FOTO Instagram/ @Maria Sharapova

FOTO Instagram/ @Maria Sharapova

Hieroor praat mense

Maria Sharapova baklei terug

Die vyfmalige Grand Slam-kampioen Maria Sharapova is Woensdag vir twee jaar deur die Internasionale Tennisfederasie geskors.

Sy het op 29 Januarie vanjaar positief getoets vir meldonium. Sy gebruik die middel al vir 10 jaar en dis eers in Januarie vanjaar by die lys van verbode middels gevoeg.

Maar Maria gaan nie lê nie. Inteendeel, sy gaan teen die besluit appelleer. Sy het op sosiale media geskryf:

 “Ek kan nie ’n onregverdige skorsing aanvaar nie.”

- Maria Sharapova

Maria het op 7 Maart self ’n perskonferensie in Los Angeles in die VSA gehou, waar sy erken het dat sy ’n opkikkertoets gedruip het.

Volgens Maria was sy onbewus daarvan en het sy glad nie na dié gelys gekyk toe die wêreldagentskap teen verbode middels in sport dit uitgestuur het nie. Sy het in 2006 om gesondheidsredes meldonium begin gebruik omdat sy dikwels ’n tekort aan magnesium gehad het.

Kort ná Maria se perskonferensie het haar borge – Nike, Tag Heuer en Porsche – haar soos ’n warm patat gelos.

Een van haar hoofborge, Nike, het intussen sy deuntjie verander en staan nou agter Maria, ten spyte van die nuutste beslissing, berig CNN Money.

Embed from Getty Images

Maria is een van die hoogs betaalde vroue-atlete en het verlede jaar $30 miljoen verdien.

Forbes het gister hul lys van hoogs betaalde atlete bekend gemaak. Die Portugese sokkerspeler Cristiano Ronaldo is nommer 1. Maar die eerste vrou wat op dié lys verskyn, is die tennislegende Serena Williams, op nommer 40. Maria het ook die lys gehaal, maar sy is nommer 88.

Hanteer borge hul manlike sportsterre anders?

Oscar Pistorius
Toe die lemnaeler op Valentynsdag in 2013 sy meisie, Reeva Steenkamp, agter ’n geslote badkamerdeur in sy Pretoria-huis doodgeskiet het, het sy borge aanvanklik by hom gestaan. Eers 6 dae later het Oakley, Nike en die skoonheidshuis Thierry Mugler vir Oscar gelos.

Tiger Woods
Selfs met gerugte dat Tiger ’n buite-egtelike verhouding in 2009 gehad het, het Tiger se borge hom nie verlaat nie. Toe Tiger ’n maand later aankondig dat hy ’n blaaskans van sport gaan vat, het sy borge Gillette, Accenture, AT&T, Gatorade en Tag Heuer hom in die pad gesteek.

 

Michael Phelps
Die Olimpiese superster-swemmer is in 2008 uitgevang dat hy dagga by ’n partytjie gerook het. Net Kellogg’s het besluit om nie Michael se kontrak te hernu nie. Speedo, Visa, Omega horlosies en Subway het almal by hom gestaan.

Bronne: Forbes, BBC News, The Telegraph

Lees nou

“Ek het ’n klein prys betaal vir dié voorreg”, sê Riette Rust oor haar nuwe boek.

Internasionale Vrouedag: Waar is óns emoji’s?

Adele: die rok waaroor die wêreld praat!