FOTO Olympics

FOTO Olympics

#SARIEsport

‘Le Clos’e huil nie…’

Ons harte bloei. Vanoggend het die Suid-Afrikaanse swemmer Chad le Clos ’n nederlaag in die swembad beleef. Nie net het Michael Phelps goud in die 200 m-vlinderslag verower nie, maar Chad het nie eens ’n medalje in dié veelbesproke tweestryd gewen nie.

Die internasionale media en gebruikers van sosiale media het nie geskroom om Chad te kruisig nie.

Sport is altyd onvoorspelbaar. Michael Phelps het geskiedenis gemaak deur sy 21ste goue medalje by ’n Olimpiese Spele  te wen, berig The Telegraph.

Ons is hartseer oor wat met Chad gebeur het, dis nooit lekker om te verloor nie. Máár ons is steeds trots op sy silwer medalje wat hy gister in die 200 m-vryslag gewen het!

Rio_SASpan_Social_Medal2

Ná Chad se nederlaag het sy pa, Bert, aan Sport24 gesê: “Le Clos’s huil net as ons wen. Ons huil nie as ons verloor nie en dis die punt.”

Maar Bert glo vas Chad sal weer in die swembad seëvier wanneer hy Donderdag aan die 100 m-vlinderslag deelneem. Michael swem ook in dié item.

Die voormalige Olimpiese swemmers Ryk Neethling en Roland Schoeman het hul ondersteuning op sosiale media gewys.

Daar’s uitdagings in Chad se persoonlike lewe wat ’n uitwerking op hom kan hê. Albei sy ouers, Bert en Geraldine, veg tans teen kanker.

“Dit is nie ’n maklike tyd vir my nie, maar ek oefen hard vir Rio. Meer as enigiets anders wil ek hê hulle moet hul battles wen. Ek hoop ook dat hulle in Rio sal wees,” het hy in ’n verklaring op sy webtuiste geskryf.

In SARIE se Junie 2013-uitgawe het Bert le Clos gepraat oor sy liefde vir sy seun, Chad.

Toe Chad le Clos sy rolmodel, Michael Phelps, in 2012 by die Olimpiese Spele geklop het, wou pa Bert bars van trots. Hul verhouding getuig van wedersydse respek en liefde vir mekaar.

FOTO: Sean Laurént

FOTO Sean Laurént

1. Wat was jou kosbaarste oomblik as pa?

Toe Chad goud by die Olimpiese Spele gewen het. Party ouers sal dalk jok en sê dit was hul kind se geboorte, maar as jou kind goud wen by die Olimpiese Spele … Ek is seker hulle sal saamstem.

2. Wat is die een eienskap van Chad wat jy graag sal wil hê?

Sy vasberadenheid. En sy looks, natuurlik!

3. Wat doen hy wat jou laat lag?

Die snaaksste is wanneer hy mense se aksente na-aap.

4. Wat was jou grootste verleentheid tot dusver as pa?

Toe Chad nog in die laerskool was en ek in die wedloop vir pa’s gehardloop het. Ek het gestruikel en op my vet maag geval!

5. En wat moes hy eerder nie by jou geërf het nie?

Ons albei eet heeltemal te veel!