FOTO: Pablo Heimplatz / Unsplash

Hieroor praat mense

Kry jou man aan die praat (ja, jy kán)

Dis die versugting van menige vrou. As my man tog net oor sy emosies wil praat … Maar daar ís maniere om hom te laat oopmaak.

Die meeste mans sukkel om oor hul emosies of “dieper” dinge soos verhoudings te praat. Jy gee soms moed op. Maar as julle albei gemotiveerd is om die beste verhouding moontlik te hê, kán julle saam leer om beter te kommunikeer.

“Want mense het ’n ongelooflike vermoë om te groei en te verander,” sê Bea Potgieter, kliniese sielkundige van Randburg. Vir jou man is dit nie so maklik soos vir jou om oor hartsgoed te praat nie, want hy het van kleins af boodskappe gekry dat hy die belewing en uitdrukking van sy emosies moet onderdruk, sê Bea.

Sommige mans het só geleer dat woede meer aanvaarbaar is as rou, hy het dit deel van homself gemaak en só het hy hom van sy emosies begin distansieer.

Die kinderjare van ’n man wat moeilik praat oor sy emosies, speel dikwels ook ’n rol. Hy het dalk ’n afwesige, onemosionele pa gehad. En dis die “GPS” waarmee hy homself later in verhoudings gaan “bestuur”. Of ’n koue, kritiese ma wat emosioneel afwesig is. Of ’n emosioneel onstabiele ma wat sukkel om verhoudings bymekaar te hou.

So ook trauma (soos ’n gewelddadige verhouding tussen sy ouers) en stres oor wat sy geslagsrol eintlik moet wees. Dalk is ’n ou seer in jou man se lewe nog nie afgehandel nie. Iets aan jul situasie herinner hom bv. aan sy ouers se rusies. Nou voel hy ongemaklik of onveilig en hy vermy hierdie bedreiging. Hy vlug en besef nie dat heling juis daarin lê om die seer van die verlede te konfronteer en daarmee klaar te maak nie, sê Bea.

Jy kan nie jou man dwing om sy emosies te deel nie, maar jy kan wel verduidelik hoekom dit belangrik is, sê Bea. Hier’s riglyne:

1. Sê vir hom jy wil graag dit wat binne hom aangaan, beter leer ken en verstaan. Jy besef dis dalk moeilik vir hom, maar dat jy graag wil probeer, want “dit vorm deel van die visie wat ons vir ons huwelik het”.

2. Verduidelik ook vir jou man dat verskuilde emosies ’n groot las op énige verhouding plaas: Sy verhouding met jou, jul kinders en sy kollegas. Hanli van der Westhuizen, kliniese sielkundige van Pretoria beveel aan dat julle gesels wanneer albei rustig en ontspanne is. “Moenie emosionele dinge eerste ophaal nie. Mans reageer ook beter op ’n logiese, insig-georiënteerde appèl, eerder as ’n emosionele een.”

3. Moenie mekaar kritiseer of veroordeel nie, maan Bea. Wees empaties en oop. Respekteer mekaar, moenie jou hantering van emosies bokant syne stel nie. Hy sal seerkry en jy sal hom van jou vervreem.

4. Jy moet ook besef dis dalk vreemd vir hom om te voel en te luister sonder om die probleem te wil regmaak, sê Bea. Daarom moet jy geduldig wees en die saak sagkens benader. Jou man moet nou ’n nuwe “taal” aanleer.

5. Praat met deernis, empatie en liefde en gun hom ruimte om te groei en te ontwikkel. Hy sal begin toeslaan as dit klink of jy wil kla of derms uitryg.

6. Kies die tyd vir jul gesprek baie noukeurig, nie wanneer hy moeg van die werk af kom nie. Moet hom nie dwing nie. As hy ’n slegte dag gehad het, wil hy nie daaroor praat en die res van die aand ook versuur nie.

7. Neem in ag dat hy self nie altyd weet wat in sy binneste aangaan nie. Verseker hom van jou emosionele welstand en krag, want hy kan dalk bang wees hy maak jou seer wanneer hy oor sy emosies praat.

Moenie …

• hom emosioneel manipuleer nie. As jy vir hom sê jy vat sommer jou goed en loop as hy nie wil luister nie, sal hy onbemagtig voel en aanhou wegskram van emosionele kommunikasie.

• te veel eise stel nie. Hou dit by een versoek. Soos: “Ek kan sien jy voel vanaand ontsteld oor wat by die werk gebeur het. Dit sal lekker wees as jy net by my kom sit.” Begin eenvoudig, duidelik en realisties.

• hom laat skaam of vernederd voel nie. As jy lag wanneer jy sy trane sien, sal hy terugkruip in sy grot. Sê eerder: “Dis vir my so mooi as jy net so diep geraak word soos ek.”

• hom probeer verander (in bv. Dr. Phil!) nie. Moedig hom aan om binne die “grense” van sy persoonlikheid op te tree.

• beskuldig, name noem, beveel (“maak ’n slag jou mond oop, man!”), ondervra (“hoekom laat jy toe dat jou baas bo-oor jou loop, het jy geen respek vir jouself nie?”), beledig of intimideer nie.

• veralgemeen nie. Soos: “Jy praat/ luister nóóit na my nie.

Maak só

• Gebruik ek-boodskappe pleks van jy-boodskappe. Sê bv. “Ek voel afgeskeep as ek nie weet wat in jou binneste aangaan nie.”

• Beskryf duidelik wat jy wil sê sodat daar geen ruimte vir misverstand is nie.

• Neem verantwoordelikheid vir jou optrede. Moenie ou koeie ophaal nie, praat oor dit wat nóú pla. Fokus op die probleem, nie op jou man nie. Sê bv.: “Dis vir my so lekker as jy saampraat. Ek wil graag weet wat jy dink.” Eerder as: “Jy luister maar sleg.”

• Erken sy gevoelens en standpunte. Sê bv.: “Ek hoor wat jy sê en ek verstaan. Ek wil net iets byvoeg.” As hy wel met jou praat oor ’n onderwerp waarvan hy voorheen sou weggeskram het, gee hom krediet.

• Gee aandag aan jou liggaamstaal. Moenie oë rol of met jou voet tik nie.

• As jy voel jy word kwaad of ontsteld, praat later verder.

• Moenie jouself verdedig deur bv. te sê “nee, ek het nie!” of “ja, maar . . .” En moenie neul of jouself afsluit deur net stil te bly nie.

• As dit nie goed werk om jou man te probeer oorhaal om werklik met jou te kommunikeer nie, kan jy jou gevoelens in ’n brief uiteensit.

Bea waarsku ten slotte: “Moenie te vinnig oordeel nie. Moenie sy ongemak of onvermoë met onwilligheid of gemeenheid verwar nie.” Maar as hy geen insig toon en nie eens wil probeer nie, mors jy jou tyd. Jy kan nie ál die verantwoordelikheid vir kommunikasie op jou neem nie, dit is nie volhoubaar nie, reken Bea.