Hieroor praat mense

Michélle skryf: “Ons glo in sáám”

Vinnig, onmiddellik, oombliklik, nóú. Dis hoe ons lewe vandag. Dit het ons taal geword; ons manier van doen. Die wêreld tol met al die veranderinge, en ons spin vir ’n vale saam. Dis opwindend en uitdagend, maar liewe land, ook oorweldigend.

Daar’s skaars kans om ordentlik te dínk. Min geleentheid om net ’n oomblik terug te staan en te besin oor dinge wat oornag verander en die impak daarvan op ons lewe. Tendensvoorspellers soos die internasionaal bekende Li Edelkoort, wat SA gereeld besoek, maak dit haar besigheid om wêreldgebeure en -neigings in perspektief te plaas. Met al haar praatjies deur die jare het ek tot dié slotsom gekom: Ons dink maar ons word soos slagoffers deur die veranderinge van ons tyd meegesleur, maar dis allesbehalwe waar.

Ons maak wel sin van ons veranderende wêreld – dikwels onbewustelik en onderbewustelik. Wat ons voel en hoe ons dink, wys in elke nuwe modegier wat ons dra, in al die in-kleure vir die seisoen, in die dekor van ons huise, wat ons eet en hoe ons kuier, selfs in die kleur van ons lipstiffie en die parfuum wat ons kies. Só skep ons saam met mense die wêreld oor vir onsself weer orde en lewer ons deur ons leefwyse kommentaar op gebeure. Met ander woorde, ons vind self die pad vorentoe.

Vir jare was die gesamentlike boodskap dat elk van ons ’n waardevolle bydrae het om te maak. Elkeen van ons het  ’n stem. Dit het ons gesien – hoe individue dit regkry om ’n ware verskil op vele terreine van die lewe te maak. Nou sê 
Li Edelkoort nuwe tendense wys die era van die individu is besig om sy glans 
te verloor. Saamwerk sal vorentoe die wekwoord wees.

Is ons verbaas? Vir seker nie. Kyk net hoe Facebook ons – miljoene mense oor die planeet wat dag vir dag hul lewens met mekaar deel. Die Oprah-verskynsel: al daardie geselsprogramme waardeur ons deur ander se verhale dikwels insig in ons eie kry. Geselsradio, waar verskillende menings gedeel word om uiteindelik ons eie te help vorm.

In talle van my gesprekke onlangs met jong mense oor die dinge wat hulle wil en nie wil nie, het hulle dit duidelik uitgespel: Ons glo in sáám. Ons is beter en sterker wanneer ons saamwerk. En hoekom nie? Dit verminder glad nie die waarde van die enkeling nie; dis net twee koppe was nog altyd beter as een.

So, verwag spanwerk. Dat ons pasmaats sal wees, soos swart en wit, twee wat tango, vinkel en koljander. Li Edelkoort sê op die modefront sal the shirt and the skirt en die twinset die kollig steel van die individualistiese rok. Brood sal op ons tafel wees, ’n teken dat ons al meer sáám “brood sal breek”.  

Duidelik hét ons ons oorlewingsplan teen al die veranderinge in plek. Li Edelkoort het net ons eie boodskap aan ons kom oordra.

* Die Mei-uitgawe is vanaf Maandag 16 April te kry.