Hieroor praat mense

Mamma ek wil ’n man hê

Jy het ’n suksesvolle loopbaan, is finansieel onafhanklik, het wonderlike vriende, jou lewe is agtermekaar. Tog voel jy nie heel nie, want iets kom kort, daar’s ’n gemis. Jy het nie ’n man nie. Of jy 30 of 70 is, jy is een van talle vroue wat onvervuld voel sonder ’n “ander helfte”.

 

Ek sal selfs my werk vir die regte man opgee – Suna de Wet*, kopieskrywer

Suna de Wet*, ’n aantreklike 42-jarige kopieskrywer van Johannesburg, sê sy smag so na ’n sielsgenoot, ’n man. “Hy moet my angswekkende alleenheid kom wegneem sodat ek nie soms so depressief raak dat ek ineenstort nie,” sê sy. “Ek sal selfs my werk vir die regte man opgee.” Al het sy ’n groot familie en baie vriende gaan sy saans alleen huis toe. “Dan het ek niemand wat agter my rug inskuif of my vashou nie. Ek is stoksielalleen … Dis asof ek nog nie ’n holte vir my liggaam of siel gevind het nie. Mense dink ook daar is iets verkeerd met my omdat ek nog nie getroud is nie.” Daarom wonder sy: “Is ek te kinderagtig? Is ek nie slim of mooi genoeg nie?” En voel dan minderwaardig.

As jy so kyk en luister, soek baie vroue soos Suna ’n man. Selfs ouer vroue. Gloria Steinman, bekende Amerikaanse feminis, het op 66 getrou. Dit nadat sy eers gesê het die huwelik is ’n “instelling wat verhoudings vernietig” (CNN.com). Internet-afspraakdienste floreer. Een van die bekendstes, www.love2meet.co.za, het volgens Rapport (14 September 2007) 460 000 SA lede, terwyl Dating Buzz volgens Mail & Guardian (18 Februarie 2008) 140 000 het. Dis maar twee uit honderde wat gewoonlik ewe veel vroulike as manlike lede het. Soms selfs meer manlikes! Want mans wil net so graag ’n maat hê – vir kameraadskap, seks en soms ook vir trou. (Dié met ’n mislukte huwelik of twee agter die rug is egter versigtiger vir die huweliksklokkies, sê kenners.)

In Londen is daar net so baie enkelvroue, vertel Anne Chamberlain (34), ’n onderwyseres aan ’n Londense private skool. Maar, anders as hier, kan jy maar openlik erken jy soek maat. Dié Suid-Afrikaner sê sy het al “als” probeer om die regte man te ontmoet – van aandklasse in Italiaans, wynproe en wat nog, tot by internetaanlyndienste. Maar vergeefs. “Ek voel onvoltooid. Ek vou steeds alleen sokkies op en lees alleen koerant.”

 

Die meeste vroue het ’n diep onderliggende behoefte aan ’n lewensmaat – Louise Olivier, sielkundige

 

 

Maar ’n vrou soek sekerlik nie so koorsagtig man net sodat hy kan toekyk hoe sy sokkies vou nie? Karina Burger, lewensafrigter van Kaapstad, gee die skuld aan “ons ma’s wat ons laat glo het jy het as dogter gefaal as jy nie ’n man kan kry nie”. Jy ervaar dit dus as ’n persoonlike mislukking as jy ongetroud bly. Maar dis méér as dit. Dr. Louise Olivier, kliniese en forensiese sielkundige van Pretoria, sê die meeste vroue het “’n diep onderliggende behoefte, meer psigies as biologies, aan ’n lewensmaat”. Veral ’n sielsgenoot. Maar onthou ook dat geluk allereers van binne kom, sê sy.

 

’n Enkelouer wil heel waarskynlik ’n pa vir haar kinders en finansiële ondersteuning hê. Daar’s ook druk om deel van die getroude groep te word en om te bewys daar’s nie “fout” met jou nie. “Die samelewing definieer mense in paartjies,” sê prof. Amanda Gouws van die departement politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch. Sy’s ’n bekende feminis.

 

Dr. Marlize Rabe, sosioloog aan Unisa, haal die Amerikaanse term marriage envy aan en sê die huwelik word gesien as iets eksklusiefs en gesogs – dis nie almal beskore nie. Feit is: Vroue sukkel om die regte man te vind. Hoekom? Hoe ouer jy raak, hoe minder gaan jy dalk uit na plekke waar jy mans kan ontmoet, sê Suna. Ouer mans soek gewoonlik ook jonger vroue, terwyl vroue nie so maklik met ’n jonger man trou nie, sê Amanda. Vroue het dus minder opsies. Dit terwyl ouer mans dikwels bagasie het, soos ’n moeilike eks of kinders.

 

Louise sê baie SA mans voel boonop bedreig deur suksesvolle vroue, al sê hulle hulle verkies ’n dinamiese vrou. Soms is dit deur ’n vrou se eie toedoen dat sy nie ’n maat kry nie.

