Leonard cohen
Hieroor praat mense

Koos stukkend oor Cohen

In 1984 het die Amerikaanse sanger, digter en liedjieskrywer, Leonard Cohen, ’n lied geskryf  “If It Be Your Will”.

If it be your will that I speak no more, and my voice be still as it was before, I will speak no more.

Vandag is Cohen se stem stil. Hy was 82.

Vir Koos van der Merwe, wat Cohen se musiek in 2013 in Afrikaans vertaal het, is dit ’n donker dag.

“Dit voel of een van my naastes my verlaat het. Dis ’n ontstellende dag. Ek is stukkend,” het hy aan SARIE.com vertel.

Vandag het Koos sy hele dag gekanselleer. “Ek kan nie heen en weer ry as ek aan hierdie nuus dink nie. Hierdie week het ’n galge humor: proteste, bisarre (Amerikaanse) presidentsverkiesing en nou ’n groot gees wat ons verlaat het.”

Cohen se impak op sy lewe, erken Koos, is enorm. “Vir die afgelope 30 jaar het dit gevoel of iemand in die wêreld woorde kon gee aan pyn, liefde en emosies. ’n Stuk van menswees kon hy verwoord, iets wat niemand anderste, nie ek nie, niemand, kon verwoord nie. En nou is sy stem stil. ’n Stuk van die wêreld is stil.”

Maar ná ’n kort stilte sê hy:

“Tog sal sy stem nooit stil wees nie. Hy sal altyd bly sing. Sy stem het nie ’n ouderdom nie.”

Vir Koos was dit ’n heilige oomblik toe hy destyds ’n oproep gekry het wat net lui: “Mr. Cohen approves.” En Cohen het ook ontvangs erken toe Koos sy Afrikaanse album vir hom gestuur het.

In die Van der Merwe-huis word Cohen se laaste album, You Want It Darker, vandag gespeel. “Sy laaste album is profeties, hy het vrede gemaak, hy het geweet.”

Die Afrikaanse sanger Mathys Roets, wat talle liedjies van Cohen opgeneem het, sê dis ’n swaar dag.

“Toe ek die eerste keer sy liedjies gehoor het, het ek net gedink: Ek wíl eendag sy stories sing, sy pyn sing, dit wat hy geskryf het, wil ek sing. Ek was honger. Hy het nie met normale konvensie geleef nie. Hy het altyd antwoorde gaan soek. En soos ek hier sit, in my omstandighede, het hy my geleer om altyd die antwoord te gaan soek.”

Cohen het Mathys ook as liedjieskrywer beïnvloed.

“Iewers het Leonard gesê dat die Spaanse digter Federico García Lorca sy lewe geruïneer het omdat Lorca so perfek kon skryf. Emosies kon neerpen wat niemand kon nie. Ek kan dieselfde sê oor Leonard, in absolute verwondering, hy kon iets neerpen. En as hy nie daar was nie, sou ek seker meer liedjies kon geskryf het. Maar ai, net hy kon dit so eg stel.”

En as hy een Cohen-liedjie vir oulaas moet luister? “Die eerste liedjie van sy nuutste en laaste album, You Want It Darker, ‘You Want It Darker’. Vandag is dit close to home.”

If it be your will that I speak no more, and my voice be still as it was before, I will speak no more.

- Leonard Cohen (1934 – 2016)

Lees nou

2 Afrikaanse groot geeste gegroet

Prince, ’n pionier van sy tyd