FOTO: Leana Clunies-Ross

Hieroor praat mense

Leer ken 2014 se SARIE Voorbladgesig-finaliste beter – finalis 3-5

Elkeen het iets. Borrelende selfversekerdheid, ’n porselein-gelaat, innerlike krag. Maar dít het almal gemeen: styl, grasie en skoonheid. Ons het ons 10 finaliste afgeneem soos hulle op ’n SARIE-voorblad kán lyk.

Vandag ontmoet ons vir Almarie du Preez, Anel Prinsloo en Monique Sutherland. Môre leer ken ons nóg van die finaliste beter voordat ons Dinsdag, 9 September, aankondig wie die wenners is!

Onthou! Jy kan saam kuier wanneer ons die wenners bekend maak. SARIE, die finaliste, Bobby van Jaarsveld, Elma Smit, Charlize Berg én ons borge Revlon, Samsung, Clicks en spree gaan daar wees. Kry jou kaartjie hier: http://bit.ly/1nLANBH

Kyk na finalis 1& 2 HIER

ALMARIE DU PREEZ

(36) SENDINGWERKER, PRETORIA

FOTO: Leana Clunies-Ross

FOTO: Leana Clunies-Ross

Jy’s ook aktrise, sangeres en radio-omroeper?

Ek’t al ’n CD opgeneem met die groep Straatligkinders, was al in Binnelanders en Generations, hoewel ek eintlik ’n gekwalifiseerde sielkundige is. My day job is om uitreike saam met die Moreletapark-gemeente te doen. Ek bied ook weekliks ’n radioprogram op Radio Kansel aan.

Hoekom het jy ingeskryf?

Ek’s ’n gróót SARIE-leser! Ek hou van die klassieke benadering van die wedstryd: dat skoonheid nie net op die uiterlike moet fokus nie, maar ook op wat jy uitstraal, waarvoor jy staan.

Dink jy jy’s mooi?

Ek het nie altyd so gedink nie. Soos jy ouer word, besef jy jy’t ’n verantwoordelikheid om jouself op te hou kritiseer en jou skoonheid uit te straal. Jy mág dink jy’s mooi.

Wie inspireer jou?

Die aktrise Audrey Hepburn. Sy was die toonbeeld van ’n klassieke, sterk vrou.

Enige guilty pleasures?

Sjokolade, rooiwyn en TV-reekse.

Wat maak jou kwaad?

Onregverdigheid.

Hoe laat grimering jou voel?

Grimering is meer van ’n gevoel as ’n skoonheidsproduk. Ek sien dit elke keer wanneer ’n vrou tydens ’n plakkerskampuitreik blom met ’n bietjie grimering aan.

ANEL PRINSLOO

(37) ONDERWYSERES, MALMESBURY

FOTO: Leana Clunies-Ross

FOTO: Leana Clunies-Ross

Was dit vir jou makliker of moeiliker om as ouer vrou in te skryf?

Makliker. Ek’s gemaklik in my vel, plooie en al!

Hoe beskryf jy jou styl?

Tomboy. Geen rokke of hakke.

Enige stokperdjies?

Ek’s ’n spinning-instrukteur. Ek ry ook graag fiets saam met my man, Wayne, en seuns, Juan (12), Niou (8) en Aron (3).

Jou grootste uitdaging nog?

Om uit ’n ongelukkige huwelik te breek en my twee oudstes alleen groot te maak. Maar ek’s ’n survivor. Ek is agt jaar gelede geskei en in 2010 met Wayne getroud. Ek wil vir vroue sê: Moenie in ’n moeilike huwelik bly nie, vir jouself én jou kinders.

Jy’s ’n graad 1-onderwyseres by ’n skool vir minderbevoorregtes. Wat leer jý?

Beter opvoeding in die grondslagfase is broodnodig. Ouers sukkel deesdae om hul kinders te help leer. Ek moet dikwels éérs die ouer opvoed. Kinders ken nie meer respek en dissipline nie. My werk is uitdagend én vervullend. My beloning is wanneer ek ’n graad-eentjie die eerste keer leer lees en skryf.

Waaraan moet jy werk?

My kort humeur.

Hoe ken jou vriende jou?

Ek’s ’n bok vir sports!

MONIQUE SUTHERLAND

(21) SALARISBEAMPTE, WESTONARIA

FOTO: Leana Clunies-Ross

FOTO: Leana Clunies-Ross

Hoekom het jy ingeskryf?

Ek wou voel ek bereik iets in my lewe.

Wat sal jy doen as jy wen?

Vir myself ’n karretjie koop. Jongmense met my storie inspireer.

Baie jongmense het, soos jy, nie geld vir studies nie. Wat’s jou raad?

Jy moet werk vir wat jy wil hê. Ek het myself opgewerk in ’n loopbaan. Ek’s nie skaam om te sê ek’t swaar grootgeword nie. My biologiese pa het my ma, Karin, en ons gelos toe ek twee was, ek wil hom nie ken nie. Ma is twee keer geskei, toe ek 10 en in matriek was. Ek was in ses verskillende skole. Maar ek fokus op die positiewe. My twee pa’s, Thys Sutherland en Joe Serfontein, is lief vir my!

Wat maak ’n suksesvolle SARIE-voorbladgesig?

SARIE is vir my soos my ma se huis. Gemaklik, bied altyd goeie raad en goed waarvan ek hou. Die voorbladgesig moet só wees: natuurlik, innemend, aanloklik en jou tuis laat voel.

Wat laat jou vir jouself lag?

Ek brei my eie serpe!

Wanneer is jy op jou gelukkigste?

Saam met my kêrel, Kelvin Brits (24). Hy’t my die afgelope vyf jaar deur swaar tye gedra.

Hoekom dink baie vroue hulle is nie mooi nie?

Ons word nie genoeg gewaardeer of gekomplimenteer nie.

Beskryf jouself?

Opgewonde oor die lewe.

Môre ontmoet ons nóg van die finaliste voordat ons Dinsdag, 9 September, aankondig wie die wenners is!

Kyk na finalis 1& 2 HIER

Voorbladgesig

Onthou! Jy kan saam kuier wanneer ons die wenners bekend maak. SARIE, die finaliste, Bobby van Jaarsveld, Elma Smit, Charlize Berg én ons borge Revlon, Samsung, Clicks en spree gaan daar wees. Kry jou kaartjie hier: http://bit.ly/1nLANBH

Voorbladgesig