 

Ná haar egskeiding was Moira Odendaal (40-plus), ’n Kaapse sake-ontwikkelingsbestuurder, lank enkellopend. Al was sy suksesvol en finansieel onafhanklik, het sy geborgenheid, seks en “iemand wat goeters kon regmaak” gemis. Boonop was sy moeg daarvan om ’n metgesel vir werkgesellighede te soek. Mans wat deur vriende voorgestel is, het nie al haar waardes gedeel nie. Toe skep haar suster en ’n vriendin vir die grap vir haar ’n internetprofiel. “Mense jok oor die internet, selfs oor hul haarkleur of huwelikstatus,” vertel Moira. Soos die getroude wat gesê het hy slaap reeds op die bank, terwyl sy vrou nog van niks weet nie. Maar toe sien sy ’n brief raak, “so anders as die what-are-you-wearing-tipe”. Die man het vertel van sy plaaslewe, sy hond, visvang. En toe sy weer sien, sit sy op die plaasstoep “waar biltong nog aan die wasgoedlyn hang”. Hulle is al vier jaar gelukkig getroud.

 

Op die oog af het Edith Venter, eienaar van ’n Johannesburgse promosiemaatskappy, alles waarvoor ’n vrou kan vra: sukses, geld, kinders. Hoekom dan vir ’n derde keer (in Junie vanjaar) trou? Dié keer met die veel jonger Johnny Schwartz, ’n finansiële adviseur. Hulle het ewe romanties in swaar verkeer ontmoet nadat hy sy kep in haar motor gegooi het om haar aandag te trek. Voor sy hom ontmoet het, het ouer mans “weens ’n gebrek aan selfvertroue” weggeskram oor sy ’n bekende, professionele vrou is, vertel Edith. “Maar jonger mans hét selfvertroue. “Ek sal nooit trou net oor ek nie alleen wil oud word nie,” sê sy. Veral Johnny wil trou, want hy sê dit gaan oor die commitment. Sy vertrou Johnny en dis belangrik, “want daar is mans wat net in jou status of geld kan belangstel”. Hulle geniet ook mekaar se geselskap en kommunikeer behoorlik.

 

Sarah Theron, Baby in Egoli en sanger van onder meer “Mamma, ’k wil ’n man hê”, geniet haar enkelstatus van amper ’n dekade. “My dogtertjie (10) beïnvloed natuurlik my keuses,” sê sy. “Ek reageer byna nooit op uitnodigings van beskikbare of onbeskikbare mans nie, maar elke nou en dan word ek tog uitgeboul deur iemand so spesiaal en bewonderenswaardig dat ek van hierdie voorneme van my vergeet. Dan is dit ’n natuurlike ding wat sy gang moet gaan. “Ek hoop vir iemand wat dit so geniet om naby my te wees dat hy ’n repeat offender sal word. Maar ek weet nie van trou nie, dalk kan die man eerder net langs my woon en my buurman word! Hy kan jonger of ouer wees as ek. Solank hy reg is vir my.” Tot dusver kon sy hom nog nie vind nie.

 

Anne Chamberlain meen vroue is dikwels sku om hulself aan ’n man te verbind, want onbewustelik is hulle bang dit beperk hulle en dat hulle loopbaan- en ander geleenthede sal misloop.

 

Dis maar weirdos wat op die internet uithang – Mynie Grové

 

 

 

Vir die sangeres Mynie Grové het aanlyndienste nie gewerk nie. “Want dis maar weirdos wat daar uithang,” sê sy. Ná haar sielsgenoot Chipi van der Merwe se dood agttien jaar gelede kon sy nog nie weer blywende liefdesgeluk vind nie. Om enkel te wees het voordele, sê sy. Maar sy sou graag haar significant other wou ontmoet. “Ek brand ook om iemand te hê om my verantwoordelikhede, soos dié van ouer-wees te deel.” Sy het twee seuns, albei reeds uit die skool. Sy glo nou jy ontmoet die regte man op die regte tyd as jy daarna vra. “Jy span positiewe denke in, bid, mediteer of brand kersies … wat ook al. Jy kan hom selfs ontmoet as hy per ongeluk aan jou deur kom klop,” sê sy. Maar alleen wil sy nie oud word nie. “Dan sal ek eerder ’n kommune vir ouer mense begin!”

* Skuilnaam

* Bykomende navorsing: Marguerite van Wyk

Volgens statistieke . . .

. . .  was sowat 21% van 35- tot 64-jarige vroue in 2005 steeds ongetroud. Daarby is 6,8% geskei en 11,6% in dié ouderdomsgroep was weduwees.

(Bron: Statistiek SA)

 

 

 

 

Soek hom hier, soek hom daar

Tegnologie maak dit deesdae makliker om maat te soek. Of nie?

