FOTO NASA

FOTO NASA

Hieroor praat mense

Mars en Aarde naaste aan mekaar in 11 jaar

Vanaand om 22:35 sal Mars en die aarde baie knus raak met mekaar. Die rooi planeet is dan “net” 75 miljoen km ver weg, die naaste wat dit in 11 jaar aan ons was. 

Die gemiddelde afstand is gewoontlik 225 miljoen km. Maar Mars sal nie vanaand groter as die maan wees nie, want die maan is ’n skrale 384 000 km “naby” ons.

Volgens die Suid-Afrikaanse Astronomiese Sterrewag (SAAO) kon Mars al vir die afgelope paar weke met die blote oog gesien word. Net ná sonsondergang is daar drie sterre op die horison in die ooste. En die een wat die rooiste is, is Mars. Ná vanaand sal dit vir nog ’n paar weke gesien kan word.

3 interessante feite oor Mars

1. ’n Jaar op Mars is 687 dae lank.

2. ’n Dag op Mars is 24 uur 37 minute.

3. Mars is kleiner as die aarde. En daar’s selfs tekens van water.

Vir meer inligting oor Mars, besoek NASA se amptelik webtuiste.

Mars – hier kom ons!

Daar word ook nou wêreldwyd na 24 mense gesoek wat die eerste bewoners van Mars sal wees. Die Suid-Afrikaanse kwantumfisikus dr. Adriana Marais is een van diegene wat haar hand opgesteek het vir dié groot taak.

“As klein dogtertjie het ek al daarvan gedroom om ruimtevaarder te word, so hierdie is regtig ’n droom wat waar word. Die onbekende en nuwe idees fassineer my nog altyd.”

Adriana – blond, beeldskoon, briljant en ’n deeltydse dosent aan die Universiteit van KwaZulu-Natal – was in 2015 een van 15 vroue wêreldwyd wat deur die skoonheidshuis L’Oréal met sy internasionale L’Oréal-UNESCO-toekenning vir vroue in die wetenskap vereer is.

FOTO: Stephane Cardinale/People Avenue

FOTO Stephane Cardinale/People Avenue

Sy voel geëerd dat L’Oréal en UNESCO haar vir haar navorsing oor kwantumfisika vereer het. Adriana is boonop deur na die derde ronde van die wêreldwye Mars One-projek. Sy moet nog in twee rondes sukses behaal om uiteindelik as een van die finale 24 mense gekies te word wat in 2026 na die Rooi Planeet sal verhuis om hulle daar te gaan vestig.

“As klein dogtertjie het ek al daarvan gedroom om ruimtevaarder te word, so hierdie is regtig ’n droom wat waar word. Die onbekende en nuwe idees fassineer my nog altyd.”

- Dié uittreksel kom uit die November 2015-uitgawe van SARIE.

Besoek Adriana se amptelike webtuiste oor haar moontlike reis na Mars.