FOTO: Leana Clunies-Ross

Hieroor praat mense

Leer ken 2014 se SARIE Voorbladgesig-finaliste beter

Elkeen het iets. Borrelende selfversekerdheid, ’n porselein-gelaat, innerlike krag. Maar dít het almal gemeen: styl, grasie en skoonheid. Ons het ons 10 finaliste afgeneem soos hulle op ’n SARIE-voorblad kán lyk.

Vandag ontmoet ons vir Charmlyn Carelse en Anéle Jansen van Rensburg. Môre leer ken ons nóg van die finaliste beter voordat ons Dinsdag, 9 September, aankondig wie die wenners is!

Onthou! Jy kan saam kuier wanneer ons die wenners bekend maak. SARIE, die finaliste, Bobby van Jaarsveld, Elma Smit, Charlize Berg én ons borge Revlon, Samsung, Clicks en spree gaan daar wees. Kry jou kaartjie hier: http://bit.ly/1nLANBH

CHARMLYN CARELSE

(24) REKENMEESTERSKLERK, KRAAIFONTEIN

FOTO: Leana Clunies-Ross

FOTO: Leana Clunies-Ross

Jy’s nie net mooi nie, maar ook ’n slimkop. Het jy hard geleer op skool?

Dit word mos van ’n dominee se dogter verwag! My pa, David, en my ma, Benesha, ’n onderwyseres, het hard gewerk om te sorg dat ek, my broer en suster bevoorreg kon grootword.

Wat dink jy van skoonheidskompetisies?

Ek was Mej. De Kuilen [hoërskool], Mej. Oktoberfees en Miss Cape Town RSA. Dit bou selfvertroue, maar klein dogtertjies behoort dit net vir pret te doen.

Lees jy koerante?

Ja, en ek hét gestem. As jy nie stem nie, kan jy nie ’n verskil maak nie.

Wat’s jou raad aan jongmense wat negatief oor hul toekoms is?

Dis nie waarvandaan jy kom nie, dis waarheen jy gaan. As daar nie geld is vir studies nie, leer hard vir ’n beurs of soek ekstra werk.

Wat maak jou kwaad?

Ek maak my skuldig aan padwoede.

Wat sal jy aan jouself wil verander?

Ek soek kuite!

Waar kom jou selfvertroue vandaan?

Ek het soveel mense in my lewe gehad wat my die goeie in myself laat raaksien het.

Wanneer is jy op jou gelukkigste? 

By my gesin, in my pajamas.

ANÈLE JANSEN VAN RENSBURG

(38) MEDIESE VERTEENWOORDIGER, CENTURION

FOTO: Leana Clunies-Ross

FOTO: Leana Clunies-Ross

Wat’s jou stokperdjies?

As ek nie met my seuns, Luan (6) en Divan (3), besig is nie, kyk ek Formule 1. Ek het saam met my man, Louw, begin kyk, nou’s dit mý passie. Ek het tot al vir Lewis Hamilton tydens ’n Formule 1-wedren in Aboe Dhabi ontmoet! My droom is om in ’n Formule 1-wedren te jaag.

Wat weet min mense van jou?

Ek is een van ’n tweeling. My broer is Willie. Ek’s nuuskierig en verslaaf aan sosiale media en het ook die Oscar Pistoriussaak 24/7 op Twitter gevolg.

Jou grootste lewensles?

Ons elektriese hek het ses jaar gelede ontspoor en op my en Luan geval. Ek het my rug gebreek, al my tande het uitgeval. Twaalf weke in die hospitaal het gevolg, ek was gestroop van my uiterlike skoonheid. Ek het nie gedink ek sou ooit weer kan loop nie. Dáár het ek besef: jou voorkoms bepaal nie wie jy is nie. Vandag het ek ’n baie positiewe uitkyk. Attitude is alles.

Jy’s ’n opgeleide skoonheidsterapeut.

Wat is jou top-grimeerwenke? Dra vogroom en sonskerm, en moenie met grimering gaan slaap nie.

Wat sal jy doen as jy wen?

My storie vertel. Dat mense kan sien die lewe is nie altyd so glamorous nie, maar ’n positiewe uitkyk is wat tel.

Môre ontmoet ons nóg van die finaliste voordat ons Dinsdag, 9 September, aankondig wie die wenners is!

Voorbladgesig

Onthou! Jy kan saam kuier wanneer ons die wenners bekend maak. SARIE, die finaliste, Bobby van Jaarsveld, Elma Smit, Charlize Berg én ons borge Revlon, Samsung, Clicks en spree gaan daar wees. Kry jou kaartjie hier: http://bit.ly/1nLANBH

Voorbladgesig