Internet-aanlyndienste met hul duisende profiele en foto’s van potensiële maats is besonder gewild. In SA is daar selfs webwerwe wat volgens geloof, seksuele oortuiging en MIV-status (www.thepositiveconnection.co.za) ingedeel is. Amerika het ’n diens, ScientificMatch.com, wat paartjies bymekaar bring deur hul DNS te ontleed! skryf Rapport (19 Januarie vanjaar). Aanlyndienste kan jou tyd en moeite bespaar. Jy vind makliker iemand wat jou belangstellings deel (mits hy die waarheid praat!). Dis ook minder bedreigend as uitgaan en jy kan hom makliker “afsê”. Maar pasop vir die internet, waarsku dr. Louise Olivier, kliniese en forensiese sielkundige. Misdadigers, getroude mans, uitbuiters en mense “met sielkundige hang-ups, wat eers later na vore kom”, gebruik dit ook. Moet aanvanklik nie jou huisadres uitgee nie. Kommunikeer eers vir lank en ontmoet dan die man in ’n openbare plek. As hy sekere kritiese besonderhede weerhou, moet die gevaarligte flikker.

Afspraakdienste soos Perfect Strangers (www.perfectstrangers.co.za) of The Right Company (www.therightcompany.co.za) is meer persoonlik. Hul lede – professionele of sakemense wat nie tyd het om ander mense elders te ontmoet nie – word persoonlik gekeur. Marilyn Welch, bestuurder van Perfect Strangers in Pretoria, reël weekliks sowat 80 ontmoetings. Haar lede is ewe veel mans en vroue, meestal tussen 30 en 40. “My taak is om vir elkeen ’n sielsgenoot te vind,” sê sy. En daar was al verskeie troues! Michele Forder, eienaar van The Right Company, Johannesburg, sê haar kliënte is meestal vroue (37 tot 55), want gewone aanlyndienste bied vir mans groter verskeidenheid. Daar’s baie troues, onder meer een tussen ’n paartjie wat vir dieselfde maatskappy gewerk maar mekaar nie geken het nie.

Spoed-afsprake soos Smartdate (www.smartdate.co.za) of Fastdate (www.fastdate.co.za) is eweneens gewild. Jy kry ’n vasgestelde tyd om verskillende mans een-een van aangesig tot aangesig te ontmoet.

’n Kitsboodskapdiens (instant messenger) is ’n program wat deel is van bv. Windows of Apple. Jy gebruik dit om via die internet tot kletskamers toegang te kry en ontvang boodskappe regstreeks op jou rekenaar. Windows Live het al sowat 300 000 SA gebruikers, die helfte vir liefde (Die Burger, 27 Februarie 2008).

Party gebruik SMS-dienste. Soms ontvang jy selfs potensiële maats se foto’s, soos by join@ratendate.co.za.

Nog ’n opsie is stem-ontmoetings (voice dating). Jy registreer en laat ’n boodskap waarin jy sê in watter soort man jy belangstel. Mans wat daarna luister wanneer hulle inbel, kan jou dan terugskakel. Daar is ook webwerwe wat jou stemboodskappe op skrif op die internet plaas, soos The Hitching Post (www.gmax.co.za) en X-Files (www.x-files.co.za). Of by sommige dienste kan jy ook die stemboodskappe per SMS lees en dan kies.

In New York, Londen en Parys is “donker” partytjies glo die in-ding. Jy eet saam met ander in die donker en gesels dalk heerlik met iemand. Wanneer die ligte aangaan, vergeef jy hom dalk as hy nie soos Brad Pitt lyk nie!

Tydskrif-rubrieke soos Landbouweekblad se Opsitkers is steeds gewild. Aletta de Vos, wat dit bestuur, sê mans en vroue van alle ouderdomme soek geselskap omdat hulle eensaam is. ’n Oud-redaksielid van Huisgenoot, Hetitia McGregor (nou van Tonder), het haar boer só ontmoet. Hulle is vandag albei afgetree en steeds bymekaar.

Die tradisionele manier om iemand te ontmoet bly die veiligste, soos om aan ’n belangstellingsklub (vir bv. fotografie, stap of dierebeskerming) te behoort, sê Louise Olivier. Jy ontmoet jóú soort mense en kan die man eers “uitkyk”. As jy hou van lees, gaan lees in die biblioteek of boekwinkel. (Boekbesprekings oor romantiese boeke is glo baie gewild in België, skryf Beeld op 24 Februarie 2006.) Die kenners sê gesels met ander in gewone situasies: soos by ’n fliek of in ’n winkel. Moenie desperaat lyk nie, dit sit mans erg af. Moet ook nie jou werk opgee vir ’n man nie. Jy moet vervuld wees en liefs finansieel onafhanklik bly. En as jy nog steeds sukkel om jou sielsgenoot te vind, kyk anders na die situasie. Jy is ’n volledige prentjie. Ontdek jou eie separateness. Maak jou eie planne en laat jou drome waar word. Dan sal die man wat jou werd is, jou raaksien en gereed wees vir togetherness, sê Karina. Of nie. “Die vrou wat haar sielsgenoot vind, is eenvoudig gelukkig. Dis nie vir almal beskore nie!” sê sy.