June Steenkamp tydens die hofverrigtinge vroeër vanjaar
FOTO: Gallo Images / Reuters

June Steenkamp tydens die hofverrigtinge vroeër vanjaar FOTO: Gallo Images / Reuters

Hieroor praat mense

Die Oscar-saak sit fokus op dié vroue

Die Oscar-saak sit fokus op dié vroue: Reeva Steenkamp, Oscar se suster Aimée, regter Thokozile Matilda Masipa, Reeva se vriendin Gina Myers én Reeva se ma June Steenkamp.

Vandag kyk ons na June Steenkamp.

Reeva se ma, June Steenkamp, woon die verhoor by sodat sy afsluiting kan kry. “Dis nie  net vir my nie. Dis vir ons en vir Reeva, maar dit sal ons pragtige baba nie terugbring nie.”

In ’n mediaverklaring, uitgereik met die herdenking van haar dood, sê die Steenkamps hulle wil net “weet ons dogter het nie gely op daardie tragiese Valentynsdag nie”.

FOTO: Gallo Images / Reuters

June in die hof FOTO: Gallo Images / Reuters

June het toe ook aangekondig sy en Barry, haar man en Reeva se pa, wil ná afloop van die saak ’n stigting begin wat hulp verleen aan mishandelde vroue en kinders. Reeva het self dikwels genoem sy wil eendag ’n trust of instansie stig wat na mishandelde vroue en kinders omsien.

“Ons verstaan en het empatie met ander wat ’n kind of geliefde deur geweld of mishandeling verloor het,” het June in die verklaring gesê.

Die Steenkamps bestuur deesdae ’n restaurant,The Barking Spider, in Groenbossies buite Port Elizabeth. ’n Gesinsvriend is in die media aangehaal waar hy die gemeenskap as rustig en stil beskryf, “geken aan sy lae misdaadsyfer”, een waar die Steenkamps “vrede kan vind”.

In ’n onderhoud met ’n plaaslike koerant op 13 Februarie vanjaar het June emosioneel vertel: “Dis sleg, sleg, sleg en niks sal dit verander nie. Onder die omstandighede is ons nie oukei nie. Niks sal ons heelmaak nie. Niks sal ooit dieselfde wees nie. Niks wat ons sê of doen, sal ’n verskil maak nie. Kan jy jou indink hoe erg dit is? Kan jy jou indink om elke oggend wakker te word met die wete dat jy nooit weer jou dogter se stem sal hoor nie, nooit haar glimlag gaan sien, of haar hoor lag of haar kan vashou as sy huil nie? Kan jy jou indink iemand verdwyn net so, vir altyd? Om nooit te kon groet nie …”

Bronne: Dispatchonline.co.za; Theguardian.com; Mg.co.za; Timeslive.co.za

*Dít is deel van ’n groter artikel, “Oscar-saak sit fokus op dié vroue” wat in die April-uitgawe van SARIE verskyn het.