Hallie en CJ FOTO: Facebook via BBC

Hieroor praat mense

Ma vra vreemdelinge om seun se as te strooi

Die Amerikaanse ma Hallie Twomey vra vreemdelinge om haar seun se as oor die hele wêreld te strooi – op dié manier ‘sien’ hy wêrelddele wat hy nie in sy 20 jaar kon sien nie. En dié veldtog maak nou groot opslae op die internet. 

Van Antarktika tot Zimbabwe en selfs in Suid-Afrika – mense van oraloor vra vir Hallie om ’n bietjie van haar oorlede seun, CJ, se as te stuur sodat hulle dit op interessante plekke kan strooi.

Hallie het verlede jaar in November gekyk na die houer met die as van haar seun, wat in 2010 gesterf het, en besef dat dit vir altyd net daar gaan sit. Sy vertel aan die BBC: “Hy het nie die kans gekry om die wêreld te sien nie en ek wou vir CJ iets gee waarvoor hy nie kans gehad het nie.”

Hallie het toe ’n Facebook-blad opgestel. Aan die begin was die belangstelling maar min, maar vinnig het dié nuus versprei en meer as 9 000 mense het al hul hulp aangebied. Nóú het haar versoek so vinnig oor die internet versprei dat daar nie meer genoeg as oor is om vir almal te gee nie.

Sy kies plekke waar CJ se as nog nie voorheen gestrooi is nie. In Suid-Afrika is van CJ se as al 4 keer gestrooi: by Kaappunt, Boulders-strand naby Simonstad, Tafelberg en by die Sabi Sand-reservaat naby die Krugerwildtuin.

Wanneer sy ’n vreemdeling se aanbod aanvaar, stuur sy vir hulle ’n bietjie as en ’n foto van CJ. Diegene wat die as strooi, word gevra om dit af te neem en op die Facebook-blad te plaas.

En waarom doen Hallie dit? “As sy ma is dit my grootste vrees dat CJ vergeet word.” En met meer as 20 000 mense wat die veldtog op Facebook ondersteun en die foto’s wat op die internet versprei, leef hy voort.

Hier is van die foto’s waar CJ se as gestrooi word:

FOTO: Facebook  Scattering CJ

FOTO: Facebook Scattering CJ

FOTO: Facebook  Scattering CJ

FOTO: Facebook Scattering CJ

Bron: BBC