaliteit was wonderlik. Kyk, die kraamafdeling het tot nuwe hoogtes vir my gegaan. Ek lê in die Fase Een-kamer, waar vroue begin kraam – hier is ’n borrelbad in die hoek, maar ek dink nie ek gaan dit gebruik nie! Een verpleegster het gevra of sy op die bord moet skryf ‘mr or mrs’. Toe sê ek, toe ek laas gekyk het, was ek nog ’n mr!”

baba 3

Hy het reeds op sy eerste nag alle doeke self omgeruil – daar was nogal baie, sê hy droogweg. “As jy daai oulike boudjies in die lug hou, is dit so mooi, jy gee nie eintlik om nie.” Dit was maar ’n deurmekaar paar nagte met min slaap, baie drome. Met bottel gee is hy al behendig, en hy het sy eerste suksesvolle bad-les saam met die nuwe ma’s in die hospitaal gehad.

Johan se ma, Isabel, wat elke besoektyd daar was saam met sy tannie Dalina van Rooyen, het ook vir die surrogaatma ’n groot bos blomme geneem.

baba 2

FOTO Johan se ma, Isabel van Rooyen, met haar kleindogter Isabella

Johan het haar ná die geboorte gesien. “Sy is gesond en herstel goed. Sy is ’n ongelooflike vrou, ek sal haar altyd dankbaar wees.”

Vandag verlaat pa en dogter die hospitaal om eers by ’n vriendin in Johannesburg te bly, wie se verpleegster-ma, Mary Ferguson, in babaroetines spesialiseer. Ná die naweek vlieg die drie huis toe, na De Tijger in die Kaap, waar Mary vir twee weke met roetines “en algemene angstigheid” sal help, skerts Johan.

En dan is dit hulle twee. Hy kan nie wag nie.

Image-1

FOTO Johan en Isabella

*Lees die volledige verhaal van Johan se pad om pa te word met behulp van ’n surrogaat in die Augustus-uitgawe van SARIE – nóú te koop!

rolene strauss augustus 2016

Lees nou

Francois van Coke word pa!

Slagoffer wil daai haai gaan ‘jág’!

Blouwalvis in net verstrengel in Kalifornië